Lig loop vir die middeljare, want dit verg hare op die tande om kop bo water te hou in dié warboel van verandering.

Hier by 50 se kant begin jou produktiwiteit, kreatiwiteit en aanpasbaarheid agteruitgaan. Daarmee saam kwyn jou gevoel van vrede en geluk. Jou beste jare is agter jou, of hoe?

En natuurlik kry jou werk, huwelik en onvervulde drome die skuld daarvoor. Die gevaarligte flikker: Jou middeljarekrisis het aangebreek.

Maar dis sommer twak; trouens, alles wat jy pas gelees het, is onwaar.

Dis nou as ’n mens die Amerikaanse skrywer Jonathan Rauch kan glo. Sy boek The Happiness Curve: Why Life Gets Better after Midlife het onlangs verskyn.

Ja, die middeljare is ’n oorgangstyd en ’n mens kan soms kwesbaar voel. Maar die meeste vooropgestelde idees daaroor, veral die opvatting dat dit ’n krisis is, is gegrond op nadelige mites en verouderde stereotipes, meen Jonathan.

Hy glo die waarheid oor die middeljare is heelwat interessanter – én bemoedigender.

In dié artikel oor sy boek wat hy vir The Guardian geskryf het, ondersoek hy die misleidende mites wat ’n stigma aan die middeljare laat kleef en die alternatief, wat heelwat vertroostender is.

Mite 1

Jy betree ’n gevaarsone

Die middeljare is eintlik ’n oorgangstydperk. Vir die meeste mense is dit geleidelik, natuurlik, bestuurbaar en gesond, al laat dit hulle soms ongemaklik voel. Dis dus die teenoorgestelde van ’n krisis.

Die idee van ’n middeljarekrisis het die eerste keer in 1965 verskyn in ’n artikel deur die psigo-analis Elliott Jaques en was gou deel van ons populêre kultuur.

Sielkundiges kon dit nie in ondersoeke bewys nie, maar die idee van die middeljarekrisis het gebly.

Toe bevind ekonome sowat 15 jaar gelede iets onverwags: die U-vormige gelukskurwe. As mense se inkomste, indiensneming, gesondheid en die huwelik buite rekening gelaat word, neem lewenstevredenheid van ons vroeë 20’s tot ons 50’s af. Dan swaai dit om en styg aanhoudend. Die patroon is dieselfde in uiteenlopende lande en kulture.

Ouer word se uitwerking is nie skielik en drasties nie; dis stadig en kumulatief.

Ons aannames is óf dat oud word geen uitwerking het op hoe gelukkig ons is nie óf dat dit ons sielsongelukkig maak. Maar dis eintlik juis ons aannames wat ons ongelukkig maak.

Natuurlik is oud word nie al wat in jou lewe gebeur nie. Hoe tevrede jy op enige tydstip voel, sal van heelwat faktore afhang. Die uitwerking van oud word is wel meer as genoeg om ’n merkbare verskil te maak, veral as die res van jou lewe stabiel is en taamlik glad verloop.

Ouer word se uitwerking is nie skielik en drasties nie; dis stadig en kumulatief. Ek was ’n tipiese geval. Ek het in my laat 30’s rusteloosheid en ontevredenheid opgemerk, asof my lewe ’n gejaag na wind was. Die gevoel van onbehae het gedurig toegeneem. Teen my middel 40’s was dit uiters ontmoedigend.

En toe, hier by 50, begin my ontevredenheid beter raak, so geleidelik soos dit gekom het. En nou op 58 is dit genadiglik iets van die verlede.

Mite 2

Iets spesifieks pla jou 

Nie noodwendig nie. Die middeljare-onbehaaglikheid kan sonder rede kom.

Op 45 het ek een van die grootste pryse in Amerikaanse tydskrifjoernalistiek, ’n National Magazine-prys, gewen. Dit het my net sowat 10 dae lank vervuld laat voel. Toe keer die ontevredenheid terug.

Ek het die skuld op my loopbaan gepak. Baiekeer was ek in die versoeking om my werk te bedank, net om uit die groef te kom.

Mense sukkel om die oorsaak van hul ongelukkigheid te bepaal. Myne was eintlik die proses van ouer word. Om my loopbaan weg te gooi sou nie gehelp het nie en dit dalk net erger gemaak het. Gelukkig was ek rasioneel genoeg om nie die eerste die beste uitweg te kies nie.

Ná die middeljare is ons minder gesteld op ons status en meer daarop ingestel om ons bande met mense te verinnig.

Baie van ons ploeter voort deur die insinking in ons middeljare sonder om kop te verloor – en dis goed, want duur foute kan ’n insinking in ’n krisis laat ontaard.

Wat behels dié insinking? Dis deels weens natuurlike veranderings in jou waardes. In ons 20’s en 30’s is ons ambisieus en mededingend en wil ons graag presteer en ons aansien verbeter.

Ná die middeljare is ons minder gesteld op ons status en meer daarop ingestel om ons bande met mense te verinnig.

Ons wil ook meer tyd bestee aan aktiwiteite waarin ons belangstel en wat ons lewe verryk. Tussendeur ervaar ons dikwels ’n knersende oorgang wanneer die ou waardes ons nie tevrede gestel het soos ons gehoop het nie, maar die nuwe waardes nog nie gevestig is nie.

Mite 3

Dis net weens mislukkings

As ons gelukkig genoeg is om teen 40 genoeg punte op die telbord te hê en ons doelwitte bereik of oortref het, sal die onbehaaglikheid ons nie tref nie, of hoe?

Verkeerd.

Uitblinkers is veral kwesbaar weens wat navorsers die “hedoniese trapmeul” noem. Om ons te motiveer, maak jeugdige ambisie ons onrealisties optimisties oor hoeveel bevrediging sukses sal bring.

Hoekom is ek nie gelukkiger nie?

Later, nadat ons ’n doelwit bereik het, verskuif ons drang na status en sukses die doelpale. Ten spyte van ons prestasies is ons nie so tevrede soos ons verwag het nie. Ons wonder: “Hoekom is ek nie gelukkiger nie?”

Namate hierdie siklus van prestasie en teleurstelling herhaal, lyk dit asof tevredenheid altyd buite bereik bly.

Uitblinkers loop gevaar hiervoor omdat hulle soveel waarde heg aan prestasie en soveel het om voor dankbaar te wees.

Hulle ervaar dikwels hul ontevredenheid as ongegrond en irrasioneel: ’n morele mislukking. En dit maak hulle nog meer onvergenoegd.

Natuurlik beteken dit nie die bou van ’n onderneming, om ’n doktorsgraad te behaal, ’n gesin te hê of ander bewonderenswaardige drome is nutteloos nie. Dis alles wel die moeite werd.

Onthou net objektiewe sukses bied geen waarborg teen subjektiewe ontevredenheid nie en kan dit vererger – tot die veranderings in ons waardes dit makliker maak om te ontspan.

Mite 4

Jou beste jare is verby

Hierdie mite is een van die grootste oorsake van ontevredenheid, want ons aanvaar as ons teen 50 nie vervuld is nie, sal ons nooit wees nie; dit terwyl die gelukskurwe toon die beste lê nog voor.

In ons 50’s, 60’s en 70’s maak ouer word ons gelukkiger en gelykmatiger, en minder gespanne en berouvol.

Hierdie sogenaamde positiewe gevolge bied ook die een of ander emosionele pantser teen die nadelige uitwerking van liggaamlike agteruitgang en swak gesondheid.

In ’n studie onder leiding van Laura Carstensen, ’n sielkundige van die Stanford-universiteit, is bevind: “In teenstelling met die gewilde opvatting dat die jeugjare die beste lewensfase is, dui huidige bevindings daarop dat die hoogtepunt van jou emosionele lewe dalk eers diep in die sewende dekade voorkom.”

Die valse veronderstelling dat ons ons hoogtepunt in die middeljare bereik, maak nie net middeljariges onnodig pessimisties nie; dit versterk ook die stereotipe van die afgematte bejaarde, wat ouderdomsdiskriminasie in die hand werk en maak dat ’n magdom ervaring en kreatiwiteit onderbenut word.

In Amerika is in studies bevind mense tussen 55 en 65 is meer geneig om ondernemings te begin as dié tussen 20 en 34. Navorsers het ook vasgestel ouer werkers is ewe produktief as jongeres.

Maar ’n mens sou dit nooit kon aflei uit hoe ons praat en dink oor ouer word en oor ouer mense nie.

Mite 5

Jy behoort jou te skaam

Dit is miskien die skadelikste wanopvatting. Voeg die wanopvattings in die eerste vier mites bymekaar en dit vorm ’n skewe beeld dat ’n middeljarekrisis ’n ongeregverdigde, selfbehepte vorm van kop verloor is wat voorkom by voorspoedige mense wat eerder dankbaar moet wees.

G’n wonder dit het ’n cliché geword waarmee gereeld gespot word nie, iets waaroor mense afkeurend die tong klik.

Die gevolg is dat miljoene mense wat te doen het met ’n oorgang in hul middeljare dit in stilte en afsondering verduur, bang om daaroor te praat, dikwels selfs met hul lewensmaat, uit vrees dat die gesin paniekbevange sal raak of vir hulle sal sê hulle kort medikasie.

Dit moet verander. Afsondering en skaamte maak die kans op onstabiliteit en ’n ware krisis groter. Pleks daarvan kort mense steun en ’n hegte band met ander. Hulle moet weet en hoor hulle beleef ’n doodnormale en eintlik voordelige en heel menslike oorgang.

© Jonathan Rauch/Guardian News & Media; Foto's: Gallo Images/Getty Images
Kry dit hier
The Happiness Curve: Why Life Gets Better After Midlife deur Jonathan Rauch (Bloomsbury Publishing), R363 (hardeband) of R286 (sagteband) by takealot.com

Die prys was korrek met druktyd en is onder­worpe aan verandering sonder vooraf­kennisgewing.