Die versoeking van Thomas Maas
Chris Karsten. Foto: Wessel van Heerden
Chris Karsten. Foto: Wessel van Heerden

Deur Chris Karsten (R240*)

Maar hy moet ook maar by die Engelse leer ’n voël in die hand is beter as twee in die bos.

Ons gesels met Chris Karsten oor sy nuwe roman.

Jy het einde 2017 teruggekeer ná sewe jaar in Kanada. Vind jy die lewe nie onthutsend hier in jou vaderland nie?

Die Zuma-jare het ek grootliks misgeloop, maar nie die verwoestende spoor wat dit op die ekonomie en op die gees van goeie Suid-Afrikaners gelaat het nie.

Dit was neerdrukkend en hartseer om terug te kom en te sien hoe korrupsie, gierigheid, hatigheid en wetteloosheid ons mooi land oor ’n afgrond gedryf het, en dit steeds doen. Die aanpassing met my terugkoms was erger as my aanpassings destyds in ’n vreemde land.

Maar my wortels is hier, en my mense en taal, en ons is ’n geharde spul wat ons nie laat onderkry nie.

Wat was die impetus vir hierdie roman?

Die premis vir Thomas Maas het ek by Hamlet en sy minnares, Ophelia, gaan leen, maar my eie kinkels ingeweef: Amalia gaan nie soos Ophelia in “histerie” – “waansin” in Shakespeare se tragedies – verval omdat mans haar mishandel en misbruik en haar minnaar haar verwerp nie; sy gaan terugveg.

Maar om haar lewe en terugvegpoging nog ingewikkelder te maak, raak sy emosioneel betrokke by ’n sielkundige wie se beroep dit juis is om antwoorde te hê vir sulke moleste van hart en libido. Maar wat van hóm – het hy raad vir homself?

Hoekom bring jy soveel temas in – erotomanie, alz­heimersiekte, paraplegie, Shakespeare, ensovoorts? Is dit om meer aan die leser te gee as net ’n misdaadstorie?

Die persepsie, of mite, of werklikheid, van die “perfekte gesin” fassineer my. Dalk herken familie en vriende ’n egpaar in ’n op die oog af gelukkige huwelik, met talentvolle kinders en hegte gesinseenheid.

Maar dan kom bederf onvoorsiene gebeurlik­hede die idilliese prentjie: ’n motorfietsongeluk, ’n ongeneeslike siekte, ’n romantiese aangetrokkenheid wat lei tot ’n liefdesdriehoek, die dood.

In watter familie is daar nie sulke of ander narighede nie? Dis tog alledaags en ons het meestal geen beheer of skans daarteen nie. Dis die bestanddele wat ek in ’n pot wou roer en kyk wat uitkook.

Die vrou wat aan minnesiekte ly, Amalia, is baie mooi en veral sen­sueel. Is sy ’n stereotiepe karakter of dink jy dit sou grillerig wees om ’n onaansienlike vrou so agter jou lyf aan te hê?

Beauty is in the eye of the beholder. Oftewel: Elke pot kry sy deksel. Dit is nie my taak as skrywer om ’n karakter, hetsy vrou of man, te beskryf as mooi of lelik, goed of sleg nie.

Die leser sien en leer ken ’n karakter deur die oë van ander karakters. Amalia kan wel mooi en sensueel deur ­Thomas Maas se oë wees, selfs vir sy tienerseun, Antonie. Maar deur Donna Maas se oë sien die leser Amalia as minder vleiend.

Deur Rolf se oë is sy ’n slet, deur Patty s’n ’n teef. Sodoende kry die leser ’n beeld van Amalia as iemand
met baie dimensies; sy is dus nie net mooi of net lelik nie.

Ek weet nie of ek Thomas moet jammer kry nie en of sy skoonpa reg is as hy hom daarvan beskuldig dat hy ’n los onderlyf het. Dis seker ’n teken dat jy die karakter veelkantig geskets het, of hoe?

Nes Amalia word Thomas ook uit verskillende oogpunte beskou, juis om veral die hoofkarakters veelkantig te maak eerder as eendimensionele kartonfigure.

E.M. Forster praat van “ronde” en “plat” romankarakters, en albei soorte is nodig om ’n boek te bevolk, veral ook die plattes.

Oor Thomas se los onderlyf: Persoonlik dink ek hy het hom in sy arrogansie ietwat misgis en nie verwag Amalia gaan terugbyt nie.

Verskeie van jou karakters laat my wonder of daar iets soos gelukkige eindes is: Antonie, die tiener in die rolstoel; Donna wat in ’n geborge huwelik is, maar vir die tweede keer verneuk word; Rolf, Donna se slim pa, wie se wiskundebrein nou deur plaak gevreet word. Wat sê jy?

Elke mens word gebore en gaan dood. En dood is nooit ’n gelukkige einde nie. Maar hieroor sal ’n filosoof meer kan sê.

Al wat ek probeer doen, is om ’n grepie uit ’n gesin se oënskynlik “perfekte” lewe toe te lig en te wys hoe vinnig so iets kan skeefloop. En hoe sulke mense hul skewe lewensloop probeer hanteer. ’n Ander gesin in dieselfde omstandighede sal dit waarskynlik op ander maniere die hoof bied.

Of soos die skrywer Norman Mailer ’n slag gesê het: Hy wil graag een boek skryf waarin nie al die los drade aan die einde netjies saamgevat word nie.

Met Ella Neser as privaat speurder was hierdie vir my so ’n geleentheid: Sy moes nie ’n skuldige soek of los drade saamknoop nie, net die waarheid oor Thomas en Amalia uitpluis.

Watter karakter(s) lê jou die naaste aan die hart?

Ek hou van Amalia, want sy groei van vermeende flerrie tot ’n ingewikkelde vrou wat, anders as Ophelia, nie op haar laat trap nie.

En Ella dring, soos dit haar aard is, on­versteurd deur tot die essensie van die probleem, maar behou tog steeds haar empatie, selfs met Thomas, al raak sy morele kompas die kluts kwyt.

Vier dinge wat Chris in 2020 verstom het
  • Die verwoestende impak van covid-19 en korrupsie op ons land se ekonomie.
  • Die ANC se kriptobolsjewisme in volle verwerplike “glorie” in die inperking.
  • Die uitreiking oor grense na medemens in nood.
  • Die oplewing van Afrikaanse boeke, musiek, kuns en kultuur, ondanks die oorlye van gedrukte koerante en tydskrifte.
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za