Klein kook & geniet
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur S.J.A. de Villiers en Eunice van der Berg (Human & Rousseau, R245*)

Op die omslag kan jy nie sien of dit ’n seun of meisie is wat die bord met smoothies vashou nie – wat wys dié boek, wie se ouma uit 1951 kom, beweeg saam met die tye.

Klein kook & geniet, wat die eerste keer in 1982 verskyn het, beleef nou al sy sewende druk. Die resepte lyk só lekker, mense sonder kinders of kleinkinders sal dalk lus kry om ander se kleintjies te nooi om hulle te leer kook.

By elke resep word aangedui watter gereedskap en bestanddele uitgehaal moet word, en elke stap word met kleurfoto’s verduidelik.

Benewens happies wat kinders gou ná skool vir hulself kan maak, soos gebraaide kaasbroodjies of roereier en kaas, is daar vullender geregte wat hulle vir die gesin kan berei: tunakasserol, viskoekies, kroningshoender en spaghetti bolognese, om ’n paar te noem. En natuurlik pizza en macaroni-en-kaas. Daar is ook resepte vir ontbyt, slaaie en groente.

Die plek waar baie kinders seker sou wou wegtrek, is by die poedings, koekies en lekkers. Troos jou daaraan dat dit ten minste geen van die preserveermiddels en ander byvoegings bevat van gekoopte soetgoed nie.

Hulle kan vir gaste uithang met ’n spoggerige koekstruif en selfgemaakte vla of ’n eenvoudige lemoenyskaspoeding.

Hulle kan ook vir die naweekontbyt plaatkoekies of semelmuffins maak en vir die dag wanneer daar weer ’n skoolmarkie is, die lekkerste dadelbolletjies en kolwyntjies.

  • Gee dié boek gerus present vir dié onder 13 (of vir ’n tiener wat skaars hul eie koffie kan maak en nou deur die TV se kosprogramme begeester word).
’n Grootwordgids vir meisies & ’n Grootwordgids vir seuns
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Anita Naik en Phil Wilkinson (Lapa-uitgewers, R150 elk*)

Wanneer meisies so jonk as sewe sê hulle wil ’n perfekte vel en tande hê en maer wees, weet jy iets is êrens verkeerd.

Só het die Britse joernalis en skrywer Anita Naik eenkeer in ’n onderhoud gesê. Sy skryf daarom in ’n Grootwordgids vir meisies ook oor ’n goeie selfbeeld. Dit is gemik op meisies wat puberteit betree.

“Puberteit kan jou skaam of verleë laat voel, maar dis nie nodig nie. Dit is ’n normale en natuurlike proses.” Van hier gaan sy voort om te verduidelik hoe ’n mens se lyf verander, van borste en lyfhare tot puisies en menstruasie.

Anita Naik. Foto: Instagram
Anita Naik. Foto: Instagram

Anita gee praktiese wenke, byvoorbeeld by menstruasie waar sy verduidelik hoe jy sanitêre doekies en tampons gebruik, en of dit waar is dat tampons in jou lyf kan wegraak.

Omdat dit vir sulke jong kinders bedoel is, is daar nie uitvoerige seksvoorligting nie – dit word kortliks en feitelik verduidelik sonder eks­plisiete tekeninge. Humeurigheid, eetgewoontes en oefening word ook bespreek.

Dis ’n nuttige boekie wat ’n puber se kwessies ligtelik aanraak sodat die ouer self meer inligting kan gee soos hulle goeddink.

’n Grootwordgids vir seuns volg dieselfde formaat en sal net so handig te pas kom.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • Al twee boekies is ideaal om vir jou kind te gee om eers te lees voor jy self met die Groot Gesprek ­begin.
Diere van die orde
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Jules Howard en Fay Evans. Illustrasies: Kelsey Oseid (Protea Boekhuis, R375*)

“Jy kan amper sê ek is in museums grootgemaak. Wanneer jy ’n kind is, is dinge soos diere en astronomie magies.” So sê Kelsey Oseid, die Amerikaanse illustreerder van die magiese Diere van die orde, in ’n oorsese onderhoud.

“Wetenskaplike geletterdheid is so belangrik!” antwoord sy op die stelling dat dit lyk asof die wetenskap deesdae nie meer vertrou word nie, veral in Amerika.

“As my werk en dié van ander natuur-illustreerders mense kan inspireer om ’n bietjie meer van soölogie en biologie te leer, is dit wonderlik.”

Haar illustrasies in Creatures of the Order, wat nou ook in Afrikaans beskikbaar is, is wonderbaarlik en maak hierdie boek vol inligting nog aantrekliker. Sestien van die wêreld se ordes (families) word hierin belig.

Coleoptera is een van hulle. Dit is die talrykste van al die insek­ordes, en hul geheim is hul eerste stel vlerke wat as harnas dien om hul liggaam en sy tweede stel vlerke te beskerm.

Een van hulle is die vioolkewer wat met sy ongewone dekskildvlerke en lang kop bra baie na ’n musiekinstrument lyk.

Die 22-kol-liewenheersbesie hou van muf en word aan die swart kolletjies op hul geel vlerke uitgeken. Vir my was een van die interessante feite die verskil tussen ’n naaldekoker en ’n waterjuffer (die twee hoofgroepe van die orde Odonata), want ek het nog nooit geweet watter een van die twee kom sit hier voor my op ’n grashalm nie: Die naaldekoker rus met uitgespreide vlerke en die waterjuffer met hul vlerke teen die lyf.

  • Nog iets: Albei is heel akrobaties, want hulle paar dikwels terwyl hulle vlieg.
* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAF KENNISGEWING.
Bronne: mndaily.com, darlingillustrations.com