PP Fourie
P.P. Fourie. Foto: Retha Ferguson

’n Hart is so groot soos ’n vuis

Deur P.P. Fourie

“Ek en my ma het ooreengekom dat sy nie my boek sou lees nie, maar nou ná al die opspraak wat dit verwek, wil sy tog.

“Nou het ons dieselfde ooreenkoms as toe ek ’n kind was en ek boeke van byvoorbeeld Robert Ludlum gelees het. Sy het van die bladsye toegeplak of uitgeskeur en ek gaan nou dieselfde vir haar doen.”

Pieter Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis is in ’n neutedop die verhaal van hoe hy deur sy pa afgeknou is, maar veral hoe sy ma aangerand en verneder is. Hy bied dit aan as ’n roman of faksie (feit en fiksie gemeng) om sekere mense te beskerm.

“Die boek is nie forensies akkuraat nie, maar dis alles waar,” sê hy.

Hy vertel hy en sy ma is nie huilers nie, maar toe hy so ’n maand gelede vir haar ’n stuk uit sy boek voorlees, het sy gesê haar hart klop nou so vinnig.

“Ek werk sag met haar en sy werk sag met my. Ek doen alles in my vermoë om haar te beskerm teen pyn. Ek weet en sy weet wat ons beleef het.”

Soos die aand toe hy as kind alleen in die huis was saam met sy pa en dié waansinnig van amfetamiene en alkohol hom beveel het om nou dadelik na sy kamer te kom.

“As my pa hallusineer van die dwelms, van sy verstand af en hy dink ek is my ma, dan weet ek wat nou kom. My pa lig ’n metaalpyp (’n handdoekreling) in die lug op soos ’n spies en dan draai hy in my rigting.”

Die kind kry dit eindelik reg om Sukovs te bel (waar sy ma daardie aand by ’n teateropvoering die vloerbestuurder is).

Toe sy eindelik met skreeuende bande by die huis aankom, slaan haar man haar met die pyp. Sy tref die glasdeur, hy gryp ’n glasskerf en begin dit oor haar nek trek.

“Ek gil ’n gebed uit: ‘Liewe Jesus, maak hom dood! Asseblief, liewe Jesus!’ Hierop begin ons hond naderkom, hou op blaf en gryp hom aan die arm.”

Nogmaals oorleef hy en sy ma ’n aanval deur hierdie charismatiese man wat in die 1970’s effens bekend geraak het as dramaturg en wat in sy huis in die mees vreesaanjaende duiwel kon ontaard. Pieter sê hy verkwalik die mense wat geweet het wat in hul huis aangaan en niks daaraan gedoen het nie.

“Daardie wegkyk is verdoemend.” Maar sy skokkende geskiedenis sal hom nie altyd bly brandmerk nie.

“Die katarsis was lank gelede. Ek het al 25 jaar gelede in terapie hiermee afgereken.” Hy het wel gekies om die boek in Engels te skryf om afstand te kry.

As akademikus – hy is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) – is hy gewoond daaraan om in Engels te skryf.

“My moedertaal is te intiem deel van my, en ek was bang vir sentimentaliteit wat die boek kitsch sou maak. Ek wou hê my stem moes so koud soos ’n poolwind oor die ysberge klink. Marius Swart, dosent in vertaling en Afrikaanse taalkunde aan die US, het daarin geslaag om dit met die grootste eenvoud in Afrikaans te vertaal, en nie vir ’n oomblik lees dit soos ’n vertaling nie,” vertel Pieter.

Die boek is per ongeluk in 2017 gebore toe hy soos ander senior personeellede van die universiteit na die “life coach” dr. Margaret Orr gestuur is. Sy het vir hom gesê dit lyk of sy lewe goed in balans is, maar sy sien nie genoeg vreugde nie. Dit was haar voorstel dat hy begin skryf.

“Vreugde olie ’n mens se lewe. Tog het ek my maande teëgesit voor ek begin skryf het,” sê Pieter.

“Toe sy my eers aan die gang kry, het ek binne ses maande meer as 100 000 woorde geskryf.” Hoewel hy sy eie ontstellende storie neergeskryf het, het dit hom nie “herontstel” nie omdat die sielkundige verwerking ’n kwarteeu gelede plaasgevind het.

“Dit was vir my goed om die geheimhouding rondom huishoudelike geweld te ondermyn – heerlik om die huisdinge te verbreek. “Die skryfproses het wel ’n las op my ligter gemaak deurdat ek die vloek van stilte kon verbreek.

“Die skrywery het van my ’n sagter mens gemaak. Die skanse is meer laat sak, die skerp punte ’n bietjie stomper gemaak,” sê Pieter.

“Ek het selfs dalk deernis vir my pa. Maak geen fout nie – dis geen kumbaya nie. Ek praat nie eens oor vergifnis nie. Ek weet nie wat dit beteken nie.” 

5 dinge wat Pieter verstom

1. Mense in die algemeen se vermoë om te cope.

2. Hoe sentraal my katte tot my lewe is.

3. Suid-Afrikaners se gelate verdraagsaamheid jeens Eskom.

4. Die feit dat geen groot vis in die staatskapingdebakel hof of tronk toe is nie.

5. My studente (jong mense) se aanpasbaarheid.

’n Hart is so groot soos ’n vuis Deur P.P. Fourie
’n Hart is so groot soos ’n vuis. Deur P.P. Fourie (Kwela Boeke, R225*)


  • Beskikbaar teen dié pryse by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.