Weerlose meganika
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Anton Roodt (Tafelberg, R279*)

“Dis net een keer elke tien skrikkeljare dat ’n manuskrip soos dié op ’n uitgewer se lessenaar land.” So skryf die ouduitgewer en skrywer Kerneels Breytenbach agterop Weerlose meganika.

Dis inderdaad ’n wonderlikheid: plesierig, gek, baie slim en onvoorspelbaar. En boonop die eerste roman uit die pen van die Bloemfonteinse argitek Anton Roodt.

Waar val hy nou uit met so ’n storie?

“Ek wou ’n hele klomp goed doen, maar ek dink ek wou eerstens iets skryf wat ek graag self sou wou lees. My kinderdae het ek in Welkom deurgebring en my herinnerings aan hierdie sonderlinge landskap, plat en uitgestrek met die grys, mensgemaakte ‘heuwels’, onheilspellende myntorings met groot spinnende wiele en donker mynskagte, was dinge wat my laat dink het dat om ’n roman hier te laat afspeel potensiaal het,” vertel Anton.

“Hoewel die storie effens in die toekoms afspeel, is die werk eintlik bitter nostalgies en volkome satiries. Miskien is dit die taak van literatuur om kommentaar te lewer op die samelewing, maar op so ’n manier dat ons ’n bietjie vir onsself kan lag eerder as om dadelik te veroordeel en te verdoem.

“Daar is baie maniere om die boek te lees: Op die oppervlak is dit net ’n speurtog, maar as jy dieper wil delf, is daar mymerings oor die verhouding tussen mens en tegnologie, die gedagte dat vooroordele skynbaar nooit verdwyn nie, maar net verplaas word en so aan.”

Weerlose meganika is in ’n neutedop die verhaal van Rooipiet Moolman wie se gunstelingprojek elke jaar die Versoeningsfees-opvoering is. Dit word aangebied by die inryteater bo-op ’n mynhoop in Welkom. Van hier bo kyk ’n mens af op die Kulturama, Rooipiet se grootste trots waarvoor hy ’n klompie jare tevore R500 miljoen van die nasionale departement van kuns en kultuur ontvang het.

Alles loop heel klopdisselboom tot die historikus Justus Range – “Justus se lyf laat hom aan ’n styfgepropte army-balsak vol vuil wasgoed dink” – ’n ou foto van die Slag van Bloedrivier by hom aanbring.

“Ons fees se boodskap van versoening is tot dusver deur mense verkondig, maar nou . . . nou bring die engele die annuns-s-siasie direk van God af!”

Wat beteken Rooipiet wil en sal ’n engel by sy volgende fees hê.

’n Mens het geen idee in watter genre Anton se boek pas nie.

“Grootskerm-toekomsfiksie,” verduidelik hy. “Maar dis nie te sê nie. Ek kan noem dat ’n boekwinkel in Pretoria my boek onder die Christelike boeke uitgestal het en ’n ander by LGBT+. Ek is gemaklik met albei. As my boek nie vinnig genoeg verkoop nie, beland dit straks onder historiese werke.”

Self lees hy graag boeke in hierdie genre.

“Ouer skrywers soos Philip K. Dick is ’n gunsteling. Ek het grootgeword met Loeloeraai en Fritz Deelman. Op die oomblik lees ek Skepsel van Willem Anker wat lyk my sê die toekoms is al klaar hier.

“Wanneer wetenskapsfiksie kontak met die werklikheid behou en geloofwaardig lees, dan werk dit vir my. Ek dink die toekoms verander nie reglynig nie; dit wil sê dinge gebeur of verander nie oor ’n wye front nie, maar sekere areas ontplof met tegnologiese kreatiwiteit. Dit is dikwels vanweë druk, soos ons nou ook met die pandemie beleef.

Anton Roodt. Foto: Verskaf
Anton Roodt. Foto: Verskaf

“Ek hou ook van wetenskapsfiksieflieks, en soos vir baie skrywers is Blade Runner een van my gunstelinge – en noudat ek daaraan dink, die pragtige Another Earth ook. Dit is die soort krea­tiewe werke wat my laat regop sit en my na die pen laat gryp.”

Op ’n vraag watter olifante-in-die-vertrek hy nié bygesleep het nie, sê hy hy kan werklik nie aan iets dink nie, “behalwe ’n klompie hoofstukke wat in die snippermandjie beland het soos onder meer die een wat die fotograaf Coenraad Snyman se tog na Bloedrivier beskryf.

“Wat niemand nog opgehaal het nie, is dat daar geen vroulike engele in die Bybel is nie.

“Die roman is al as aweregs en oneerbiedig beskryf en dit is miskien omdat ek die olifante uitgelos het, maar nie die heilige koeie nie.”

Hoewel ek dikwels kliphard gelag het terwyl ek sy boek gelees het, het hy nie gelag tydens die skryf daarvan nie – “daarvoor is skryf te moeilik”.

“Ek kom uit ’n familie waar humor as’t ware in ons ingedril is en later tweede natuur geword het. Swak grappe is gewoon nie verdra nie. Aan die ander kant het ’n keurder van my manuskrip na ’n stelling in die teks as studentikose humor verwys. Hy was heeltemal reg ook, en dit is uitgehaal.

“Tog bly ek verstom oor wat vir lesers snaaks is in die roman – dinge wat ek nie as sodanig snaaks bedoel het nie, maar dit is ’n bonus. Huisgenotjies!”

Ek vra hom of hy bedoel het dat kol. Rooipiet Moolman ’n held of ’n anti-held moet wees?

“Ek dink dis ’n heel goeie vraag vir die tyd waarin ons leef. Rooipiet is sowel ’n anti-held as ’n held. Dit hang net af of jy vir of teen Donald Trump is, dink jy nie? Al die kwaliteite wat die een groep in hom kan bewonder, sal die ander as swakhede beskou.”

Ek sê Rooipiet vir president!

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe