Kringloop

Deur Bets Smith (R265)

Kringloop

Waar kom die skrywery vandaan?

Skrywers is lesers; ek ook. Die skryfsaadjie is waarskynlik in my grootwordjare geplant deur stories wat ek gehoor en gelees het. My vakgebied (geskiedenis) het dalk die saadjie laat ontkiem.

Die gebrek aan spanningsromanses in Afrikaans het my die eerste tree laat gee. My navorsing in weermaggeskiedenis het die agtergrond geskep, en ’n storie het in my kop gegroei en op papier beland.

Kringloop in ’n neutedop

Dis ’n verhaal van teistering deur ’n sluipjagter en die verlatenheid wat ’n jong vrou voel toe die gereg haar nie glo nie. Dit beskryf haar angs, die verlies aan privaatheid en menswaardigheid, en haar pogings om kennisse en die polisie te oortuig.

Bets Smith

Bowenal beskryf dit die krag van haar oorlewingsdrang, haar wil om terug te baklei al is alles teen haar, en haar vermoë om vas te byt.

Jou gunstelingkarakter?

Die heldin, Reine, is ’n voorloper, maar my gunsteling is haar lyfwag: die bokserhond Toffie.

Boksers word nie beskou as die skerpste messe in die laai nie, maar uit ondervinding weet ek jy moenie hul liefde en lojaliteit onderskat nie.

AL WAT OORBLY

Deur SANTIE VAN DER MERWE (R149*)

Al wat oorbly

Waar kom die skrywery vandaan?

Ek skryf al my hele lewe lank. Ek het as klein dogtertjie storietjies in dun oefeningboekies geskryf en dit geheimsinnig weggesteek, en as tiener dramatiese gedigte.

Ek het deurlopend geskryf, maar onsamehangend en sonder doel.

Toe my kinders klein was, het ek hier en daar ’n kortverhaal geskryf, maar dit was eers toe my jongste kind klaar is met skool dat ek met erns en toewyding begin skryf het.

Al Wat Oorbly in ’n neutedop

Al Wat Oorbly gaan oor Julia, wat deur ’n ongenaakbare, koue stiefma grootgemaak is nadat haar ma oorlede is toe sy nog klein was.

Santie van der Merwe

Sy het gesweer sy sal nooit ’n ma, en nog minder ’n stiefma, wees nie, maar toe raak sy verlief op haar buurman, die pa van twee kinders.

Haar stiefma sterf net toe sy haar en Wynand se verhouding beëindig en dwing sodoende die verlies van haar ma, wat sy nooit verwerk het nie, na die oppervlak.

Jou gunstelingkarakter?

Dis beslis Gielie, Julia se stiefskoonsuster. Sy is opreg, het geen versteekte agenda nie en is pynlik eerlik, maar het ’n hart van goud.

Blom In Die Hare

Deur Kristel Loots (R265*)

Blom in die hare

Waar kom die skrywery vandaan?

Ek het kleintyd skaars leer skryf toe die moeilikheid begin.

“Moenie jou letters so groot en vet maak nie,” is ek berispe. Maar ek wou. Mense moes sien wat ek geskryf het. Mense moes lees wat ek geskryf het.

Kristel Loots

Die kat sit op die mat. Om my groot, vet letters later gepubliseer te kry waar mense dit sien en lees – en dan nog daarvoor betaal te word – laat my onwrikbaar aan wonderwerke glo.

Blom in die Hare in ’n neutedop

In haar grootwordjare in die laat 1980’s dra die vroue skouerkussings en groot hare, maar nie Kaila nie. Haar aanneemma is kerklik en koeklik en nie regtig vir haar lief nie.

Al wat sy toegelaat word, is ’n blom in die hare, iets wat sy eers later sou verstaan. Die gevaarlike verhouding tussen haar en ’n onderwyser oorheers haar lewe. Ná haar ma se verdwyning bly Kaila na haar soek om antwoorde op haar baie vrae te kry.

Later jare stort sy haar liefde uit op haar seun, maar kan nie die kwaad van hom af weghou nie.

Jou gunstelingkarakter?

Ek bewonder Kaila se kamermaat op universiteit, Bettie, die vettie.

Sy’t geweet sy sou raakgesien word met daardie potsierlike lyfie van haar en wou hê dit moes vir haar werk, nie teen haar nie.

Daarom het sy haar van die stereotiepe vet en vaal na flambojant en verleidelik vervorm en die mans om haar verwar en bekoor. Kaila met haar outydse rokke en Moeder Maria-hare moes noodwendig ook ’n gedaantewisseling ondergaan sodat Bettie haar kon saamsleep op haar pad na sukses.

UIT DIE BLOUTE

Deur CHANETTE PAUL (R149*)

Uit die bloute.

Waar kom die skrywery vandaan?

Ek was agt toe ek vir myself begin stories skryf het en 16 toe een, ’n sprokie, in Siembamba voorgelees is. In matriek het ek ’n kortverhaal geskryf wat later in Huisgenoot gepubliseer is.

Ná ’n paar terugsendings het ek 20 jaar lank geglo my droom om ’n skrywer te word is vergeefs. Vlak voor 40 het ek weer probeer. Nadat ’n kortverhaal deur Sarie aanvaar is, kon ek nie weer ophou nie.

Uit die Bloute in ’n neutedop

Chanette Paul

Ayla, ’n grafoloog, besef sy moet haar suster, Nimue, dringend opspoor nadat sy die handskrif van dié se vriendin Diana ontleed het. Albei is vermoedelik lede van ’n groep vroue wat wag dat die moederskip hulle na ’n nuwe planeet neem waar hulle ’n vreedsame samelewing sal stig.

Nadat ’n sluipmoord plaasgevind het, stem Jojo Richter in om Ayla te help soek. Spoedig krap hulle ’n hele miernes van verdwynings en vreemde sterftes oop.

Jou gunstelingkarakter?

Ondanks ’n baie sagte plekkie vir Ayla Hurter wen Jojo Richter met ’n kortkop. Sy het haar al by vyf boeke ingewurm, en ek leer haar met elkeen beter ken.

Terwyl sy ’n moord probeer oplos en navorsing doen oor onder meer VVV’s, moet sy vrede maak met 60 wees en – as sy haar geliefde Joachim wil behou – ook met haar koddige lyf.

Sy is flambojant en vol draadwerk, maar vir my ’n diep menslike karakter.

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.
Foto’s: Izak de Vries, Rochelle Steyn