Die lang man sonder skaduwee 

Die Karoo se grondpad na genesing Deur Antoinette Pienaar (Umuzi, R199*)

“By boekeskool het ek dom gevoel, maar in die veld het ek so slim gevoel. So het ek die eerste tien jaar van my vakleerlingskap ver weggebly van boeke af wat my iets van kruie kon leer.

"Ek het my toegewy om by oom Johannes te leer van Karookruie, uit die veld uit. Dit bly steeds vir my kosbaar dat hy my leer met die oorvertel en die wys, want hierdie orale tradisie gaan ver, ver terug in die Griekwa-tradisie en dit resoneer diep in my.”

Dit is die aktrise Antoinette Pienaar se tweede boek oor haar leerskool op Theefontein buite Beaufort-Wes by Johannes Willemse, wat nou al in sy 90’s is.

Dis harde Karoowêreld wat jou aan sy hitte en koue uitlewer, maar ook sy genadige reën. Sy skryf oor hoe hulle hul dorpsbesoeke moet skuif tot die modder droër word.

“Dis ’n groot voorreg vir ’n Karoomens om agter ’n rivier bulderende bruin water te moet sit en wag tot die water sak.”

So vertel sy van ’n keer toe die reën hulle onkant betrap het op die dorp en hulle toe nie gewag het dat die water bedaar nie.

Op pad het oom Johannes haar aandag afgelei met stories oor wegspoelings tot hulle by die Soutrivier gekom het wat “so sterk oor die pad loop dat hy skuimbolle teen die bosse maak. Anderkant die rivier sien ek twee Land Cruisers staan. Ek is so meegevoer deur die storie dat ek so dapper voel dat ek in my kortsigtige droomverlorenheid dink hulle is seker maar ordentlik, hulle wag dat ek eerste deurgaan.”

So stuur sy Dapper, haar ou dieselbakkie, se neus die waters in met oom Johannes wat sê dié kant toe, daai kant toe, en Antoinette wat voel of haar neusvleuels by die ruit uitsteek soos die bang haar beetpak.

Toe hulle eindelik anderkant uitkom, sit die mense in die Land Cruisers met oë so groot soos pierings. Sy draai haar ruit af en sê: “Is hierdie reën nie fantasties nie?”, ry tot oor ’n bultjie waar hulle haar nie kan sien nie, skakel Dapper af en huil hard.

Die inligting wat Antoinette oor kruie en plante gee, is waardevol, maar wat die boek vir my so besonders maak, is die sensitiewe manier waarop sy die natuur om haar beskryf – die berge, maan, wolke, son . . .

Die Karoo raak soos ’n gedig wat jou meesleur.

THE NEUROSCIENTIST WHO LOST HER MIND

Deur Barbara K. Lipska (Penguin Random House, R255*)

Dr. Barbara Lipska is ’n neurowetenskaplike, ’n kenner wat soek na redes vir breindefekte in die hoop dat sy en haar span eendag ’n fisieke diagnostiese hulpmiddel vir geestesiektes kan bedink – en dit eindelik kan genees.

Sy bestuur ’n breinbank en het al honderde artikels oor neuropsigiatriese steurings gepubliseer. Maar dan laat haar eie brein, wat haar deur die jare in staat gestel het om sulke gevorderde werk te doen, haar skielik in die steek.

Sy ontvang ’n diagnose wat haar lewe op sy kop keer: ’n bloeiende breingewas, wat net kan dui op metastatiese melanoom, die aggressiefste soort kanker.

Barbara het tevore al borskanker en velmelanoom oorleef, maar dié keer weet sy dis doodsake. Sy verloor haar geheue en dwaal ure lank in haar buurt rond sonder om te weet watter huis hare is.

Sy moet ook gedragsveranderings, fisieke simptome en irrasionale gedagtes hanteer. Haar simptome kan dui op demensie of skisofrenie.

Barbara skryf in ’n artikel in The New York Times: “My jongste skanderings wys byna al die gewasse in my brein het verdwyn of aansienlik gekrimp.

"Teen alle verwagting in was die behandeling doeltreffend. Ek hou steeds my emosies en gedrag fyn dop om te kyk of iets weer uitrafel. Dit bly ’n obsessie.

"Maar ek leer om my te verheug dat my brein weer werk. Ek kan die sonnige straat buite sien en dit verstaan. Ek kan my kinders bel en hulle sal my stem herken en van verligting sug. Ek kan my rekenaar aanskakel en weer werk.”

Haar memoires gee ’n toeganklike insig in die wêreld van neurowetenskap en die krag en weerloosheid van die brein. – Nonhlanhla Khumalo

Die keer toe ek my naam vergeet het

Deur F.A. Venter (Protea Boekhuis, R209*)

“Die dood het een môre suutjies by my kombuis in Seemeeu 1104 in die Strand ingekom. Baie suutjies. Juis toe ek besig was om die ontbytgoedjies op te was. Ek het hom nie gehoor óf gesien óf verwag nie. Ek het so goed gevoel. So vol energie. Sou nog die middag gaan rolbal speel. Ek het dié oggend waarlik kans gesien vir die lewe.”

F.A. Venter was 74 toe ’n beroerte hom plattrek.

Vyf jaar later (in 1995) het Die Keer Toe Ek My Naam Vergeet Het verskyn waarin hy vertel hoe hy van voor af moes leer loop, praat en skryf.

Hy kon nie sê wat ’n suikerpot of stofsuier is nie, maar daar was ’n ander neerlaag waarvan niemand bewus was nie.

“Wat is jou naam?” het sy vrou, Stella, gevra.

“En so waaragtig, ek het nie ’n benul gehad nie! Dit het soos ’n swaar klont in my binneste gelê.” Die skrywer is in 1997 oorlede en vanjaar is sy aangrypende boek heruitgegee. 

  • Beskikbaar teen dié pryse by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.