In ’n uittreksel uit sy memoires vertel dié fluitjieblaser wat hom gemotiveer het om dit te doen.

Eers noudat ek terugkyk, besef ek hoe hoog my ster verrys het. Ek het ge­vorder van die student wat nie in die klas kon praat nie tot die onder­wyser van ’n taal in ’n nuwe era. Van die kind van beskeie middelklasouers tot die man wat die ­eiland­lewe in Hawaii geniet en soveel geld gemaak het dat dit vir hom geen ­betekenis meer gehad het nie.

In die sewe kort jare van my loopbaan het ek gevorder van die instandhouding van plaaslike bedieners tot die skep en implementering van stelsels wat wêreldwyd ontplooi is – van middernag­sekuriteitswag tot sleutelrolspeler vir die Puzzle Palace (dis ’n bynaam vir die Amerikaanse nasionale sekuriteitsagentskap).

Maar dit is altyd gevaarlik wanneer selfs die bes gekwalifiseerde mens te vinnig te hoog verrys voor hulle sinies kon raak en hul idealisme verloor.

Ek het een van die mees onverwagte magsposisies in die Intelligensie-gemeenskap (IG) beklee – wel aan die onderpunt van die bestuursleer, maar steeds hemelhoog wat toegang betref.

En al is ek die kans gegun om die IG in sy volle onverbiddelikheid waar te neem, het dit my ook nuuskieriger gemaak oor die een feit wat my steeds ontwyk: Watter perke was daar vir die agentskap oor wie hulle mag dophou?

Dit was grense wat nie soseer deur ­beleid of wette bepaal word nie; dit het eerder afgehang van die genadelose, onbuigsame vermoëns van wat ek nou weet ’n wêreldwye masjien is.

Was daar enigeen wat die masjien nie kon dophou nie?

Al manier om die antwoord te vind was om van my troontjie af te klim en ’n operasionele rol te aanvaar.

Die werknemers van die National ­Security Agency (NSA) met die grootste toegang tot die rouste vorm van intelligensie was dié wat in die operateurstoel sit en die name van verdagte individue – buitelanders sowel as Amerikaanse burgers – op hul rekenaars intik.

Edward Snowden het in 2013 die wêreld geskok toe h
Edward Snowden het in 2013 die wêreld geskok toe hy geklassifiseerde dokumente aan die media oorhandig het.

Hierdie verdagte individue is om die een of ander rede deur die agentskap in hul visier gekry en noukeurig bestudeer. Die NSA wou alles oor hulle en hul kommunikasie uitvind.

My eindelike bestemming, het ek geweet, was die presiese plek waar die staat sy oog oor die mens gooi en waar die mens totaal onbewus daarvan bly.

XKEYSCORE

Die program wat hierdie toegang gebied het, is XKEYSCORE genoem – ’n soekenjin wat dit vir ’n ontleder moontlik maak om al die rekords van jou lewe deur te soek.

Stel jou ’n soort Google voor wat pleks daarvan om vir jou blaaie van die openbare internet te wys vir jou inligting uit jou privaat e-pos, jou privaat gesprekke, jou privaat lêers gee.

Al het ek genoeg oor die program gelees om die werking daarvan te verstaan, het ek dit toe nog nie gebruik nie, en ek wou meer daarvan weet. Ek wou self bevestig hoe ver die NSA met hul waar­nemings indring – die soort bevestiging wat jy nie uit dokumente kry nie, maar net uit eie ervaring.

Een van die min kantore in Hawaii met werklike onbelemmerde toegang tot XKEYSCORE was die National Threat Operations Center.

Die fluitjieblaser se onthullings het in koerante
Die fluitjieblaser se onthullings het in koerante dwarsoor die wêreld verskyn en groot opslae gemaak.Foto: Gallo Images/Getty Images

NTOC het in die glimmende maar siellose nuwe oopplankantoor gewerk wat die NSA amptelik die Rochefort Building gedoop het.

Dit is na Joseph Rochefort genoem, ’n legendariese kode-ontleder vir die vloot wat tydens dieTweede Wêreldoorlog ­Japannese kodes ontsyfer het. Die meeste werk­nemers het dit die Roach Fort genoem, of bloot die “Roach”.

Dit het, afgesien van die agentskap se vertalers en ontleders in Hawaii, ook die plaaslike tak van die Tailored Access Operations gehuisves.

Dit was die NSA-­eenheid wat die rekenaars gekraak het van individue wat deur ont­leders as teikens geïdentifiseer is – die agentskap se weergawe van die ou spanne inbrekers wat eens vyande se huise binnegesluip het om meeluisterapparate te plant en materiaal te vind wat hulle in die verleentheid kon stel.

Sy onthullings het protesaksie soos dié ontlok. Fo
Sy onthullings het protesaksie soos dié ontlok. Foto: Gallo Images/Getty Images

Soos die toeval dit wou hê, was daar in 2013 ’n vakante pos by NTOC. Dit was ’n kontrakteurspos by Booz Allen Hamilton, wat hulle – sagkens gestel – as ’n “infrastruktuurontleder” beskryf het.

Toegang, klarings en voorregte

Die rol het behels om met die volle spektrum van die NSA se massa-waar­nemingstoerusting – XKEYSCORE inkluis – aktiwiteite te monitor op die “infrastruktuur” van belang, die internet.

Hoewel ek ’n bietjie meer geld by Booz sou maak, sowat $120 000 (toe sowat R1,2 miljoen) per jaar, het ek dit as ’n posverlaging beskou – die eerste van vele op my pad ondertoe.

Daarvoor het ek my toegang, klarings en voorregte by die agentskap oorboord gegooi. Ek was ’n ingenieur wat ’n ontleder geword het wat op die ou end ’n uitgewekene sou word – ’n teiken van die einste tegnologie wat ek eens beheer het.

Uit daardie perspektief het hierdie ­spesifieke verlies van aansien nogal ­nietig gelyk. Uit daardie perspektief het álles nietig gelyk, terwyl die boog van my lewe teruggebuig het aarde toe en die punt bereik het waar dit my verhouding, my vryheid en moontlik my lewe sou kon beëindig.

Landuit

Ek het besluit om my argiewe uit die land te neem en dit aan joernaliste te oorhandig met wie ek in kontak was. Maar voor ek enigsins aan die logistiek daarvan kon begin dink, moes ek eers gaan bladskud met ’n paar mense.

Ek moes ooswaarts na die hoofstad, Washington, DC, vlieg vir ’n paar weke om my nuwe base en kollegas te ontmoet. Hulle was baie hoopvol dat hulle my flinke ­begrip oor hoe om aanlyn naamloos te bly kon inspan om hul slimmer teikens te ontmasker.

Dit het my ook vir oulaas teruggeneem na Beltway, terug na die plek van my eerste ontmoeting met ’n instelling wat ­beheer verloor het: Fort Meade. Dié keer het ek as ’n lid van die binnekring daar opgedaag.

Die NSA-hoofkwartier. Foto: Gallo Images/AFP
Die NSA-hoofkwartier. Foto: Gallo Images/AFP

Op die dag van my volwassewording, net meer as 10 stormagtige jare tevore, het nie net die mense verander wat by die NSA-hoofkantoor gewerk het nie, maar ook die plek self.

Die NSA-hoofkantoor

Dit het ek die eerste keer besef toe ek in my gehuurde motor voorgekeer word net toe ek in Canine-weg wou afdraai na ’n parkeerterrein van die agentskap. In my geheue bly die ­paniek, luitone, getoet van motors en sirenes weerklink.

Ná 9/11 is alle paaie na die NSA-hoofkantoor permanent gesluit vir enigeen sonder ’n spesiale IC-wapen soos die een wat toe om my nek gehang het.

Wanneer ek nie by die hoofkantoor oorvriendelik met die NTOC se leiers was nie, het ek alles geleer wat ek kon by ontleders wat met ander programme en ander soorte teikens gewerk het. Ek wou vir my spanlede in Hawaii die nuutste maniere kon wys om die agentskap se toerusting te gebruik – dit was hoe ek amptelik my nuuskierigheid verduidelik het.

Soos gewoonlik het ek daarmee verwagtings oortref en die dank verdien van tegno-aanhangers. Hulle was, op hul beurt, gretig om die mag te demonstreer van die masji­nerie wat hulle ontwikkel het, sonder enige bedenkinge oor hoe daardie mag ingespan word.

Met XKEYSCORE kon hulle soek na “byna alles wat ’n gebruiker op die internet doen

By die hoofkantoor moes ek ook ’n reeks toetse aflê oor die behoorlike gebruik van die stelsel. Dit was meer soos regulerende nakomingsoefeninge as betekenisvolle onderrig.

Die ander ont­leders het vir my gesê dat ek nie die reëls hoef te leer nie omdat ek hierdie toetse soveel kere kon doen as wat nodig sou wees: “Klik net die blokkies tot jy slaag.”

In dokumente wat ek later aan joernaliste sou gee, het die NSA na die XKEYSCORE verwys as hul instrument met die grootste reik­wydte. Daarmee kon hulle soek na “byna alles wat ’n gebruiker op die internet doen”.

Die tegniese spesifikasies wat ek bestudeer het, het meer besonder­hede verstrek oor presies hoe dit ­gedoen word – deur die data van ’n gebruiker se aanlyn sessies in hanteerbare “pakkies” vir ontleding te verdeel.

Soos wetenskapsfiksie

Daar was egter niks wat my daarop kon voorberei om dit in aksie te sien nie.

Dit was die naaste ding aan weten­skapsfiksie wat ek al ooit gesien het: ’n raakvlak wat jou in staat stel om byna enigeen se adres, telefoonnommer of IP-adres in te tik en dan die onlangse geskiedenis van hul aanlyn aktiwiteite na te gaan.

In party gevalle kon jy selfs opnames van hul aanlyn sessies terugspeel sodat die skerm waarna jy kyk húl skerm is, waar hul rekenaar ook al gestaan het.

Jy kon hul e-pos lees en hul blaaiergeskiedenis, soek­geskiedenis, plasings in die sosiale media, álles, sien. Jy kon kennisgewings vir jouself opstel wat sou opwip sodra ’n mens of toestel waarin jy belangstel aktief raak op die internet.

En jy kon van die internetdata deursnuffel en sien hoe iemand se soeknavrae letter vir letter verskyn, want talle webtuistes sein elke karakter oor terwyl dit ingetik word.

Dit was soos om na ’n outovoltooi-­funksie te kyk terwyl letters en woorde oor die skerm flits. Maar die intelligensie agter daardie tikwerk was nie kunsmatig nie, maar menslik: Dit was ’n mens­voltooi-­funksie.

Ek het nie die name van die agentskap se direkteur of die president by XKEYSCORE ­ingetik nie

My weke by Fort Mead, en die kort ­rukkie by Booz in Hawaii, was al tye waarin ek eerstehands kon sien hoe die vergrype gepleeg word waarvan ek toe nog net in interne dokumente gelees het.

Ek het nie die name van die agentskap se direkteur of die president by XKEYSCORE ­ingetik nie, maar ek het later besef ek kon dit gedoen het: Almal se kommunikasies was in die stelsel – álmal s’n.

Ongelooflik eenvoudig

Ek was aanvanklik bang dat as ek dié in die staat se topposisies by die soekveld sou intik ek gevang en afgedank sou word, of erger. Maar dit was ongelooflik eenvoudig om ’n navraag oor selfs die mees vooraanstaande figuur te verbloem.

Ek moes net my soekterme in ’n masjienformaat enkodeer wat vir mense soos brabbeltaal lyk, maar vir XKEY­SCORE volkome verstaanbaar is.

As enige van die ouditeure wat soektogte hersien ooit die moeite sou doen om dit van nader te bekyk, sou hulle net ’n brokkie verdoeselde kode sien, terwyl ek deur die persoonlikste aktiwiteite van ’n regter van die hooggeregshof of ’n ­kongreslid kon blaai.

Sover ek kon agterkom, het geeneen van my nuwe kollegas beplan om hul mag op so ’n groot skaal te misbruik soos ek dit wou beproef nie. Die meeste het blykbaar meer belanggestel in wat die stelsel persoonlik vir hulle kon doen as op beroepsvlak.

Net die domste ontleders word op heterdaad betrap

Dit het daartoe gelei dat ontleders die agentskap se programme gebruik het om hul huidige minnaars, ekse en mense op wie hulle ’n ogie het dop te hou – hul e-pos te lees, hul foonoproepe mee te luister en hulle aanlyn te bekruip.

NSA-werknemers het geweet net die domste ontleders word op heterdaad betrap, en al kan enigeen wat by enige soort waarneming vir persoonlike gebruik betrokke is volgens wet vir minstens ’n ­dekade opgesluit word, is niemand in die agentskap se geskiedenis al selfs een dag tronkstraf hiervoor opgelê nie.

Ontleders het geweet die regering sou hulle nooit openlik vervolg nie, want jy kan nie juis iemand vervolg oor hulle jou geheime spioenasiestelsel misbruik terwyl jy ontken dat so ’n stelsel bestaan nie.

Pornografie

Die gevolge van so ’n beleid het vir my duidelik geword toe ek langs die agterste muur van kluis V22 by die NSA-hoof­kantoor sit saam met twee van die talent­volste infrastruktuur-ontleders. Hul werk­ruimte is versier met ’n 2 m lange foto van Chewbacca van Star Wars.

Terwyl een vir my die besonderhede van sy teikens se sekuriteitsroetines verduidelik, het ek besef onderskepte naakfoto’s is ’n soort informele kantoor­ruilmiddel. Sy vriend het in sy stoel bly omdraai om ons glimlaggend te onderbreek met: “Kyk ’n bietjie na haar!” ­Daarop sou my instrukteur antwoord: ­“Bonus!” of “Lekker!”

Die onuitgesproke reël was blykbaar dat as jy op ’n naakfoto of video van ’n aantreklike teiken afkom – of iemand wat met so ’n teiken kommunikeer – jy dit vir die res van die manne moet wys, solank daar geen vroue in die omtrek is nie. Dis hoe jy weet julle kan mekaar ­vertrou: Julle is aandadig aan mekaar se misdade.

Een ding wat XKEYSCORE jou gou laat besef, is dat byna almal in die wêreld wat aanlyn is minstens twee dinge gemeen het: Hulle kyk die een of ander tyd na pornografie en berg foto’s en video’s van hul familie.

Dit het vir feitlik almal van elke geslag, etnisiteit, ras en ouderdom gegeld – van die gemeenste terroris tot die gaafste senior burger, wat dalk die gemeenste terroris se grootouer of ouer of neef kon wees.

Die seuntjie van Indonesië

Die gesinsdinge het my die meeste getref. Ek onthou veral een kind, ’n seuntjie in Indonesië. Tegnies gesproke moes ek nie in die seuntjie belanggestel het nie, maar ek het, want my werkgewers het in sy pa belanggestel.

Ek het die gedeelde teikenlêers deurgelees van ’n “persona”-­ontleder – iemand wat gewoonlik vir die grootste deel van die dag goed soos kletsboodskappe, Gmail-­inbokse en Face­book-­boodskappe deursnuffel, eerder as die meer verborge en ingewikkelde bedrywighede van kuberkrakers waarop die infrastruktuurontleders hulle toespits.

Edward in 2013 kort nadat hy Rusland toe gevlug he
Edward in 2013 kort nadat hy Rusland toe gevlug het om inhegtenisneming deur Amerika te vermy. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die seuntjie se pa was nes my eie pa ’n ingenieur – maar anders as my pa het hierdie ou nie vir die regering of die weermag gewerk nie. Hy was net ’n dood­gewone akademikus wat in die spioe­nasie­diens se sleepnet beland het.

Ek kan nie eens onthou hoe of hoekom hy die agentskap se aandag getrek het nie, behalwe dat hy ’n werkaansoek aan ’n navorsingsuniversiteit in Iran gestuur het.

Die redes vir agterdog was dikwels swak gedokumenteer, as dit hoegenaamd gedokumenteer was, en dit kon ongelooflik vaag wees – “word vermoedelik potensieel verbind met” en dan die naam van ’n internasionale organisasie wat enigiets kon wees van ’n liggaam vir telekommunikasiestandaarde vir Unicef tot iets wat jy trouens sal saamstem ’n bedreiging is.

Dele uit die man se kommunikasie is uit die stroom internetverkeer gesif en in lêers versamel – hier was die gevreesde afdruk van die CV wat aan die verdagte universiteit gestuur is; hier was sy teksboodskappe; hier sy webblaaier-geskie­denis; hier was die afgelope week of wat se korrespondensie, met IP-adresse.

Hier was die koördinate van ’n “geo-­heining” wat hy rondom hom geskep het om te kyk of hy te ver van die huis sou weg­dwaal of miskien na die universiteit vir sy onderhoud sou moes reis.

Dan was daar sy foto’s en ’n video. Hy het voor sy rekenaar gesit, soos ek voor myne sit. Op sy skoot was ’n kleuter, ’n seuntjie in ’n doek. Die pa het iets probeer lees, maar die kind het heeltyd rondgeskuif, na die sleutelbord gekap en gegiggel. Die rekenaar se interne mikrofoon het sy giggel opgeneem, en daar sit ek toe en luister op my oorfone daarna.

Die pa het die seun stywer vasgehou, en die seun het regop gesit en met sy donker halfmaanoë reguit in die rekenaar se kamera ingekyk – ek kon nie die gevoel afskud dat hy reguit na my gekyk het nie. Ek het skielik besef ek hou my asem op.

Ek het die sessie gestaak, opgestaan en na die badkamer in die gang gestap, my kop geboë, die oorfone steeds aan met die koord wat agternasleep.

Alles omtrent daardie kind, alles omtrent sy pa, het my aan my en my eie pa herinner.

‘Ek sal my familie nooit weer sien nie’

In die tyd toe ek by Fort Meade was, het ek my pa een aand vir ete ontmoet. Ek het hom lank laas gesien, en daar in die middel van die ete, oor happies Caesar­slaai en ’n pienk limonade, het ek gedink: Ek sal my familie nooit weer sien nie.

My oë was droog – ek het soveel selfbeheer toegepas as wat ek kon – maar in my binneste was ek verpletter. Ek het ­geweet as ek vir hom sou sê wat ek beplan om te doen hy die polisie sou bel. Of hy sou sê ek is gek en my in ’n psigiatriese hospitaal laat opneem. Hy sou enig­iets waaraan hy kon dink, doen om te keer dat ek die grootste fout denkbaar maak.

Ek kon maar net hoop dat sy pyn ­mettertyd deur trots genees sou word.

Met sy aankoms in Hongkong het Edward Snowden duisende geklassifiseerde dokumente aan joernaliste van die Britse koerant The Guardian uit­gelek.

Hy het daarna Rusland toe gevlieg, waar asiel aan hom toegestaan is.

Edward spreek gaste toe deur ’n videoverbinding ty
Edward spreek gaste toe deur ’n videoverbinding tydens ’n tegnologieberaad in Portugal. Foto: Gallo Images/Getty Images

Edward (36) het onlangs onthul dat hy en sy jare lange meisie, Lindsay Mills, twee jaar gelede heimlik getroud is. Hy woon in ’n woonstel in Moskou en verdien sy brood as openbare spreker met toesprake wat hy deur ’n videoskakel lewer.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

’n Geredigeerde uittreksel uit Permanent Record deur Edward Snowden (Metropolitan Books, R330 by Takealot.com). die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.