The Lockdown Recipe Storytelling Book
Bestel by annakem@mweb.co.za
Bestel by annakem@mweb.co.za

Byeengebring deur Ingrid Jones (Annake Müller Publishing, R550, koerier­koste ingesluit, bestel by annakem@mweb.co.za)

Dié besonderse storieresepteboek is een van die goeie dinge wat 2020 voortgebring het.

Toe die joernalis en uitgewer Ingrid Jones in Junie op Facebook vra dat mense familie­resepte deel, het dit byna dadelik in iets meer verander: Mense het die stories agter die resepte begin vertel, en hiermee is stukkies geskiedenis opgeteken wat andersins dalk nooit gehoor sou geword het nie.

Die Facebook-­gesprekke tussen die lede van The Lockdown Recipe Storytelling Book het so ’n besonderse aar raakgeboor dat die jong uitgewery van ­Annake Müller besluit het om dit in ’n luukse resepteboek uit te gee.

Hier is in Afrikaans en Engels die stories van byvoorbeeld Mama Sietie wat gesê het “as jy ka’ lees, da’ kan jy kook”, Mrs Cupido se lekker stoep en koolstoof op Humansdorp en Maureen Abrahams wat in 1980 as jong leerling-­vroedvrou Manna en kwartels by ’n mede­student gekoop het.

In dié resepteboekie, waarmee geld ingesamel is vir die kerk, was ’n resep vir gebakte sjokoladepoeding – wat sy vandag nog maak, ook toe sy begin “gatvol” raak het vir die inperking.

Die resepte – van koek tot koe’sisters, bredies tot bobotie, smoortjies en piekelvis – vertel hul eie verhale van die beste maak met wat jy het en familie saambring om die tafel om ’n fesie van enige aard te vier.

Ingrid verduidelik die foto van hande op die voorblad van die boek, gebore in ’n pandemie met as uitgangspunt “die komvandaan van ons kosgeskiedenis”: “Die hande wat ons voed deur die lewe se op en af het die simbool en voorblad van die boek geword.”

Lank rek, ver strek visdis
Rene Ngwenya. Foto: Verskaf
Rene Ngwenya. Foto: Verskaf

Deur Rene Ngwenya

Dis Vrydag en visdag. Ek kan nie onthou of ons al ooit ­pilchards as ’n maaltyd in ons Heidelbergse ouerhuis gehad het nie. Die ouer mense het somtyds snaakse gedagtes gehad oor vis in ’n blikkie wat giftig kan raak. Miskien ook omdat daar ’n ander opsie was – om vars vis te kon kry.

Witsand is baie naby aan Heidelberg en as kinders het ons oom Daan Geldenhuys se vis­kar (’n oopkap-bakkie) ingewag soos kinders wat opgewonde was oor ’n ice-cream. Die geraas van die trompetjie kon ons van die “middelstraat” af hoor en dit was ons sein om, soos my ma sou sê, soos swape aan te gaan.

Daar was kabeljou en snoek en allerhande ander soorte vis op dié bakkie. As kinders was ons “min te worry” oor die opskrywe in die klein einde-van-die-maand-skuld-boekie; altans ons het dit nie eens verstaan nie.

Ná oom Daan se afsterwe, het ons oom Goliat Davids se viskar ingewag. Dieselfde storie van die swape wat pad toe hardloop asof ons die vis self gaan bak.

Oom Jack Meyers se Dodge-bakkie met die groente het altyd gevolg. Ook daar het ons soos swape op die bakkie geklim om alles te bekyk asof ons vergeet het dat ons eie tuin vol groente was en dat ons vrugtebome breed gelag het van allerhande lekker vrugte.

Tea set innie display
Levinia Pienaar. Foto: Verskaf
Levinia Pienaar. Foto: Verskaf

Deur Levinia Pienaar

No matter how poor we were growing up, there was always that tea set innie vertoonkas.

En so was dit ver­ewig net “vertoon”, want niemand het ooit tee of enig­iets daaruit gedrink nie! Nie eens as my ma se susters uit Suidwes kom kuier het, is tee in daai koppies bedien nie. Oekie virrie Ingeliesh ­family uit die Kaap nie. Never!

So het ons getrek, en daai stel het sy/haar plek innie display behou. Kan iemand my dalk sê hoekom?

I can imagine having a lekke Jägermeister-­shot in one of those small sherry glasses, ma vat net aan die kas, dan vra Mamma al vannie kamer af: “Wat het jy innie kas verloor?”

Landbou Boerekos: Die beste gebak
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Arina du Plessis (Human & Rousseau, R305*).

Aan die begin van die inperking was Landbou boerekos: Die beste gebak splinternuut. Nou is dit vol geel plakkertjies en kosmerke. Dit is van ’n kant af deurgewerk – van die biltong-en-fetakaaskoek en kaas-en-biltong-skepskons tot bloubessiemuffins en haselneutbrosbroodvingers wat vroeg-vroeg al afgemerk en ge-Instagram is.

Die platbrood met geroosterde druiwe (ons het dit met bosbessies vervang), vinkel en camembert was uitsonderlik en is ’n nuwe familiegunsteling, asook die sagte witbrood met olywe, kruie en fetakaas en okkerneutbrood.

Ja, daar is beproefde gunstelinge soos suurlemoenmeringuetert en skilferkors­melktert, ook meer flambojante resepte wat hoort op ’n gedekte teetafel, soos die rooifluweelsjokoladekoek met ombre-­roosversiersel en die hertzoggie-laagkoek, maar die boek en resepte is hoegenaamd nie intimiderend nie.

Dit is ’n omvattende bakboek, met afdelings wat strek van beskuit en kleinkoekies, brood, muffins en skons, kaaskoeke en rolkoeke tot poedings en Kersgebak. ’n Toeganklike bak-ensiklopedie in die kleine.

Die gebakte Bar One-kaaskoek, rooibosteestroopkoek en vanieljeringkoek met koffiestroop is onverbeterlik – laasgenoemde een van talle resepte wat ons 11-jarige dogter met gemak op haar eie kon maak. Ook die kondensmelkpoeding, souserige sjokoladefudgepoeding en heelwat koekieresepte kon sy sonder hulp baasraak. Elke ekstra covid-19-kilogram werd!

– Nelia Richter, assistent-redakteur van Landbouweekblad