Hartedief

Deur Rudie van Rensburg (Quellerie, R205*)

Rudie van Rensburg. Foto: Brenda Veldtman
Rudie van Rensburg. Foto: Brenda Veldtman

’n Dapper polisieman wat seëls versamel, bly skreeusnaaks. Dan ontmoet hy ’n potensiële girlfriend wat dieselfde stokperdjie het! Kan hulle nie nou maar saam-saam ’n interessanter stokperd opsaal nie?

Vir Kassie Kasselman is posseëls meer as ’n stokperdjie.

Hy is erepresident van die Wes-­Kaapse Filatelievereniging, die enigste Suid-­Afrikaner wat al met ’n internasionale Grand Prix vir sy Kaapse driehoekseëls bekroon is, sy ver­sameling is gereeld landwyd in groot aanvraag by seël­uitstallings, en sy seëls met foute op (byvoorbeeld treine met die verkeerde getal wiele en voëls met vreemde kleurskakerings) word in gesaghebbende filateliekringe as die indrukwekkendste ter wêreld beskou.

Wanneer hy met sy seëls werk, dra hy latekshandskoene en ’n sweetpaktop wat nie wolletjies afgee nie, wat maar twee van die baie voorsorgmaatreëls is om skade te voorkom.

Dis ’n leefwyse vir Kassie. En noudat hy ’n potensiële vriendin ontmoet het wat ook ’n ywerige versamelaar is, is hy in die sewende hemel. Die kans is uiters gering dat hulle saam-saam ’n ander stokperdjie sal aandurf.

Die skurk in die verhaal is in ’n liga van sy eie. Is die eien­skappe waarmee jy hom teken, regtigwaar dié van ’n psi­gopaat?

Dis moeilik om ’n sielkundige profiel van hom op te stel. Hy is ’n unieke manipuleerder met net sekere eienskappe van ’n psigopaat. Hy pas ook nie in een van die tradisionele kategorieë waarin reeksmoordenaars ingedeel word nie.

Sy aantreklike voorkoms maak hom boonop gevaarliker as enige ander reeksmoordenaar wat vroue as slagoffers teiken. En met miljoene rande tot sy beskikking, is sy vals ID’s, talle aliasse en bankrekenings ’n waarborg dat hy nie maklik vasgetrek kan word nie.

Die sementmengervoorval – is dit regtig wat bendebase aan mense doen wat hulle kwaad maak?

Bendebase op die Kaapse Vlakte is tot énigiets in staat, het ’n polisieman op ’n keer vir my gesê. Daardie woorde het my die vrypas gegee om hierdie ietwat onkonvensionele manier van terminering van ’n vyand in te span.

Daar is twee hoëkoppe in die polisie wat hulle skuldig maak aan ’n agterbakse geknoei. Hoe meng ’n skrywer feite by fiksie in sonder om te laster?

Eerstens is my karakters almal fiktief. Tweedens het ek geweldig baie navorsing gedoen oor hoëkoppe in die polisie wat hulle in die verlede aan korrupsie en ander agterbakshede skuldig gemaak het.

Hierdie twee polisieoffisiere se optrede is dus gegrond op ware feite, wat net plek-plek effens gefiksionaliseer is.

Ongelukkig is dit ’n vol­donge feit dat sekere geregsdienaars in ons land hul mag misbruik om hulself te verryk. Gelukkig is daar ook nog baie eerbares soos brig. Shaheena Fortuin en Kassie Kasselman in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. 

Vyf dinge wat Rudie verstom
  • Dat sekere mense steeds die klimaatskrisis ontken.
  • Dat Eskom se kragstasies nooit op ’n gegewe tydstip almal herstel is nie.
  • Dat die Cheetahs-rugbyspan soveel af­jakke van die Suid-Afrikaanse rugbybase moet verduur.
  • Dat Nommer Een steeds op vrye voet is.
  • Dat yskasvervaardigers steeds liggies in hul produkte inbou, wel wetend dat ’n nagetery ongesond is.

’n Uittreksel uit ‘Hartedief’

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Sy bestudeer die spyskaart, bewus daarvan dat Beyers haar dophou. Dinge gebeur vinniger as wat sy verwag het. Die kelner wat pas by Beyers was, kom reguit na haar aangestap. Hy leun oor: “Meneer Beyers wil weet of jy nie by hom wil aansluit nie?”

“Waarom sal ons twee nou so alleen sit?” wil Beyers weet toe sy oorkant hom inskuif.

“Dis ’n groot eer om saam met u te eet.”

“Los asseblief die ‘u’, noem my Benjamin.”

Hulle gesels oor ditjies en datjies. Sylvia merk dat Beyers nie sy oë van haar lae hals kan wegskeur nie.

In ’n stadium vra hy hoe oud sy is. “34,” sê sy. Die verbasing op sy gesig lyk eg. “Kan nie wees nie! Jy is nie ’n dag ouer as 25 nie. Kan ek jou ID sien, want ek is seker jy jok nou vir my.”

Sy dink eers hy maak ’n grap.

“Ek is ernstig, hoor,” sê hy.

Sy krap in haar handsak en oorhandig glimlaggend haar ID-kaart. “So wraggies!” sê hy. “Jy dra jou jare ongelóóflik goed.”

Voor hulle kos kom, raak hy doenig op sy selfoon.

“Jammer, ek stuur net vir my vrou ’n WhatsApp dat ek vanaand vroeg in die vere gaan klim en dat sy nie moet bel nie.” Sy skalkse glimlag vertel haar dat hy beslis nie van plan is om vroeg te gaan slaap nie.

En ook nie alleen nie.
* * *
Sylvia maak nie ’n oog toe gedurende die nag nie – te bang sy verspil haar kans as sy dalk aan die slaap raak. Toe die oggendson uiteindelik deur die gordyne filter en die lig in die kamer voldoende is, haal sy haar selfoon versigtig van die bedkassie af.

Beyers snork nog terwyl sy in die waai van sy arm lê. Sy strek haar arm uit en neem sewe selfies. Sy maak seker dat hul kaal bolywe duidelik op die foto’s gesien kan word. Daar moet geen twyfel bestaan oor wat hulle hier gedoen het nie.
* * *
Soos hulle vanoggend afgespreek het, kry Sylvia weer vir Beyers by sy tafel. Sy beskou hom onderlangs.

Ná ’n nag saam met hom in sy kamer het haar laaste bietjie vrees vir dié magtige man verdwyn. Vanaand trek sy nie net aan die leeu se snorbaard nie, maar pluk dit uit. Soos haar ander slagoffers, gaan hy klei in haar hande wees.

Beyers wil aan haar hand vat, maar sy trek dit weg. Haar rol as verleidster is iets van die verlede. Sy haal die uitgedrukte foto’s uit haar handsak en sprei dit op die tafel uit.

“Die keuse is joune,” sê sy. “Óf jou vrou ontvang só ’n stel foto’s in die pos óf jy betaal my ’n miljoen rand en ek vernietig dit.”

Sy ontspanne laggie gooi haar van balans. “O, dan is jy ’n afperser. Jy is die derde een, weet jy.” Hy trek sy lippe op ’n dun strepie. “Tragiese gevolge vir jou twee voorgangers gewees. Die een is in ’n tref-en-trapongeluk oorlede, die ander een is in haar bad doodgeskok toe ’n haardroër daarin beland het.

“Siestog, nie een het eens kans gekry om my vrou te kontak nie.”

Paniek klop in haar binneste. Het sy hom onderskat? Of praat hy haar net bang?

* BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYS BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD.