Skag


Deur Jaco Wolmarans (Tafelberg, R269*)

Indien moontlik, is daar selfs meer aksie in hierdie eg Suid-Afrikaanse spioenasieverhaal wat teen die einde van apartheid afspeel.

Waar die skrywer, Jaco, egter sy voet sal neersit, is by die aandikkery in die Bond-flieks. Hy doen juis so baie navorsing sodat hy sy storie realisties kan hou. Hy sê dis vir hom moeiliker om stories uit sy duim te suig as om met die werklike feite te werk.

“En dis beslis die moeite werd, selfs wanneer ’n leser jou vaskeer en sê hulle het die boek baie geniet, maar . . . en dan iets uitlig wat jou net weer laat besef jy moet nooit ’n leser onderskat nie. Een het my aangevat ­omdat ek in my eerste roman, Bos, nooit geskryf het waar die held sy kar se sleutels gelos het nie. ’n Ander leser het oor Skag gesê my karakter was darem ’n bietjie te James Bond-erig om sommer ’n skip se skroef met ’n stuk kabel te gaan immobiliseer.

Ironies genoeg is dit een van die dinge wat aanvalsduikers geleer word. Dis legit.”

Jaco, ’n videovervaardiger, fotograaf en kopie­skrywer van Milnerton, was ’n radio-operateur in die lugmag en het feitlik sy hele diensplig in die operasionele gebied deurgebring.

“Ek het nooit hoef te koes vir ’n koeël nie, maar ek het met een voet in die intelligensiewêreld gewerk en insae gekry in hoe dinge beplan en uitgevoer word.”

In sy tweede roman wou hy skryf oor “ ’n skattejag na ’n groot klomp geld of wapens of ’n kernbom wat iewers onder die see lê en ’n gejaag teen tyd kon afgee”.

Hy het die skrywer van Apartheid Guns and Money, Hennie van Vuuren, gevra of hy weet van enige gevalle uit die 1980’s waar groot hoeveelhede geld weggeraak het uit die staat se rekenings.

Hy sou dan sy storie hieraan kon haak.

“Hennie het my verwys na die deel in sy boek oor die Pia Vesta. Die Deense skip het in die 1980’s wapens onwettig na Suid-Afrika vervoer.

“Toe ek egter gaan uitwerk hoe stadig die bleddie skip gevaar het – iets soos 12 tot 15 knope – sou dit weke geneem het om die Kaap uit die Noordsee te bereik. Ek moes op ’n manier die storie aanjaag. Ek kon nie net die storie optel waar die skip in Walvisbaai aankom nie. Ek moes die tyd op die skip gebruik om die storie en karakters te ontwikkel. Dis waar die CIA-agent Ashley Ramirez haar buiging maak.”

Jaco vertel die werklike Ashley is springlewendig en woon in Amerika.

“Ek het haar in Rwanda ontmoet, maar dis ’n ander storie. Ewenwel, die skeepsreis was die ideale geleentheid om die twee karakters en die onvermydelike romanse gestalte te laat kry. Maar hoe kry jy twee agente van opponerende spioenasiedienste saam met bemanning op ’n skip sonder dat dit aandag trek?

“Ek moes weer om raad gaan aanklop by my bron in die teenspioenasiediens, wat verduidelik het dat dit nie net moontlik was nie, maar dat hulle dit in die 1980’s vele kere gedoen het. Ashley se ‘longprobleem’ was sy vindingryke voorstel, gegrond op ware situasies uit sy tyd in die diens.

“Die res van die verhaal, oor die gebruik of misbruik van ’n kerntoestel, was ysingwekkend moontlik. Die ­demokratiseringsproses was inderdaad onder skoot.”

Jaco vertel dat die storie homself geskryf het.

“Dit het omtrent ’n onstuitbare mag van sy eie geword wat net spoed optel. Dís wanneer jy weet die storie werk – wanneer jy hom nie kan stop nie, wanneer ’n karakter hier uit die linkerkantste hoek van die blad aan jou skouer begin klop en sê ‘staan bietjie opsy’, en die ­karakter begin leef op jou blad en trek die storie in ’n heerlike, onverwagte rigting.”

Ontmoet van ‘Skag’ se karakters
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Sersant Jos Fourie van Spesmagte moet missiele oppas wat in die geheim uit Oos-­Duitsland verskeep word.

“Hy het dit nog altyd maklik ­gehad. Sy ouers het groot verwagtings vir hul seun gekoester. Geneties geseën, die skool se top­­swemmer, akademies onder die eerste 10 in sy klas. Alles is netjies beplan. ’n Loopbaan in die regte, ’n junior vennootskap by Fourie & Fourie. Sy plek is gereserveer onder die Paarlse adel. Maar diep in sy binneste het hy geweet hy wou iets anders doen.”

Wat dit sou wees, weet hy eers in die vakansie ná ­matriek toe sy oom, kommandant Robert Fourie, bevelvoerder van 4 Verkenningsregiment, hom verlei met verhale van recces: “Die ­elite. ’n Misterieuse wê­reld van ’n baie spesiale talent en koverte operasies.”  

Lucky Costa, weggooikind van ’n bruin ma en ’n Griekse ­kafeebaas, is die hoofluitenant van die gevreesde kolonel Swartjan Beetge van Teen­intelligensie.

“Danksy sy uitspattige klere, peroxide-blonde hare en intense oë was Costa die laaste mens wat jy van koverte bedrywig­hede sou verdink.”

Marcia de Longhi, die CIA se operasionele direkteur vir Afrikasake, het byna geen lewe buite haar werk nie; dis waarom die delikaatste sake aan haar toevertrou word. Sy is die een wat agterkom “die Boere is weer aan die smokkel”. Sy is ook die een wat besluit om Ashley Ramirez vroualleen op die smokkelskip te plaas om Jos dop te hou.

Ashley Ramirez was ’n “besonder skrander student. Immigrantkind met ’n oordrewe behoefte om haarself te bewys. Daarom topstudent van haar inname. Teenintelligensie het haar danksy haar wiskunde­agtergrond en ontledingsvermoëns opgeraap vir analise­opleiding.” Maar sy was gou verveeld en is op haar versoek vir koverte opleiding gestuur en in die veld ontplooi.