Anatomicum
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

DEUR JENNIFER Z. PAXTON. ILLUSTRASIES: KATY WIEDEMANN
(In Suid-Afrika uitgegee deur Protea Boekhuis, R429*)

“Hierdie boek is vir enig­iemand van nege tot 99 wat in die menslike liggaam belangstel.”  So sê dr. Jennifer Paxton van Anatomicum, die vierde boek in die Welkom by die museum-reeks.

Dr. Jennifer Paxton doseer anatomie aan die Univer
Dr. Jennifer Paxton doseer anatomie aan die Universiteit van Edinburgh en is ook verbonde aan die Paxton Lab. Foto: YouTube-skermgreep/College of Medicine & Veterinary Medicine

Sy doseer anatomie aan die Universiteit van Edinburgh en is ook verbonde aan die Paxton Lab, wat navorsing doen oor die ontwikkeling van nuwe weefsel van die spier-skeletstelsel vir inplanting ná ’n besering of siekte. Daarom is sy uitstekend toegerus om die werking van die menslike liggaam te verduidelik, maar nie in stowwerige taal nie.

“Al ken ek die onderwerp baie goed omdat ek anatomie doseer, moes ek navorsing doen oor hoe ander mense hierdie kennis aan die publiek oorgedra het. Ek moes ’n taal kry wat ’n mens kan gebruik om ’n ingewikkelde onderwerp verteerbaar te maak,” sê sy in ’n video-onderhoud wat op Twitter geplaas is.

Die taal is inderdaad op die man af, en feite word helder en sistematies oorgedra sodat oud en jonk kan verstaan hoe die liggaam se binnekant byvoorbeeld lyk of hoe spiere gebruik word om emosies te wys of hoe ’n mens uit een enkele selletjie ontwikkel.

Jennifer vertel hoe die illustrasies tot stand gekom het: “Ek het vir Katy Wiedemann voorstelle gestuur, maar dit was standaard- akademiese illustrasies. Sy het toe haar artistieke vaardighede gebruik om die pragtige illustrasies en diagramme te maak wat vandag in die boek te sien is.

“Een van my gunstelinge is haar illustrasie van die gewrigte. Sy wys op ’n unieke manier hoe jou gewrigte lyk en beweeg. Dit laat jou na die liggaam kyk as ’n masjien. Haar aandag aan anatomiese detail en verskillende aansigte is visueel ongelooflik.”

As jy Katy google om haar beter te leer ken, kry jy haar nie op ’n universiteit se webtuiste nie; wel by femaletattooers.com. Sy is ’n Amerikaanse tatoekunstenaar, maar het ook ’n kursus in wetenskapillustrasies gedoen.

Sy vertel in ’n aanlyn onderhoud sy het haar ouers gevra om vir haar 12de verjaardag vir haar antieke anatomieboeke present te gee.

“Ek het altyd geweet ek wou ’n kunstenaar wees, maar wanneer ek vir mense vertel het watter soort tekenings ek wou doen, het hulle altyd gereageer met die teleurstellende stelling dat dit eenvoudig nie meer gedoen word nie.

“Die ou illustrasies was so anders as dié in my wetenskaphandboeke op skool. Laasgenoemde was stokstyf en steriel in vergelyking met die dramatiese liggame in die boeke wat ek versamel het.”

Katy Wiedemann se 50 illustrasies in hierdie boek
Katy Wiedemann se 50 illustrasies in hierdie boek sluit in die spier- en skeletstelsel, skedel, kardiovaskulêre en asemhalingstelsels, immuun- en limfatiese stelsels.

Haar 50 illustrasies in hierdie boek sluit in die spier- en skeletstelsel, skedel, kardiovaskulêre en asemhalingstelsels, immuun- en limfatiese stelsels.

Anatomicum is meer as ’n leer- en leesboek; dis ’n versamelstuk-kunsboek.

Planetarium
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

DEUR RAMAN PRINJA. ILLUSTRASIES: CHRIS WORMELL
(In Suid-Afrika uitgegee deur Protea Boekhuis, R429*)

“Ons beleef tans ’n ongelooflik opwindende tyd in ons verkenning van die heelal. In die volgende dekade sal die lansering van nuwe ruimtetuie en die bou van reuseteleskope ons toelaat om verder as ooit tevore van ons planeet af te sien,” skryf prof. Raman Prinja van University College London in sy voorwoord.

“Nuwe waarnemings kan ons leidrade gee oor van die heelal se grootste onbeantwoorde vrae. Is ons alleen in die heelal? Is daar heelalle benewens ons eie een? Hoe lyk die binnekant van ’n swartkolk?

“Geen mens weet wat die sterrekundiges van die toekoms kan ontdek nie, maar hulle sal ongetwyfeld die grens van ons kennis verskuif.”

Opwindend! Net so opwindend is dié boek wat jou op “ ’n interstellêre reis ver buite die Aarde se grense neem”.

Planetarium is die derde boek in die Welkom by die museum-reeks. Die eerste twee is Botanicum en Dinosourium.

Hierdie verbluffende harde­band­boeke is groot (370 x 272 mm), met illustrasies wat soos kunswerke lyk en kriptiese inligting wat alles oordra wat selfs die nuuskierigste leser sou wou weet oor die onderwerp.

Die illustrasies lyk soos kunswerke.
Die illustrasies lyk soos kunswerke.

Verlustig jou in inligting oor onder meer ruimteteleskope en moderne sterrewagte, dwergplanete en eksoplanete, die naghemel van die twee halfronde, sterrestel­swerms, die wegholheelal en ja, die einde van die heelal.

* BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYSE BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.