Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse

DEUR HERMAN LATEGAN (Penguin Random House, R199*)

“ ‘Hy’s ’n opregte teelperd,’ runnik Aphrodite Aggenbach, papnat van die sweet, soos ’n merrie wat reën ruik en op dieselfde plek begin galop.” Sy’s een van my gunstelingmense in jou boek. Wie’s joune?

Die jong meisie wat tussen Springfontein en Kaapstad op die nagbus sporadies genies het. Elke keer het sy “askies” gesê. Vroegoggend toe die bus die stad binnekom, kon ek sien sy was nog nooit voorheen in Kaapstad nie. 

Toe ons stop, skryf ek: “ ’n Ouer man het na haar toe gekom, haar opgelig, omgeswaai en haar laat rondomtalie draai. Hulle het albei hard gehuil, sonder skaamte voor almal.

Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse. Deur Herman Lategan (Penguin Random House, R199*)

“Toe hoor ek haar sê: ‘Pappa, ek het gedink ek gaan jou nooit ooit weer sien nie.’ 

“Toe vat hy die punt van sy hemp en droog die trane van haar lemoenkleurige wange af. En op die grond het hy van die bloeisels opgetel en in haar hare teruggesit.”

In jou aangrypende stuk oor wat van skoolmaats geword het, noem jy jou skool se leuse was “Wees uself”. Is dit dan nie ironies dat jy dit juis nie toegelaat is nie?

Die Hoërskool Jan van Riebeeck het gelukkig deur die jare verander en by die nuwe tydgees aangepas. In die vroeë 1980’s, helaas, is die skool deur ’n strydlustige skoolhoof en ’n bende kruiperige akoliete soos ’n konsentrasiekamp bestuur. 

’n Artikel oor reggae in die skoolkoerant wat ek help stig het, is voor my stukkend geskeur, ek is afgedank as redakteur en ’n kommunis en k-boetie genoem. 

’n Toespraak by ’n debats­vereniging waarvan ek die voorsitter was, was die laaste strooi. Ek het uit die kas geklim en erken ek het ’n verhouding met een van my klasmaats.

Ek is as onderhoofseun van die skool en koshuis geskors en beveel om te loop. 

Jou Rapport-rubrieke (waarvan sommige in jou nuwe boek opgeneem is) word gebou om ’n woord wat jou aandag trek in ’n woordeboek. Is jy verlief op Afrikaanse woorde en hoekom het jy so lank hoofsaaklik in Engels geskryf?

Herman Lategan. Foto: Philip de Vos

Ek was jare lank woedend vir die toksiese, hipermanlike, outoritêre chauvinisme van veral Afrikaanse omies met grys skoene en die Bybel onder die arm. 

Ná skool, die NG Kerk en die weermag wou ek ’n nuwe identiteit skep. Tot ek op ’n dag die woord “wisseldans” gehoor het. 

Van daardie dag af sakkie-sakkie ek en Afrikaans heerlik saam. 

“Dynserig” is een van my gunstelingwoorde. Skryf vir my ’n paragraaf waarin jy dit gebruik.

Die vrou het daagliks gebid haar kind moet veilig wees. “Liewe Heer,” het sy gesmeek, “spaar my die pyn.”

Die voordeurklokkie het gelui; sy het dit oopgemaak. Toe sy in die polisieman se dynserige oë kyk, vra sy: “Hoe sal ek U ooit ken?”

Die tragiese saak van Pamina Vermaak

DEUR ANNIE KLOPPER (Kwela, R205*)

Vertel van jou ding vir Esta Steyn.

As tiener het ek Esta Steyn se liefdesverhale wat aan die Weskus afspeel oor en oor gelees. My familie is van die Weskus en ek was dol op hoe dié ruimte, en die interessante karakters verknog aan die ruimte, so ’n integrale rol in haar boeke speel.

Dis daarom ’n kopknik aan haar dat hierdie boek gedeeltelik aan die Weskus afspeel.

Vir wie het jy die boek geskryf?

Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Deur Annie Klopper (Kwela, R205*)

Ek wou ’n boek skryf wat my vriende, my portuurgroep, sal kan geniet en wat ek self sou wou lees.

Dink jy omdat jy ’n doktorsgraad het, het sekere resensente “hoë” letterkunde van jou verwag en jou boek daarvolgens beoordeel?

Daar sal ongelukkig altyd resensente wees wat ’n boek beoordeel op grond van wat hulle dink dit behoort te wees pleks daarvan om dit te beoordeel vir dit wat dit ís. Maar daaraan steur ek my weinig: Ek het dié boek nie geskryf vir diegene met neuse in die lug nie.

Is jy nie bang ’n mediamens of twee gaan hulself in jou boek herken nie?

Ek spot so ’n bietjie met die mediabedryf oor die algemeen, maar daar is darem geen spesifieke mense wat hulself behoort te herken nie.

Hoekom het jy nie nog ’n paar paragrawe afgestaan aan Aidan en AJ nie? Jy kan mos nie vir die leser laat blyk hier kom ’n ding en dan los jy dit net daar nie!

Ek wou nie afwyk van Wolf en Pamina se storie nie en laat dit aan my lesers oor om hul verbeelding te gebruik oor wat tussen Aidan en AJ gaan gebeur – ek dink dis nogal duidelik daar is ’n vonk, en met die uiteinde van die boek in ag geneem, kan ’n mens raai dat hulle paaie weer sal kruis.

Pamina en Wolf is ’n plesier vir die oog. Dink jy ’n boek in dié genre kan werk as die held en heldin nie bogemiddeld aantreklik is nie?

Wanneer Pamina se fisieke voorkoms beskryf word, is dit uit Wolf se perspektief, en omgekeerd. Met ander woorde, dis hulle wat mekaar beskou as iets vir die oog.

Annie Klopper. Foto: Retha Ferguson

Dalk sal jy verby Pamina op straat loop en nie haar skoonheid raaksien nie, of jy kan vir Wolf sien en dink hy’s torrerig.

Elkeen weet wat vir hom of haar aantreklik is; daarom kan enigiemand die romantiese held of heldin in iemand se liefdesverhaal wees, persoonlik óf fiktief.

“Dan is hy weer teen haar, sy lippe hard op hare. ’n Hand skuif onder haar T-hemp in, hy vat haar middel vas en saam sak hulle af tot op die kombers, Wolf bo-op haar.” Daar is ’n paar heerlik sappige tonele. Hoe skryf ’n mens dit sodat dit lekker klink sonder clichés of soetsappighede?

Om te keer dat sappige tonele soetsappig raak, hoef jy net inspirasie in die werklikheid te soek. Want in die regte lewe kan selfs die sappigste tonele vol ongemaklike of komieklike oomblikke wees, anders as wat die flieks ons wil wysmaak – met die moontlike uitsondering van Bridget Jones se enorme bloemer!

Wanneer dinge tussen Wolf en Pamina warm raak, is dit dus nie sonder ’n paar figuurlike stampe en stote nie.

* Teen dié pryse beskikbaar by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.