Die Skilpad Se Laaste Traan
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Carol Campbell (Umuzi, R209*)

Die storie van Siena, Boetie en Kriekie speel af rondom Seekoegat, ’n nedersetting iewers in die Karoo in die omstreke van Prins Albert. Siena is op vlug, terug na Seekoegat- Primêre Skool, die plek waar sy as kind ’n heenkome gevind het.

Sy moet dringend weer daar uitkom voor sy aangekeer word vir haar des­perate daad.

Carol Campbell het in 2013 bekend geword deur haar hoog aan­ge­skrewe debuut, Karretjiemense. In 2014 het ’n Huis vir Ester gevolg.

Beskikbaar by takealot.co.za
Beskikbaar by takealot.co.za
Beskikbaar by takealot.co.za
Beskikbaar by takealot.co.za

Ons vra haar uit oor haar jongste roman.

Hoe ken jy as wit – en boonop Engelse – vrou die wêreld van dié arm Karoomense so goed?

Ek is ’n joernalis en kom uit ’n familie van joernaliste.

Ek dink dis wat my “die storie” in die karretjiemense laat sien het. Ek het besef hier’s iets wat vinnig aan’t verdwyn is; dit moet vasgevang word. Ons het so 10 jaar ’n vulstasie in die Karoo gehad; as jy mense elke dag sien en met hulle praat, leer ken jy hulle goed.

Ken jy genoeg Afrikaans om iets te sê oor die vertaling?

Ja, ek lees Afrikaans en is dankbaar vir Kirby van der Merwe wat al drie my romans vertaal het. Hy ken die ritme van die Karoomense se praat en het ’n fyn ingestelde oor. Dis nie boeke wat deur enigeen vertaal sou kon word nie; dit het iemand geverg wat net so lief is vir die Karoo soos ek.

Wie is jou gunstelingkarakter in die boek?

Carol Campbell ken die arm mense van die Karoo. Fo
Carol Campbell ken die arm mense van die Karoo. Foto verskaf

Die hoofstuk wat ek die meeste geniet het om te skryf, was waar Siena ouma Loos ontmoet. Daar is baie soos sy in die Karoo; hulle neem niks te ernstig op nie, al het hulle ver­skriklike armoede en lyding verduur.

Die vrou wat ouma Loos geïnspireer het, is lankal dood, maar ek onthou hoe ek gelag het toe sy in binnelandse sake op Oudtshoorn probeer onthou het in watter volgorde haar volwasse kinders gebore is. Selfs die amptenare het gelag.

Verduidelik wat beteken die skilpad se laaste traan

’n Karretjieman het my ’n slag vertel hy eet nie skilpad nie, maak nie saak hoe honger hy is nie. Toe ek hom vra hoekom nie, hulle is dan so maklik om te vang en gaar te maak, het hy lank na my gekyk.

’n Skilpad huil net een traan en dis op die oomblik dat hy sterf

“Ja,” het hy gesê, “jy’s reg. Baie mense maak skilpaaie dood en eet hulle, maar my pa het my vertel ’n skilpad huil net een traan en dis op die oomblik dat hy sterf.

“Ek wil nie die een wees wat daardie traan veroorsaak nie; die skilpad se laaste traan.”

Die Dekonstruksie van Retta Blom
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Zelda Bezuidenhout (Kwela, R235*)

Lauretta Blom is ’n perfeksionistiese rykmansvrou van Johannesburg met twee groot seuns wat al uit die huis is. Haar suksesvolle man, To­bias, pendel tussen Johannesburg en Kaapstad vir sy werk.

Dan kom daar ’n kraak in al die volmaaktheid en Lauretta en haar vriendin Charlie vat die pad Kaap toe om te gaan ?ondersoek instel.

Zelda Bezuidenhout se eerste boek was die verkwiklike jeug­roman As Mens Geluk Kon Proe en die tweede, Die Ses Weke van Thomas en Ella, verskyn in September.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Ons vra haar uit oor haar eerste volwasse roman, Die Dekonstruksie van Retta Blom.

Jy was ’n kopieskrywer. Is dit waar jy jou talent geslyp het?

Ja, ek was vir meer as 30 jaar ’n kopieskrywer. Ek skryf dus al baie jare vir my brood, maar reklame is ’n heel ander soort gedierte.

Die grense waarbinne jy as advertensie­skrywer skeppend moet wees, is duidelik en ononderhandelbaar. Om boeke te skryf gee ’n mens baie meer vryheid.

Hoe lyk jou skryfroetine?

Ek het absoluut geen skryfroetine nie. Soms skryf ek sommer ’n hele dag lank in my slaapklere. Dan gaan daar weer dae verby sonder dat ek ’n enkele oorspronklike gedagte kan uitbroei.

Maar ek hou daarvan om alleen te wees wanneer ek skryf.

My skryfprogram hang dus af van wat my huismense doen. Dis ook vir my heerlik om in ’n koffiekroeg te skryf. Maar nie op my tuisdorp, Parys, nie; hier ken ek te veel mense en dan klets ek die hele dag om.

Waar kom jy aan die storie van Retta Blom?

Zelda Bezuidenhout se eerste volwasse roman is nou
Zelda Bezuidenhout se eerste volwasse roman is nou op die rakke. Foto: Mia Bezuidenhout

Jare gelede het iemand my vertel hoe haar man sy tas op ’n baie “vreemde” manier in sy bagasiebak gelaai het toe hy vir ’n paar dae in ’n ander stad moes gaan werk. Daardie klein “foutjie” wat hy voor haar begaan het, het haar laat wonder of hy nie dalk plek los vir iemand ­anders se tas nie.

Dit het my laat besef dat klein tekens groot stories kan vertel. En dat negatiewe ruimte dikwels vir ons die ware prentjies in die lewe skets.

Daar’s ’n mengsel van Bybel­verse en seksspeelgoed – wie is jou teikenmark?

Baie Afrikanervroue bo 40 is in streng, konserwatiewe, Christelike huise grootgemaak.

Baie van ons speel gelate die rol van gedienstige huweliksmaat wat ons ander helfte laat goed lyk, al het ons die breinkrag, oemf en vaardighede om mense in eie reg te wees.

Baie van my tydgenote worstel met kwessies soos ontrouheid, geloofswankeling, seksuele bevryding, die leënes­sindroom, ensovoorts.

Ek wou graag ’n boek skryf vir vroue van my ouderdom wat nie so lig soos spookasem is nie, maar ook nie te intellektueel nie. Sommer net ’n boek wat die leser sal laat voel sy is nie alleen nie.

Dink jy nie Retta verdien ’n opvolg nie? Waaraan werk jy nou?

Ek het vir Retta vrygelaat soos ’n duif wat jare in ’n beige kou ingehok was. Sy moet nou alleen vlieg, en ek hoop sy gaan haar eie storie verder skryf. Ek werk nou aan ’n derde jeugroman.  

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET  DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.