Seks, leuens en die internet
Die aktrise Marion Holm gesels op 11 Maart met Erl
Die aktrise Marion Holm gesels op 11 Maart met Erla-Mari Diedericks by die Woordfees op Stellenbosch.

Deur Erla-Mari Diedericks (Wenkbrou-uitgewers, R209*)

Die joernalis en skrywer Erla-Mari Diedericks se Seks, leuens en die internet is ’n skrynend eerlike verslag van ’n vrou se soeke na ’n sielsgenoot.

Sy begin selfs wonder of daar hoegenaamd so iets bestaan, hoewel sy haar boek opdra aan “Gary, my sielsgenoot”.

Erla-Mari antwoord drie vrae:

Vind jy dit nie te blootstellend om so oor jou soeke na ’n man te skryf nie?

Ek beskou dit nie ontblotend nie, want dis eerder ’n soeke na liefde. Mans is maklik om te kry. Dis liefde wat so moeilik is om vas te vang en vas te hou. Om liefde te soek is ’n universele begeerte. Almal raak alleen. Almal smag daarna om liefde te kan gee en te ontvang.

Juis deur openlik daaroor te praat help verwyder ek hopelik die stigma wat aan aanlyn dating kleef. Dis nie vir desperate mans en vroue nie; dis vir mans en vroue wat ’n basiese menslike behoefte wil vervul: die behoefte aan liefde.

En dis goed vir vroue om te hoor dat hulle nie alleen is nie en dat almal soms slegte ervarings het en soms paddas ontmoet wat net nooit in ’n prins gaan ver­ander nie, al soen jy hulle oopmond.

Seks, leuens en die internet is ’n skrynend eerlik
Seks, leuens en die internet is ’n skrynend eerlike verslag van ’n vrou se soeke na ’n sielsgenoot.

My boek gaan oor baie meer ontblotende onderwerpe soos hoe die menopouse voel en artritis en warm gloede wat jou oud en onbekwaam laat voel. Wat maak jy as jy die ­eerste keer kaal voor ’n vreemde man moet ­uittrek en jou maagrolle het ook saam op die date gekom?

Ek kyk baie diep na die vrese van oudword en die dood. (My pa gaan in die boek dood.) Dis dus meer as ’n soeke na ’n man; dis ’n soeke na myself te midde van hierdie middeljare- menopousale ­gemors waarin ek my eensklaps bevind.

Hoe voel jou seun daaroor dat jy so openlik oor jou seksbelewenisse skryf?

Akteurs word dikwels gevra hoe hul kinders voel oor hul sekstonele in flieks, en dan antwoord die Hollywood-ster altyd dat die kind nie eens die fliek gekyk het of juis daarin belangstel nie.

Jy bly steeds net Ma. Die ironie is dat my kind nog nooit enige van my boeke of rubrieke gelees het nie. Hy dink sy ma se lewe is vervelig. Maar eendag as ek dood is, gaan hy as ou man my boeke lees en dink, genade, dalk moes ek haar meer oor haar lewe uitgevra het.

Dink jy mense moet aanhou soek na ’n sielsgenoot al is die internet so ’n veld vol duwweltjies?

Daar word deesdae verskeie eksperimente gedoen met liefdesoek-­metodes, spesifiek in werklikheidsreekse.

Daar is situasies waar jy die ander persoon kaal ontmoet; dan is daar die reeks waar jy die persoon in ’n stikdonker vertrek ontmoet, en plaaslik het ons natuurlik The ­Bachelor en Boer soek ’n vrou.

Anders as met ­internet-dating ontmoet al die deelnemers mekaar van die begin af, maar al die situasies het wel een ding gemeen – dit gebeur in ’n gedwonge ruimte.

Ek dink dus nie daar word in die moderne samelewing ’n gesonde teelaarde geskep waar liefde kan ontwikkel nie.

Moet ’n mens ophou wag? Die hoop beskaam nie. My ma het my nou die dag vertel van vriende van haar wat nou op 80 getroud is. En toe praat sy my moed in dat ek dalk tog weer eendag liefde sal vind. Ek hoop net ek sal op 80 nog weet wat om daarmee aan te vang.

Eendag is nou
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Kristel Loots (Lapa, R285*)

Jacomien sou JanKoos se tro­feevrou word, want dis nie “die ergste wat ’n vrou kan oorkom nie”, en by hom sou sy veilig wees ná die seerkry van haar studentedae.

Sy moes wel gewoond raak aan sy beheptheid met die dood (seker nie vreemd vir ’n man wat ryk word uit versekeringspolisse verkoop nie), maar van die begin af het sy stories haar nek­hare laat rys.

“Van die bloedjong man, so dronk soos ’n tol, wat uit ’n lugballon val en die skamerige bruid wat aan ’n stuk troukoek verstik het. Dood. Net daar langs haar bruidegom terwyl die gaste dans. Op die maat van die Klipwerf Boereorkes se ‘Kalfiewals’ nogal. Niksvermoedend.”

Jacomien wag nou al jare om gelukkig te wees en nou het eendag eindelik aangebreek.

Donatello & Volksie
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Marion Erskine (Queillerie, R225*)

“Toe Zoë op skool was, het haar ouma altyd Die Keur gekoop. Hulle het lekker gelag vir al die karakters in Toek se Soekhoek: ‘Skoen sonder veters van Ven­tersdorp’; ‘Pot soek deksel van Buf­fels­poort’.

“En natuurlik, die gunsteling: ‘Lydende van Lydenburg’.

“Min het sy geweet sy sou self eendag in dié bootjie wees – dit nogal op die internet! Dit kan mos nie so moeilik wees om die regte persoon te ontmoet nie?”

Zoë hang onder die skuilnaam Volksie in kletskamers rond waar sy Donatello ontmoet – ’n stemmige advokaat wat net suiwer Afrikaans praat.

Dié lekker liefdesverhaal het in 2010 verskyn en is nou heruitgegee.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.