Kat se blad – Stuitige Strokies

Deur Philip de Vos en Piet Grobler (Protea Boekhuis, R170)

Byna het ek ’n flater oorgekom en dié boek op die kinderblad geresenseer, maar dit kom daarvan as ’n mens ’n kinderlike tekening op jou voorblad sit.

Binne-in is dit ’n heel ander storie met guitige strokies wat sprokies en ander praatjies verfomfaai tot iets wat beslis geen 0-18 is.

Daar’s die koning wat sonder klere die straat afstap en ’n seuntjie laat gil: “Boeliebief en pietersielie / Ek sien die koninklike . . . / Gielie! Skree sy ma: Jou leë kop! / G’n wonder jy’t graad 1 gedop!”

Daar’s Mabalel en Raka wat trou, Eugène Marais wat die toespraak lewer en Van Wyk Louw wat die bedankings doen. Daar’s Bybel en Babels: “Genesis, Eksorus, / hier kom goeters / wat maar gorus . . .”

Kat Se Blad is die eerste keer in 1999 uitgegee en is nou heruitgegee “seker omdat dit hoog tyd was om nuwe en jonger lesers aan die stuitighede bloot te stel”, sê Philip de Vos (foto).

“My heel eerste strokie was Sonde met die Diere waarin ek die storie van Noag gebruik om te verduidelik hoe die dinosourusse uitgesterf het. Omdat ek en Piet Grobler toe reeds aan twee boeke saamgewerk het, is hy gevra om dit te illustreer. Dit sou net ’n eenmalige strokie gewees het, maar dit was so gewild dat ons dit daarna drie jaar lank maandeliks geskep het. Daarna is die strokies nog drie jaar in Insig voortgesit,” vertel Philip.

“Elke strokie het altyd uit presies 28 rymreëls bestaan. Sodra ek die teks geskryf het, het ek dit aan Piet gestuur. Ek het hom nooit ooit voorgesê wat om te teken nie. Hy weet blykbaar wat in my kop aangaan, maar hy het met sy sketse dikwels die strokies nog stouter gemaak as wat hulle reeds was. Ek besef die strokies is stout, maar hopelik nooit vulgêr nie.”

Liefde in die tyd van die internet – ’n stadsprokie

Deur Fransi Phillips (Quellerie, R219*)

Foto: Peter Van Noord

Hanna is indrukwekkend om verskeie redes. Benewens haar lieflike voorkoms het sy die vermoë om die dra van juweliersware tot ’n fyn kuns te ontwikkel.

“ ’n Armband in dieselfde styl as die oorbelle (art deco-waaieroorbelle van silwer en swart onikssteen) herinner meer aan ’n aristokratiese Russiese vlugteling tydens die Belle Époque as aan die hoer wat Hanna veronderstel is om te wees.”

Sy is oortuig sy verdien hierdie skeldstatus omdat sy by haar baas, ’n aaklige Pretoriase prokureur, slaap, maar hom nie liefhet nie (ondanks die feit dat sy wel in ’n verhouding met hom is).

Sy vlug na Moskou, waar sy om den brode Engels gee en het hier die groot geluk om ene Wolf79 aanlyn te ontmoet. Hy is een van haar Skype-studente en ook ’n Russiese skeepsmagnaat.

Hy lyk op ’n haar soos die wêreldberoemde wyle balletdanser Nureyev (om redes wat sy ma sou kon verduidelik) en verskaf baie plesier aan die verloopte Afrikaner.

Die enigste stinkigheid in die drinkwater is die skrywer Fransi Phillips wat hulle geskep het, maar dikwels aan hul eie lot oorlaat.

Op my vraag aan die ware Fransi Phillips wat sy dink van die skrywer Fransi Phillips wat in haar roman voorkom en of sy dit goedkeur dat sy nie veel inmeng met haar karakters nie.

Of dink sy sy’s ’n lui skrywer?

“Daai Phillips in die roman is ’n irriterende ou hag.

“Ek stem wel met haar saam dat jy jou karakters vryheid moet gun, maar soms kon sy maar ’n bietjie minder onaangenaam gewees het. Haar futiele obsessie met wêreldpolitiek getuig van ’n ongebalanseerde karakter. En ek weet vir ’n feit sy’s ’n lui skrywer.”

Fransi werk al ses jaar lank aan en af in Moskou.

“Ek het Japan oorweeg, maar hulle soek jonges. China en Korea is ’n bietjie van ’n worsmasjien. Saoedi-Arabië is gevaarlik vir ’n vrou wat nie weet hoe om haar mond te hou nie. ’n Mens sukkel jou dood met werkvisums vir die Europese Unie.

“Hoekom nie Rusland nie? Fantastiese kultuur, beste president ter wêreld, interessantste mense en die lieflikste sneeulandskappe.”

Truitjie roer my nie – oor Kempton en ander k-woorde

Deur Schalk Bezuidenhout & Erns Grundling (Quellerie, R189*)

Foto: Alet Pretorius

Wat sou vir die komediant Schalk Bezuidenhout die “verkeerde” manier wees om in Huisgenoot te beland?

“Enigiets waarin die foto’s van die artikel geblur moet word,” sê hy.

Gelukkig het hy op Huisgenoot se boekeblad beland as die skrywer van Truitjie Roer My Nie, “ ’n vreeslose verslag van ’n jong komediant se lewe . . . tot dusver”.

Die joernalis Erns Grundling, wat ook Schalk se bestuurder is, las by en lewer kommentaar. Om redes wat lesers self sal moet uitvind (deur sy boek te lees), noem Schalk homself “die laaste bordjie pap in Gouelokkies”.

Sou hy nie liewer die eerste bordjie pap of selfs die middelste bordjie wou wees nie?

“Die mense wat die storie van Gouelokkies ken, sal weet niemand wil die eerste of middelste bordjie wees nie.

“Dis soos om die laaste slukkie koffie te wees. Gross!”

Kry dit hier
*Beskikbaar teen dié pryse by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.