Draairiver deur Engela Ovies (Human & Rousseau, R250*)

draairivier
Die boek Draai­rivier is Engela Ovies se debuut. Foto: Retha Ferguson

Sanna Jansen is haar witbroodjiekarakter, sê Engela Ovies. “Sanna het deur al hierdie goed gegaan en ’n heel mens anderkant uitgekom.” 

Daar was baie redes dat dit anders kon gewees het. Sy woon saam met haar ouers en broer in ’n riethuisie op boer Bertus van Zyl se plaas en is in haar laaste skooljaar.

Baie dinge gebeur in dié jaar: Sy raak vir die eerste keer verlief, en sy ontdek die geheim agter die meisie met die geel hare wat sy eendag voor ’n venster van die plaashuis sien. Haar gelukkige jong lewe word dan heel van sy spoor geruk wanneer sy vals van moord beskuldig word, en hiervoor sit sy 15 jaar in die tronk.

Ek wonder hoe Sanna met haar terugkeer na Suurvlakte se wêreld so vergewensgesind kan wees. “Miskien wou ek onbewustelik ’n boodskap bring. Dat mens moet vorentoe gaan.”

Die verhaal is op die waarheid gebaseer, vertel Engela. Sy self is gebore en getoë op Onseepkans, ’n nedersetting op die oewer van die Oranjerivier sowat 60 km noord van Pofadder in die Noord-Kaap.

Sy het vroeër op die landerye gewerk, later huishoudster geword en woon sedert 2003 op Noudonsies naby Augrabies. Engela sit tans sonder werk, maar vertel sy het van altyd af maar geskryf.

Draairivier se handgeskrewe papiere het seker goed ses jaar in ’n laai gelê voor die skrywer Anoeschka von Meck op ’n besoek aan die omgewing daarvan te hore gekom het.

“Sy het gesê ek moet dit laat tik, dan sal sy sorg dat dit by ’n uitgewer in die Kaap uitkom. My neef Johan Ovies, wat ’n begrafnisonderneming het, het my hele storie vir my uitgetik, en toe kon dit weggestuur word.”

Hierna het ’n deur vir Engela oopgegaan toe sy gekies is vir die mentorskapprogram vir opkomende skrywers van die Jakes Gerwel-stigting.

Hierdeur kry belowende, ongepubliseerde skrywers die geleentheid om onder leiding van ervare mentors hul manuskripte wat reeds aan NB Uitgewers gestuur is, verder te ontwikkel.

Dit was oplaas die aanmoediging wat sy nodig gehad het, want ’n onderwyser op skool het altyd haar opstelle in die klas voorgelees, en hier kry sy die kans om ’n jaar lank deur die ervare boekmaker Suzette Kotze-Myburgh aan die hand geneem te word. “Dit was die kans van ’n leeftyd!”

Dis vir my as boekeredakteur elke keer ’n aangename verrassing wanneer ek ’n Afrikaanse boek lees waarin ’n wêreld van woon en gewoontes beskryf word wat ek nie ken nie.

Mag daar al meer Engela Oviese oor ons pad kom. En mag sy vorentoe gaan.

’n Uittreksel uit ‘Draairivier’

draairivier
Draairivier.

Dis nie lank nie of Rosie se stoep is vol nuuskieriges. Ek groet, en word hier en daar een of twee bekend. Sommige onthou ek as ek die naam hoor.

My ou skoolmaats het kinders op ’n streep, en ek wonder vlugtig hoeveel sou ek en Johannes nou al gehad het as dinge anders uitgewerk het. Die vroue is dit eens dat ek ’n jonger weergawe van Ma is.

Hul oë gaan die heeltyd ondersoekend oor my lyf – soek seker vir tronkprentjies. Toe die mense uiteindelik koers kry, kry Rosie se mond ook koers.

Oor wie getroud is, met goeie manne. Oor dié wat kinders gekry het, maar nie getroud is nie. Wie se manne nie werk nie, en wat naweke hul vroue rondjaag wanneer hulle te diep in die wynkan gekyk het.

’n Meisietjie van omtrent twaalf verskyn in die deur, ’n pragtige kind. “Kom nader, Lappies, kom groet vir antie Sanna,” sê Rosie. “Dis my kind – die enigste, nes ek. Kom nou, Lappies!” roep Rosie weer.

“Antie Sanna het destyds langs ons gebly, maar sy was die laaste jare in die tronk.”

Ek byt op my tande. Genade, maar die vrou is erg! Die kind kom staan teen die deurkosyn en kyk agterdogtig na my. Draai dan om en loop die huis in. “Ag, sy was nog altyd ’n skaam kind gewees,” waai Rosie met die hand. Met ’n ma soos jy sou ek ook permanent ’n skaam kind gewees het, is ek lus om te sê.

“Hoe lank het jy gesê was jy in die tjoekie, Sanna?” Hét ek al gesê? wonder ek, en besluit om haar nie te antwoord nie. “Waar bly antie Poppie-hulle nou?” vra ek.

“Daar naby oom Dries. Johannes het mos ’n netjiese steenhuisie vir hy en sy ma gebou met die geld wat die myn uitbetaal het. Die oom is ook al dood.”

Rosie sug. “Dinge het nie uitgewerk tussen ons nie. Hy was te in sy eie wêreld. En sy obsessie met sy ewige skilpad het my moeg gemaak.” Het ek haar nou reg verstaan?

“Dinge tussen jy en wie?”

“Lappies se pa, man. Jy ken hom mos.”

“Rosie, praat jy van Johannes Neelsen?”

“Ja, toe hulle nog hier langsaan by Gert gebly het, was ons in ’n soort verhouding.”

Ek voel hoe my kop begin draai.

TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAF KENNISGEWING.