Tweegevreet

Deur Zirk van den Berg (Kwela Boeke, R215*)

Die aand voor dié onderhoud het Zirk van den Berg gehoor sy roman Ek wens, ek wens is die wenner in die fiksie- én filmkategorie van die kykNET-Rapportpryse.

In hierdie dunnerige en stil boek, wat in Junie ook met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon is, word die onvergeetlike verhaal vertel van ’n sterwende seuntjie wat sy kis gaan “aanpas”. Met een vraag plaas hy die begrafnisondernemer se lewe op ’n ander spoor.

Zirk sê oor hierdie sukses hy is “verbyster”. “Ek het die boek op my webwerf aanvanklik as ’n ‘snuistery’ beskryf! Ek het dié beskrywing nou maar afgehaal.”

Ons gesels per e-pos tot verby sy slaaptyd, want Nieu-Seeland, waarheen hy en sy gesin 22 jaar gelede verhuis het, is 10 uur voor Suid-­Afrika. Hy sê daar was nog nie tyd vir ’n vierinkie nie, en buitendien is hy ’n “salie”:

“As my vrou my nie aanspoor nie, bly ek eerder tuis.”

Pas op die rakke is sy Tweegevreet, wat volg op Die vertes in, en Een of ander held verskyn in 2021. Die boeke speel in die Hochnamib af en het baie navorsing van hom geverg. Hy moes selfs leer Duits lees.

“Heelwat bronnema­teriaal was net in Duits beskikbaar. Ek het Na­mibië ook besoek en met mense gepraat. Die interessantste navorsing is om vir iemand te vra wat weet. In die eerste boek het Christof Maletsky my met die Nama-taal gehelp; met die tweede en derde dr. Levi Namaseb van die Universiteit van Namibië.”

Daar is interessante vroue in Tweegevreet, onder andere Traudl met haar welgevormde heupe treurend oor haar gevalle geliefde, Lisbeth, wat sê van haar lewe sedert sy in Afrika aangekom het: “Jy weet nooit wat jy gaan kry nie”, en Isa Viitanen, oor wie Siegfried homself vermaan: “Moet nooit die staal in hierdie meisie vergeet nie.”

Sit hy in die geselskap vroue en dophou?

“Nou vra jy ’n ding! Seker, ja. Sterk vroue staan my aan, nie poppies nie. Ek verstaan eenvoudig nie sekere mans se beheptheid met die ‘manic pixie dream girl’-argetipe nie.

“Die susterskap van vroue interesseer my, en die subtiele krag waarmee soveel vroue met die wêreld omgaan. Al die karakters in my stories is vir my mense, en die vroue trek almal aan my hartsnare – tot ou mevrou Jürgens en haar huiswerker, Nonnie.

“Miskien omdat hulle almal in vergelyking met mans so geweldig weerloos is in die harde, gewelddadige milieu van hierdie storie, en tog oorleef en selfs gedy. Voor hulle en die Hererovrou Mesuvere staan ek in ootmoed.”  

Daar is sprake van twee foto’s wat die karakter Siegfried in Windhoek by ’n fotografieateljee koop.

Ek vra Zirk in watter stadium daardie kinkel in sy storie beland het.

“Die idee van verwarring rondom identiteit was van meet af die vertrekpunt vir die storie. Daar was aanvanklik nogal ’n subplot rondom die pornografiese foto’s, maar ek het dit uitgehaal omdat dit min tot die storie bygedra het.”

Hy sien uit na die dag dat hy voltyds kan skryf.

“Maar daarvoor sal ek my verdienste uit boekverkope vyftigvoudig moet opstoot!”

’n Uittreksel uit Tweegevreet

Hy voel die bloed na sy voete vloei, die seer sole. Dis lekker om te sit. Maar dan stel hy hom voor dat Traudl by die deur inkom en hoe hy vir haar sal lyk. Nee, dis beter om te staan. Hy kom op die been en maak seker sy klere is netjies.

Hy hou die koevert liggies tussen twee vingers sodat hy nie die foto buig nie. Hy moes liewer sy uniform gedra het. Nie dat hy die illusie koester dat hy imposant kan lyk nie, maar in uniform sal hy anders lyk as wat sy hom onthou, en enige verskil kan net goed wees.

Hy was altyd vir haar bykans onsigbaar – eers net ’n ongewenste bewonderaar, en toe iemand om mee te praat oor haar verlange na die man van haar drome, wat in Afrika vir sy land en Kaiser veg, vir beskaafde waardes.

Siegfried het indertyd haar beweegredes verstaan, maar was dankbaar vir aandag van enige aard – om as vertroue­ling beskou te word, was beter as om skaars raakgesien te word. Traudl was omtrent die helfte van sy lewe lank die objek van sy begeerte. Nou gaan sy enige oomblik by daardie deur inkom.

Hy kyk kort-kort soontoe, onthou met verleentheid hoeveel keer hy homself tot orgasme gebring het terwyl hy haar naam prewel. Miskien is dit waarom hy daardie dag die ongelukkie gehad het, toe hy haar hand vashou en na haar deinende boesem kyk, en hy daardie vlek in sy broek gemaak het wat haar pa so liederlik ontstel het. Dit was die laaste keer dat hy haar in die vlees gesien het.

Deesdae is sy ook nie eens meer so baie in sy gedagtes nie. Maar ou gewoontes klou hardnekkig en sy palms voel sweterig. Hy vee hulle stilletjies teen sy broek af, agter sy dye. Dit verras hom nou nog om die bult van spier te voel wat daar ontwikkel het in die maande van gesondheid, van baie perdry.

Dan is sy daar. Bleek en adellik met troebel oë, die sagte, vol mond. Sy dra die Europese idee van safaridrag – ’n lang kakieromp wat om haar welgevormde heupe span, ’n wit bloes met skaapboudmoue, ’n ry knope op die voorarms en ’n hoë kantkraag.

Haar hare is agter haar kop vasgesteek. Haar neusgate se rande, merk hy, is pienk en skilferig, seker oor die koue, droë klimaat. Sy dra blink stewels met vierkantige tone en lae hakke.

Hy hou sy rondebolkeil voor sy lende. As daar nou ’n nat kol sou wees, sou sy dit nie kon sien nie. Hy kan nie ’n woord uitkry nie.

“Siegfried,” sê sy, en kom op hom afgestap met een hand uitgestrek, die pols slap en vingers wat hang. Hy vat haar vingerpunte liggies tussen syne en laat sy lippe vlugtig aan haar handrug raak. Sy ruik na rooswater.

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.