Die verlore seun vannie Gaatjie

Deur Ivor Swartz (Lux Verbi, R240*)

Ivor Swartz. Foto: Hanneri de Wet
Ivor Swartz. Foto: Hanneri de Wet

“Die meeste mense sê dit laat hulle hardop lag en skaamteloos huil – al is baie van die gebeurtenisse ver verwyder van hul eie stories. Daar is ook dié wat eerlik erken hul kind is ook tans ’n monster, of in die tronk, of word sonder ’n pa groot,” vertel Ivor Swartz van sy aangrypende boek, Die verlore seun van die Gaatjie.

“Mense vind aanklank by die eerlikheid, die stukkies wyshede wat deur die pynlikheid geweef is, en die dankbaarheid wat alles vashou. Danie du Toit van Spoegwolf het vir my op WhatsApp gesê: ‘Jou boek is life-changing,’ en ook op sy Instagram-stories gesê sy hele band lees die boek.”

Die Gaatjie by Grabouw is nie ’n plek wat ’n mens kies om in groot te word nie. Dis “nie die prentjiemooi Elgin-gedeelte nie, maar die stowwerige rooigrondstrate” waar daar baie armoede en rondloperhonde en baie min teenwoordige pa’s is.

Ivor se pa is jonk dood, waarna die oudste broer, Deon – “Bosstraat 197 se monster” – hierdie rol oorgevat en sy jonger sibbes aan die ergste trauma denkbaar blootgestel het. Hy het selfs eenkeer aan die Kerstafel in ’n woedebui ’n stuk van sy vrou se oor afgebyt.

Selfs ma Lettie kon hulle nie teen hom beskerm nie. Desondanks vaar Ivor goed op laerskool, hy staan eerste in die klas en droom daarvan om eendag ’n dokter te word.

Beskikbaar by NB Uitgewers
Beskikbaar by NB Uitgewers

Maar die wiele kom af en Ivor word een van die gevreesde skollies van die buurt wat saam met sy vriende amok maak. Hy beland as tiener reeds in die tronk, waar hy vyf jaar deurbring, maar darem sy matriek voltooi.

Dis ’n ongelooflike verhaal van swaarkry en seerkry, maar sedert sy vrylating in 2005 het Ivor “die verlore seun”, soos hy graag na homself verwys, ’n ander pad ingeslaan, teologie studeer, en vandag is hy ’n jeugdominee in Pretoria en getroud met Na­dine, “die heel grootste geskenk wat God vir my gegee het”. Hy verwonder hom daagliks daaroor dat hy ’n plek het wat hy “huis” kan noem.

“Ek staan elke oggend op en ek hoop dat ek in minstens een mens se lewe ’n verskil kan maak. Daai wens word by die dag oorskry. Ek besoek jaarliks tussen 60 en 80 skole in ons land,” skryf hy.

Hou aan loop
Beskikbaar by shop247.org.za
Beskikbaar by shop247.org.za

Deur Gerjo Ben van der Merwe (Benta Press, R150)

“Ek kyk nie meer nuus nie, want dit is net nie meer vir my lekker nie.

“Dis nie opbouend nie. Dis heeltyd slegte nuus – oor mense wat oneerlik is, oorloë, mense wat motorbande aan die brand moet steek om gehoor te word, mense wat sommer net doodgemaak word, sonder rede.

“Nêrens is daar meer vrede te vind nie. Selfs in verhoudings tussen eggenote, kinders en ­ouers en selfs vriende raak vrede ’n skaarsheid. Daarom dat ons nie lekker voel nie. Daarom dat ons nie meer kans sien vir die lewe nie. Want vrede het soek geraak.”

So begin Gerjo Ben van der Merwe een van die 366 skryfsels in sy vyfde boek.

Hy gaan dan voort om deur Bybelverse te verduidelik hoe vrede gevind kan word. Dit is die eenvoudige manier waarop hy skryf wat maak dat sy Kruispad-e-pos-bediening soveel mense bereik – mans én vroue.

  • Drie keer per week word 50 000 boodskappe per e-pos en 40 000 per WhatsApp gestuur en Sondae kan ’n diens bygewoon word by Kruispadtv op YouTube.
  • Bestel die boek teen R150 by kruispadboeke.com teen R150 plus R59 koeriergeld. Ook beskikbaar by CUM Boeke. (In Engels beskikbaar as Keep Going.)
Gediggies vir vrolike gesiggies
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Aletté-Johanni Winckler (Lux Verbi, R212*)

Ek hou nie van praat voor mense.
Nee wat, nee, ek ken my grense.
Saggies sal ek later sê wat my diepste hart wil hê.

So begin een van die 49 gediggies wat Aletté-­Johanni Winckler, self ’n ma van vier, vir kinders tussen drie en agt jaar oud  geskryf het. Die meeste is deur haar man, Heinz, getoonset en 20 van hulle kan gehoor word op die CD wat by die boek ingesluit is.

In elke versie leer die kind iets oor God, maar ook hoe om probleme in die lewe aan te pak, byvoorbeeld as maatjies hulle ignoreer of afknou, as boeties of sussies hulle pla of as hulle nie kan kry wat hulle wil hê nie.

Wess-lee de Klerk se oulike illustrasies sal Gediggies vir vrolike gesiggies baie aan­treklik maak vir kleintjies.

Op pad deur Betlehem

Deur Engela Linde (Lux Verbi, R198*)

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Hier is 66 stiltetyd-­oordenkings van Genesis tot Open­baring waar Engela Linde een stiltetyd per Bybelboek gekies het.

Sy skryf sy wil graag met dié boek haar eie verdiepte insigte deel:

“Onder meer: Hoe kon die verbondsvolk se woestynreis so lank duur? Hoe kon Simson 300 jakkalse vang? Waarom het Hosea so ’n tragiese liefdeslewe gehad? Wie was die wyse manne (of sterrekykers) uit die ooste? Waar presies was die ‘oorkant’ waarvan ons lees in die eerste wonderspysiging?”

Sy skryf daar is heelwat vrae wat beantwoord word, “maar daar is ook ander waarvoor daar nie ’n antwoord is nie, soos presies wat die doring in Paulus se vlees was”.

  • Teen dié prys beskikbaar by Graffitiboeke.co.za. Aflewering landwyd – as jy meer as R500 bestee, is dit gratis per koerier; Bestellings minder as R500 kos R89.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe