Soekmekaar
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Dana Snyman (Tafelberg, R270*)

“Ek voel nie meer geborge in my huis op Jacobs­baai aan die Weskus nie. Miskien suig ’n huis se mure en dak jou verdriet en verwildering op nes ’n spons water opsuig.

“My huis treur saam met my. Oor Anette se weggaan. Oor ou sekerhede wat onsekerhede geword het. My huis soek lig. Ek soek lig. Ek moet die binneland in. En my vier weg­gooihonde gaan saam. Jerry, Kleintjie, Vlooi en Blackie. My engele.

“Ek gaan praat met my vermoënde buurman. Hy stem in: Hy sal die huis koop. Ek bel die Bogosi’s, my Ventersdorp-familie. Kom kies vir julle goed, Johannes, sê ek. Kom vat. Ek sal ’n treklorrie kry om dit vir julle Ventersdorp toe te neem.

“Ek haal al my boeke van die rak af en pak dit in stapels op die mat, meer as ’n duisend van hulle, en begin uitsoek: Aan Steinbeck en Schoeman klou ek vas, van Brink en Gordimer en vele ander neem ek afskeid . . . Ook Pa se getekende kopie van A.P. Treurnicht se Credo van ’n Afrikaner moet gaan, dit is ’n padkaart na nêrens.”

Geniet sowat 50 vertellings deur Dana Snyman. Woon saam met hom en ander klasmaats sy skoolreünie by, en ’n Kersspel by Karitas, die spesiale skool waarheen Koos gaan, en gaan kyk saam met die skilder Willem Pretorius na nog ’n leë swembad op die platteland.

Reis saam tot by die laaste skryf­stuk toe Dana sy huis op ­Jacobsbaai verlaat om die pad na elders te vat nadat sy verloofde haar eie lewe geneem het.

Porseleinskerwe
Beskikbaar by Protea Boekhuis.
Beskikbaar by Protea Boekhuis.

Deur Marié Blomerus (Protea Boekhuis, R180)

“Byna alles is verlede tyd. Dit wat toekomstig is, is net beplanning en nog geen werklikheid nie. Al wat seker is van die toekoms is dat nie een van ons vir altyd hierdie briljante aardbol sal bewoon nie.

“Maar van wat gebeur het, is ons ten minste seker, hoewel groot dele daarvan vergeet moet word omdat dit vir ons onaangenaam was en nie tot heil of voordeel nie.

“Ander moet ons soos klei­node bewaar, diep in die holtes van die hart, want hulle het geskitter en ons lewens soos opkomende sonne laat gloei, of selfs soos die aand­ster.”

So skryf Marié Blomerus in die voorwoord van haar boek vol herinnerings. Die grootste deel is oor die ou Suidwes, haar ouma en oupa Suidwes en die soort lewe daar wat nou nie meer bestaan nie.

Teenoor hulle was daar oupa en ouma Blom wat langs die Grootrivier gewoon het waar landerye groen langs die kanale gestaan het.

Veral ouer lesers sal hierdie terugkyk geniet, asook Marié se herinnerings aan ’n paar oor­sese reise.

Liefdegroete, Grootseun
Beskikbaar by Protea Boekhuis.
Beskikbaar by Protea Boekhuis.

Deur Barend Vos (Protea Boekhuis, R250)

In hierdie “kronieke van ’n dominee” word 30 van Barend Vos se rubrieke byeengebring wat die afgelope jare in LiG ver­skyn het.

Hy skryf dit in die vorm van briewe wat ene Grootseun aan sy ma en pa rig. Die trant is lig en lekker: “My nuwe jong kollega in die gemeente anderkant die rivier gaan klaarblyklik van krag tot krag. Oom Gawie Grootwoord, wat deesdae saam met sy Moedige Mieta in die ouetehuis woon, hou my getrou op die hoogte.

“Meestal brom oom Gawie net. ‘Nee jong, hy’t mos nie ’n Godswoord op sy naam nie. Hy lees als op daai kompjoetir wat hy so onner sy blad dra en op die preekstoel gaan neerplak.

“Nou die dag kom lees hy hier by ons, glads op sy selfoon – en dis hoeka nie onse Bybel se taal of tyding nie. Nee, dis sommer sulke lawwe woorde, amper soos daai van die Javaanse getuienisse.’ ”

’n Genoeglike medekarakter is die dominee se wederhelf, wie se naam na gelang van die situasie verander: MyTaalkundigste, MyLigwegOntstemde, MyMoeggelagde, MyOlifantGeheue en ander sulkes.

Sandveldstories
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Ferdinand Deist (Tafelberg, R220*)

“Ek meen dit nou nie lelik nie, maar as daar nou ooit ’n kompetisie uitgeskrywe moet gewees ’t virrie vroomste mens oppie aarde deuskant Job vannie Bywel, dan sil Oom Willem Booise daai beker loshanne voor allie anner mense weggevat ’t.

“Waar daar nou ’n goeie ding gedoen kan geword ’t, was Oom Willem altoos oppie voorpunt gewees. En waar daar ’n godsdienstige bymekaarkom gewees ’t, van ’n doop tot ’n begraffenis, daar’t jy vir Oom Willem ’n uur voor ’ie begin vannie diens innie derde bank offie derde ry stoele van voor af ­gekry, maak nou net saak of ’t innie kerk of in ’n saal gewees ’t.”

So het Ferdinand Deist in streektaal sy kon­treiverhale geskryf. Hierin is ’n keur van 30 bymekaargebring uit Pofadder en Peddelford, Die pomporrel-kônsert en Bom appeltiet.

Ongeslyp
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Jan Roderigues (Protea Boekehuis, R185*)

Jan noem dit “skitterende staaltjies van lank gelede” en skitter skitter dit wel, want hierdie ware verhale gaan oor die blinkste van blink klippies.

Hy teken ’n interessante stuk geskiedenis op, naamlik die begin van die diamantbedryf op ­Alexanderbaai.

Sentraal staan Kingsley Seale wat in diens was van die Hans Merensky-stigting en die stene moes skoonmaak, waardeer en veilig besorg in die Kaap.

Die situasie was “sensitief en uiters gespanne in daardie tyd op die delwerye weens die oneerlikes se soms geniale en blykbaar nimmereindigende metodes om hul hande op die uiters waardevolle blink klippies te kry”.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.