Oorlewingsgids vir ’n prinses
Beskikbaar by Lapa Uitgewers
Beskikbaar by Lapa Uitgewers

Deur Federica Magrin. Illustrasies: Laura Brenlla. Vertaal deur Cecilia Steyn. (Lapa, R200)

’n Meisie moet weet hoe om te oorleef – om mooi en ryk te wees is nie genoeg nie.

So sê Vonkel die Fee, ’n towertante wat lánk, lánk gelede in ’n wit-en-pienk blomkelk gebore is en haar sertifikaat in towertantery eers ná ’n baie lang opleiding verwerf het.

Sy sê die les uit die verhaal van Sneeuwitjie is dat mooiwees glad nie so wonderlik is nie, veral as daar byvoorbeeld ’n bose koningin op die toneel is. Ook dat ’n meisie altyd kan baat vind by helpers – sewe behoort net mooi die ding te doen.

En sy moet nooit vergeet dat oumas goeie raad gee nie.

View this post on Instagram

A post shared by Laura Brenlla (@mlaura.art)

Die meerminnetjie se ouma het gesê sy moet agt groot oesters aan haar stert vasmaak sodat sy na die wateroppervlak kon gaan. Toe sy kla dit maak haar seer, uiter Ouma hierdie weergalose wysheid: “Sonder pyn en harde werk kom ’n mens nêrens.”

Prinse daag altyd aan die einde van die storie op en kry dan al die krediet, maar soek eerder ’n prins soos Thakane s’n:

  • Masilo help die prinses omdat hy beïndruk is met haar dapperheid.
  • Hoe sy lyk, is beslis nie vir hom so belangrik nie.
  • Hy vergesel haar op haar reis en bly heeltyd aan haar sy.

Meisies moet ook weet hulle trou nie altyd in ’n goeie familie in nie: “Baie prinsesse word groot sonder liefde­volle ouers of oppassers. Daar is Sneeuwitjie byvoorbeeld. Sy moes ’n paleis deel met ’n genadelose heks. Raponsie is vir jare in ’n vervelige toring opgesluit.

“Maar die prys vir die slegste familie in Sprokiesland gaan aan Aspoestertjie se stiefma en stiefsusters. Hulle is wreed en trots daarop!”

  • Daar het jy dit. Trek dus jou wapenrusting aan, Prinses, en leer sommer van kleindag af om jou nie te laat rol deur prinse en hul mammies nie.
Moenie met ’n prinses mors nie
Beskikbaar by Human & Rosseau
Beskikbaar by Human & Rosseau

Deur Rachel Valentine. Illustrasies: Rebecca Bagley. Afrikaans deur Kobus ­Geldenhuys. (Human & Rousseau, R145)

Wanneer ’n mens Don’t Mess with a Princess (die oorspronklike titel van die boek) intik op soek na ’n onderhoud met Rachel Valentine, gee Google vir jou die verkeerde prinses. ’n Mens kan dit seker verstaan, want met watter ander prinses is daar meer gemors as Diana, prinse William en Harry se jonk gestorwe ma?

Blom, Blaar en Bloeisel sou korte mette gemaak het met die paparazzi en die geelpers. Toe daar op ’n dag nuus kom van ’n trol wat verwoesting saai, word hulle na die kasteel se toring gestuur om te gaan kwilt terwyl die dapper ridders weggalop om dapper dade te gaan pleeg.

Kort voor lank moet ridder Snolbol voet in die wind slaan voor die befoeterde betowerde woud wat sommer ’n swaard uit ’n man se hand klap. Ridders Bibberboud en Bosbaard vlug gillend voor ’n spul spinnekoppe . . . en toe is die toneel wyd oop vir drie onverskrokke prinsesse.

  • Kortliks: Toe hulle eindelik ná baie avonture die trol boei, blyk dit hy het sy bril verloor en dis dus per ongeluk dat hy hele dorpies plattrap. Die prinsesse kom tot sy redding en almal het lank en gelukkig saam gelewe.

Plakker- en flapboeke

Prinsesse: My eerste plakkerboek
Beskikbaar by NB Uitgewers
Beskikbaar by NB Uitgewers

Human & Rousseau, R125

Groot herbruikbare plakkers kan geplak word om meer lewe aan ’n toneel te gee. Daar is byvoorbeeld ’n dubbelblad met ’n toneel van ’n dans in ’n balsaal waar die kleintjie nog ander paartjies op die bladsye kan plak, of ’n toneel waar die prinses skoenlappers sit en teken en ’n mens nog veelkleurige skoenlappers op die blad kan plak. (Die prinses in dié boek is van die tradisionele soort wat vermoedelik wag op haar ridder op die wit perd.)

My heel eerste plakkerboek
Beskikbaar by NB Uitgewers
Beskikbaar by NB Uitgewers

Human & Rousseau, R70 elk

Met dié twee boeke word kleintjies gehelp om met die hulp van herbruikbare plakkertjies hul fyn motoriese vaardighede te ontwikkel. Hulle leer ken ook kleure deur die oorvloedige gebruik van primêre kleure. Die kleur van elke plakker word gebruik om te wys waar die regte plek is om dit te plak.

Die see & Die plaas
Beskikbaar by NB Uitgewers en takealot.com
Beskikbaar by NB Uitgewers en takealot.com

Illustrasies: Fiona Powers (Human & Rousseau, R193 en R129)

’n Mens sal vermoedelik nooit te oud raak vir “loer onder die flappie”-boeke nie.

Hierdie twee boeke, Die see en Die plaas, is gemaak van dik, sterk karton en is gemik op kinders van een jaar en ouer. Dit sal hulle help met hand-oog-koördinasie, asook om denke en verbeelding te stimuleer.

Die eerste dubbelblad van Die see lyk so: Daar is ’n toneel van kinders op die strand en sekere van die items word benoem, onder meer: opblaasspeelding, plakkies, seemeeu, seester en kluisenaarkrap.

Wanneer jy die twee flappies oplig, is daar ’n skool visse en drie papegaaiduikers en ’n lewensredder op sy hoë stoel. Nóg ’n pluspunt wat ek altyd soek en waar­deer: Die kinders het nie almal dieselfde velkleur nie.