Begin Jou Eie Groentetuin

Deur Johan van Zyl en Peter van Noord (Human & Rousseau, R249*)

Dié twee joernaliste het duur lesse geleer voor hulle die ABC van ’n eie groentetuin onder die knie gekry het. Johan van Zyl en Peter van Noord skryf dat hulle nog altyd die een of ander vorm van ’n groentetuin gehad het, al was dit net ’n paar potte kruie in ’n kombuisvenster of ’n paar groenteplantjies tussen blomme en struike ingedruk.

Maar hulle het ernstige groenteboere geword toe hulle die dag Swartland toe trek en ’n huis en ruim erf op Koringberg aanskaf. Gou het die lesse gekom: Die aartappels staan mooi geil met groen, gesonde blare en net langsaan kom ewe geil tamaties op met vruggies wat kort voor lank blink daar sit.

“Ons was natuurlik die ene afwagting op die lieflike oes. Helaas het ons nie besef watter paradys ons vir die gevreesde rooispinmyt skep nie . . . Toe ons ons oë uitvee, was alles daarmee heen: aartappels én tamaties. ’n Volslae bloedbad. Byna oornag.”

Dít kan jy nou saai: Beet, blaarslaai, koolfamilie, mielies, radyse, soetrissies, spinasie, uie en wortels.

Die rede?

“Jy plant dié twee nooit, ooit, óóit langs mekaar nie.”

Uit hul skades en skandes het hulle wys geword; daarom wil hulle met Begin Jou Eie Groentetuin dit vir ander makliker maak om hul eie kos te kweek.

Johan en Peter bespreek in verskillende hoofstukke die beplanning, regkry van die grond, planttyd, hoe om jou groentetuin gelukkig te hou, groentelyste en interessante tuinmaakbenaderings soos permakultuur, biodinamika, hidroponika, strooibaaltuine en tuine wat glad nie bewerk word nie.

Elke stap van die proses om ’n groentetuin gevestig te kry en daarna te onderhou word in besonderhede verduidelik. Waarmee kan ’n beginner wegspring?

Opgeboude beddings dreineer beter en dis makliker om te bewerk, want jy hoef nie so laag te buk nie.

“Saam met spinasie en sy maats is uie, preie en grasuie heel boaan die lys van groentesoorte wat groentjies kan plant wanneer hulle hul eie groentetuin begin. Hulle groei maklik, lyk mooi en daar is regtig bitter min wat kan skeefloop wat peste, plae en siektes betref; hulle laat trouens ’n hele rits peste en plae die wyk neem, wat hulle natuurlik uitstekende metgeselplante maak.”

Aspirantgroentekwekers moenie moed verloor nie.

“Nes Rome nie in een dag gebou is nie, het ’n groentetuin tyd en aandag nodig – en Moeder Natuur laat haar nie aanjaag nie.”

Maar vir al die tyd en aandag wat jy aan jou tuin of bedding gaan afstaan, is die vergoeding gesonde organiese groente wat jy met die regte beplanning heeljaar kan eet. 

Ses dinge wat jy moet weet
  • Die grond is die belangrikste: “Goeie, gebalanseerde grond is die alfa en die omega van alle gelukkige, produktiewe ekostelsels.”
  • Die heel beste manier om die struktuur en vrugbaarheid van jou grond te verbeter is ’n deklaag: “Dit verbeter die tekstuur, belugting en waterhouvermoë van die grond en verminder kompaktering.”
  • “Met ’n pakkie groentesaad kweek jy kos vir meer as 10 mense, terwyl ’n bakkie saailinge hoogstens drie mense se maag sal vul.”
  • So bespaar jy water: “Gooi jou groente met ’n gieter nat – verby is die dae van ’n sproeier wat staan en die hele wêreld natmaak. Die meeste sproeierwater verdamp ieder geval.”
  • Is gryswater sleg vir mense? “’n Minuskule hoeveelheid seep in jou vars groente is sekerlik beter as die plaagdoders wat jy saam met jou groente in die supermark koop!”
  • Vermy kunsmatige bemesting: “Voedingstekorte sowel as pesaanvalle word dikwels deur die toediening van kunsmatige bemestingstowwe, veral stikstof, veroorsaak.”
Beste maats

Metgeselplante word naby mekaar geplant om mekaar se groei te bevorder of mekaar teen peste te beskerm.

“’n Maklike algemene reël is om saam te plant wat jy saam sal eet.”

Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Tamatie en basilie SKomkommer en radys
  • Wortels en enige plant in die uifamilie
  • Koolfamilie en tiemie
  • Rose en knoffel
* Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

Foto’s: Donna Lewis, Frank Ellis, iStock