Kan Huisgenoot asseblief help? vra die jeugskrywer Fanie Viljoen onlangs in ’n dringende e-pos.

“Het julle gehoor hoe die mense Afrikaanse e-boeke op WhatsApp versprei asof dit pamflette by ’n straathoek is? Die mense stig hierdie groepe en een ou deel ’n boek op een slag met honderde mense. Een van die groepe wat ek gesien het, het byvoorbeeld 246 lede gehad!” skryf hy aan ons.

By navraag blyk dit die gemoedere loop hoog oor dié misdaad waarvoor daar nog geen oplossing (behalwe eerlikheid) is nie.

Dit is ’n skending van kopiereg en onwettig om ’n boek of tydskrif waarvoor jy nie betaal het nie op WhatsApp aan te stuur. Dit is asof jy daardie boek of tydskrif steel, lees en deel sonder om daarvoor te betaal. En so goed jy betaal die skrywer nie vir die harde werk wat hy gedoen het nie.

Ons gesels met skrywers en uitgewers wat direk deur e-boek-diefstal geraak word.

Karin Brynard, misdaad­skrywer

“Ek dink mense glo naïewelik dat alle internetinhoud gratis is; hulle dink nie daaroor na nie. Dis ’n kudde-­denkpatroon.

“Dit is dieselfde mentaliteit as Jacob Zuma se beroemde verwysing na sy vergrype as ‘victimless crimes’.

“Mense wat boeke gratis aflaai, is dikwels dieselfde mense wat regeringskorrupsie skerp veroordeel, hoog opgee oor hul eie vroomheid en geloof, moraliteit en goeie burgerlike gedrag.

“Hulle redeneer dalk dat skrywers sakke vol geld maak, maar as jy die somme maak van ’n gemiddelde skrywer se uurloon, kom lê dit na aan die koerse van ’n minimum loon. Die meeste skrywers het dus óf ’n ‘day job’ óf oorleef danksy ander vorme van finansiële steun.

“Ek begryp die dubbele morele standaarde gewoonweg nie.”

Deon Meyer, krimi-skrywer

“Die verskil tussen ’n gedrukte boek uitleen en e-boeke met WhatsApp aanstuur, is die getalle. Digitaal kan jy dit oombliklik aan tientalle vriende ‘leen’, met baie negatiewe ge­volge vir die hele boekbedryf – van uitgewers wat mense moet afdank tot by klein, onafhanklike boek­winkels wat later hul deure sal moet sluit.

“En natuurlik steel jy die brood en botter van skrywers. Bitter min (Suid-)Afrikaanse skrywers kan leef van hul skryfinkomste, en dié misdaad gaan dit nog moeiliker maak.

“Daar is geen manier om te monitor of jou boeke gesteel word nie. ’n Mens sien soms op roofwebtuistes en selfs of Facebook hoe jou werk wederregtelik versprei word, maar dis onmoontlik om dié Medusa se koppe af te kap.

“Daar is roofbeskerming op e-boeke, maar dis te maklik om dit te omseil met programmatuur wat vryelik beskikbaar is.”

Dana Snyman, rubriekskrywer

“Ek is afhanklik van my boekgeld, en as mense boeke rooflees, steel hulle op ’n manier van my reeds karige inkomste. Sommige dink skrywers is welvarend; dis ver van die waarheid.

“Dit maak my vies dat mense so tekere gaan oor hoe groot en mooi Afrikaans is, maar hulle doen sulke dinge. ’n Skrywer kan nie op komplimente alleen oorleef nie, hoewel ’n mens dankbaar is oor alles.”

Derick van der Walt, jeugskrywer

“Ek dink nie mense besef dat hulle die brood uit ons mond neem vir iets waaraan ons bitter hard gewerk het nie. Ek dink ook nie hulle besef dat dit ’n misdaad is om iemand se kopie­reg of intellektuele eiendom te steel nie. Dis so goed jy steel iemand se kar. En dit is wat hulle doen as hulle ons e-boeke na willekeur vir elke pel en familielid aanstuur.”

Olga Wyngaard, NB Uitgewers se hoof van kontrakte en regte

“Uitgewerye tree baie ernstig op teen mense wat vir hierdie wederregtelike verspreiding verantwoordelik is. Die roete wat uitgewers volg, is om eerstens ondersoek in te stel na die erns van die onregmatige optrede. Dit word met ’n prokureursbrief gevolg waarin die oortreders ingelig word van hul ongemagtigheid en versoek word om die verspreiding van die roofkopieë stop te sit.

“Verdere stappe wat gedoen word, is siviel en strafregtelik van aard. ’n Hofbevel kan verkry word om die onregmatige verspreiding stop te sit of ’n strafregtelike ondersoek kan deur die polisie gedoen word. Die straf wat opgelê kan word kragtens die Wet op Kopiereg is ’n boete van R10 000 of 10 jaar gevangenisstraf.

“Hoewel ’n strafregtelike ondersoek nie die gewenste roete is om te volg nie weens die tydsame aard daarvan, sal uit­gewerye hul noodgedwonge moontlik hiertoe moet wend om te verseker dat hulle en hul skrywers nie nog meer skade ly nie.”

Izak de Vries, Lapa se bestuurder van bemarking en kommunikasie

“Daar is twee maniere van steel: Sommige mense kraak ons e-boeke – hulle neem dus boeke wat op wettige platforms te koop is, stroop die digitale slot en sit die boek dan sonder enige beskerming op groepe of in aanlyn lêers of waar ook al.

“Die grootste aantal mense versprei dan daardie dokumente onwettig. Hulle doen enorme skade, al sê hulle hulle steel nie.

“Dis soos wanneer iemand ’n lorrie vol drank kaap; dis die eerste oortreding. Dan gee hulle ’n krat vol drank aan 100 tjommies en sê deel uit. Die tjommies is willens en wetens besig om die wet te oortree al het hulle nie die lorrie gekaap nie.

“Hulle stig WhatsApp-groepe en deel boeke daar. Hulle stig Telegram-groepe en deel boeke daar. Hulle skep Dropbox-lêers en deel boeke daar. Hulle adverteer dit op Facebook en deel boeke daar. As 100 mense tot een groep behoort en die boek word daarop geplaas, is dit 100 boeke wat gesteel word.”

Wat van Huisgenoot en ander tydskrifte?
Dit is ook ’n skending van kopiereg en onwettig om Huisgenoot en ander tydskrifte op WhatsApp aan te stuur. Moet dit nie doen nie, en moenie toelaat dat ander mense dit so vir jou stuur nie.