’n Uittreksel uit Vergeet my nie

Sy kyk af. Besef wat sy vashou. Maar dit kan nie wees nie. Maar dit is. In haar hand is nie ’n kortbroek of een van Braam se T-hemde of selfs ’n onderbroek nie. Onderklere, ja, maar nie ’n man s’n nie.

Meer spesifiek, ’n panty. Nog meer spesifiek, ’n gele. Een wat aan ’n inwoner van Wanda-koshuis behoort, want op die etiket pryk daar langs die eienaar se naam die kameelperdjie wat daarvoor gesorg het dat daar dikwels na dié koshuis as “Wydsbeen Wanda” verwys word. Die panty is hiér, tussen Braam se klere, waar dit beswaarlik sonder goeie rede kon beland het.

Slegte rede. Bose rede.

Haar woorde van ’n kwartier of wat gelede kom om by haar te spook: As Braam skelm wil wees, kan hy nie ten minste groter versigtigheid aan die dag lê nie? Dis nie gewens om laat by ’n lesinglokaal op te daag nie.

Des te meer as jy nie eens daardie kursus loop nie. Maar hier moet Mardaleen wees, want dis waar Braam hom tans bevind. Sy ken dan sy rooster so goed omdat beplanning en roetine haar veilig laat voel, sien, en omdat sy so goed is daarmee om ’n skedule op te stel, sien.

Marguerite van Eeden en Arno Greeff in ’n toneel u
Marguerite van Eeden en Arno Greeff in ’n toneel uit die fliek. Marguerite vertolk die hoofrol van Mardaleen en Arno speel die stoutseun Braam. Foto: Onkgopotse Koloti

Van Omgewingsreg weet sy so min as Madonna van subtiliteit. Sy weet die dosent is ’n professor Botha en dis hoe ver haar kennis strek. Sy maak die deur oop. Stóót dit oop. Huiwer nie, want sy het genoeg ergernis en ontsteltenis in haar vir ’n hele oorlogslinie.

Professor Botha was aan die praat, maar raak stil en sy kop swaai in haar rigting nes almal anders s’n. Dis een van daardie kleinerige lesinglokale met twee rye banke agtermekaar aan drie kante. Een van die studente wat haar aangaap, is Katryn Malherbe – inwoner van Huis Wanda – wat ten nouste met Mardaleen se ergernis en ontsteltenis gemoeid is. En sy sit netjies langs Braam in die middel in die voorste bank. Dié saamsittery sal nie van gister af wees nie. “Professor, ek is jammer om te onderbreek.”

Mardaleen is daarvan bewus dat die deur nie heeltemal agter haar toegeswaai het nie; Lara hou dit op ’n skrefie oop sodat sy kan loer.

Agter die skerms van die verfilming van die Huisge
Agter die skerms van die verfilming van die Huisgenoot-fliek Vergeet my nie. Foto: Misha Jordaan

“E . . .” maak die professor. “Maar dit was ’n noodgeval.”

Dis vir haar interessant hoe kalm sy klink, ondanks die kolking in haar gemoed, die vermeende noodgeval ten spyt.

Professor Botha knik inskiklik. “U sien, ek het ’n dringende boodskap vir meneer Malherbe.” En net ingeval daar ’n misverstand kan wees, voeg sy by: “Braam Hercules Malherbe!” Hy hét mos so ’n ding oor daardie tweede naam. “Dis ’n special delivery.”

Sy sien Braam Hercules Malherbe se mond oopgaan, en toegaan. Sy hou immers die wasgoedmandjie met sy klere vas. Sy lippe mag nou wel nie beweeg nie, maar sy oë rig baie vrae, waarvan een definitief is hoekom sy so vasberade lyk.

Sean-Marco Vorster en Marguerite in aksie voor die
Sean-Marco Vorster en Marguerite in aksie voor die kameras. Sean-Marco vertolk die rol van Hugo Derks. Foto: kykNET

Dat Mardaleen Coetzer gekom het om ’n baie spesiale special delivery te maak, moet vir die slaperigste siel in die klas duidelik wees. Sy klem die mandjie onder haar linkerarm vas, want haar regterhand is die een waarmee sy gooi. Die eerste T-hemp trek in sy rigting.

“Mardaleen?” vra Braam gedemp, maar hy kon dit geskree het ook, so hard is dit in die buiteruimtelike stilte.

’n Paar jeans tref hom teen die bors toe hy opstaan. Hy wil agter die ou langs hom verbyskuif om uit te kom, maar moet koes vir ’n onderbroek. Wat deur een van die ander ouens gevang word, voor hy ’n oordrewe gilletjie van walging gee.

In haar hand is nie ’n kortbroek of een van Braam se T-hemde of selfs ’n onderbroek nie. Onderklere, ja, maar nie ’n man s’n nie. Meer spesifiek, ’n panty. Nog meer spesifiek, ’n gele. Een wat aan ’n inwoner van Wanda-koshuis behoort, want op die etiket pryk daar langs die eienaar se naam die kameelperdjie wat daarvoor gesorg het dat daar dikwels na dié koshuis as “Wydsbeen Wanda” verwys word.’

Katryn Barnard is een van die lot wat dit baie amusant vind.

“En,” laat hoor Mardaleen, “dit sluit jóú panty in.”

Sy laat trek die gewraakte kledingstukkie deur die lug – vir ’n kolskoot in sy eienares se gesig. Katryn snak na haar asem en toe die ding hoorbaar op die skryfoppervlak voor haar land, is haar gesig so rooi as wat die panty geel is. Daar word luidkeels gelag.

Tyd vir Mardaleen om haar vertrek te neem. Sy knik vir die professor, wat van stryk gebring lyk, maar met ’n besliste plukkie by die een mondhoek. Uit by die swaaideur. “Kom,” sê sy vir Lara. Hulle loop vinnig. In stilte. Lara ken haar goed genoeg om te weet dis nie ’n goeie tyd vir praat nie.

’n Toneel uit Vergeet my nie wat in Londen geskiet
’n Toneel uit Vergeet my nie wat in Londen geskiet is. Foto: kykNet

Mardaleen het gedoen wat sy moes, maar as sy dit wat pas gebeur het nou begin dissekteer, gaan sy aan die tjank raak.

Gramskap is beter. En tevredenheid dat jy dit gekanaliseer het. Hulle trek al ’n goeie ent verder op kampus, in Lovers’ Lane soos die duiwel dit wil hê, toe Braam se haastige tred agter hulle opklink.

Enigeen sou weet hoekom dit hom ’n rukkie gevat het om hulle in te haal: hy klou die mandjie vas waarin hy skynbaar die meeste van sy klere versamel kon kry.

“Mardaleen!” roep hy uit asof sy nie kan sien hy’s hier nie, of asof hy wil seker maak sy dink nie dalk dis met Lara wat hy wil praat nie. Sy antwoord nie, kom net tot stilstand. Hy skep asem. “Jy’s die heeltyd besig . . . Wanneer jy nie waitress nie, sit jy jou aande om by die koerant.” “So dis my skuld?” “Marda . . .” Die mandjie gly. Hy klou dit vaster. “Ek was eensaam.” “Jou arme ding. Ek waitress nie omdat ek dit geniet nie – ek moet self vir my studies betaal, Braam!”

“En die koerant?” Toe sy net sug, kla hy: “Daar’s altyd iets. Iets belangriker as ek.” “Dis nie waar nie! Ek wil net . . . Ek werk hard, want ek wil nie soos my . . .” Sy knip die sin net daar af. Sy skuld hom geen verduideliking nie.

Om die waarheid te sê, sy skuld hom niks meer nie. Lara staan nader. “Jy moet dalk nou gaan, Braam.”

Toe sy en Lara die punt van Lovers’ Lane bereik, is Mardaleen se gemoed nog vrek ver van rustig af. Maar dis beter. Sy ken tog daardie gevoel – dis ’n baie spesifieke soort woede. Wat sy mos al geleer het om te hanteer. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe