Handpop-badboeke
Beskikbaar by lapa.co.za
Beskikbaar by lapa.co.za

R110 elk; bestel by lapa.co.za

Afrikaanse babas wat in die 1990’s babas was, was so gelukkig om badboekies te hê: lekker van plastiek gemaak om mee te plas as Ma of Pa klaar die storie gelees het. Toe droog dit op.
Wanneer daar nou ’n badboekie op my lessenaar beland, is ek dankbaar namens alle Afrikaanse babas wat nou babas is.

Elke boekie in die Handpop-badboek-reeks het vier bladsye, en die agterste een het ’n gleuf waarin ’n volwassene se hand pas sodat die storievertellery ’n ekstra dimensie kan kry.

In die Lawwe Leeu-boekie leer die baba klanke (soos ’n olifant wat trompetter), Sussa Seekoei leer van kleure (byvoorbeeld dat ’n eenhoring pienk is), Tamaai Tier leer tel (drie krokodille, vier pikkewyne) en Boeta Beer wy jou mini-genie die wêreld van teenoorgesteldes binne (stadige slak, vinnige jagluiperd).

Mag ek in jou doek loer?
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Guido van Genechten; vertaal deur Philip de Vos (Human & Rousseau, R169)

Ouers wat hul kleingoed op die potjie wil kry, moet dankie sê dat dié boek vir sy 10de verjaardag heruitgegee word in Afrikaans.

Omdat Muisie ’n nuuskierige kêrel is, snuffel hy oral, en vir die doel van hierdie boek ook in sy dierevriende se doeke. Danksy Philip de Vos verneem ons dat Hasie sewe haasbolletjies in sy doek het, Bokkie het natuurlik bok­drolletjies (“ ’n hele spul swart rondetjies”),
hondjie het ’n hondepoef (“een met ’n puntjie aan”), en so gaan dit voort verby die groot, vet miskoek in Koeitjie se doek tot by Muisie. In wie se doek daar níks is nie. Want hy gebruik ’n “piepsie-poepsie-pot”.

En natuurlik wil al die maters nou ook op die pot gaan sit. Mag jou kleuter een van hulle wees.

My eerste voel en vind
Beskikbaar by lapa.co.za
Beskikbaar by lapa.co.za

R140 elk; bestel by lapa.co.za

Gly deur die water!
Lig die flappie.
Wat is dit?
’n Glibberige seekat!

In die seekat se bek is ’n stukkie gladde materiaal waaraan die kleintjie kan voel. Die aksies is dus raai, blaai en voel. Tussenin is daar ook ’n seeperdjie wie se kleur onthou moet word. In die res van die See-boekie in hierdie reeks ontmoet die kleintjie ook ’n sagte rob, ’n gladde moordvis en ’n blink beker.

Dit is van duursame karton gemaak, en die flappies wat omgeblaai moet word, is groot genoeg sodat klein handjies nie te veel hoef te sukkel nie. Die teks is eenvoudig en herhalend, wat die kind verder sal stimuleer.

Ook in die reeks is Plaas, Diere en Parkie.

Vrolike klanke: Vet Pret met Wilde Diere! en Vet pret op die plaas!
Beskikbaar by loot.co.za
Beskikbaar by loot.co.za

Illustrasies deur Moreno Chiacchiera (Human & Rousseau, R202 elk; bestel by loot.co.za)

Het jy geweet hoep-hoepe hou daarvan om in stof en sand te bad? En dat krokodille dikwels oopbek staan om af te koel, want hulle sweet deur hul bek? En ganse is net sulke goeie wagdiere soos honde, kan jy glo! En moenie twee hane in die hoenderhok aanhou nie, want hulle sal te veel baklei.

Hierdie twee boeke is van dik, duursame karton en het kleurryke illustrasies.

Die groot pluspunt is egter die knoppies aan die een kant wat die kleintjie kan druk om verskillende geluide van plaas- of wilde diere te hoor. Die batterytjies is vervangbaar; dus sal die boeke plesier gee vir solank dit nie deur ’n kwylende kind verwoes word nie.

Diere­babas en My klein wildtuin

Bestel by loot.co.za
Bestel by loot.co.za

Illustrasies deur Sarah Vince (Human & Rousseau, R99 elk; bestel by loot.co.za)

Die pluspunte van dié twee boekies:

Lig die flappie

Kraak! Kraak
Wat’s dit wat so maak?
Kom ons loer gou en kyk.
Lig die flappie en daar loer ’n kuikentjie uit.

Op elke dubbelblad is ’n flap waaronder ’n diertjie skuil.

Vat en voel

Hasie Hop en Apie Aapstert het tekstuurryke stertjies waaraan die kleintjie kan voel. Dit tesame met die oplig van die flappe help bevorder hand-oogkoördinasie.

Rym

Die teks is min en eenvoudig, maar dis in rym geskryf. Die her­halende klanke sal die kind onder meer help om ritme raak te hoor en om die woorde te begin onthou.