Een of ander held
Zirk van den Berg. Foto: Brenda Veldtman
Zirk van den Berg. Foto: Brenda Veldtman

DEUR ZIRK VAN DEN BERG (KWELA BOEKE, R209*)

“Heelparty karakters loop deur al drie stories, en gebeure in een boek affekteer die volgende.

Daarom is daar iets te wen as jy die boeke in volgorde lees, maar dis nie nodig nie,” sê Zirk. “Ongeag watter van die boeke jy eerste lees, sal jy alles wat jy oor die voorafgaande moet weet, daarin te lese kry, en elke boek het sy eie storie.

“Wat Een of ander held betref: Siegfried Bock se optrede tydens die opstand in Die vertes in maak dat sy Duitse bevelvoerder én een van die opstandige Namas hom wil laat boet. En gebeure in Tweegevreet lei tot die hofsaak in hierdie boek wat die burokraat Stauffacher beweeg om hom met Siegfried te kom bemoei.”

Een of ander held is sy tweede boek met “ander” in die titel. Zirk het die woord ook geborg in ’n reklameveldtog van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ek vra hom wat sy storie met die woord is.

“Dit het my opgeval dat twee van my titels die woord ‘ander’ in het – ’n Ander mens en Een of ander held. En twee van my titels het ook die woord “een” in – die jongste en Halfpad een ding. So sit ons met die een en die ander. Daar is iets in die teenstelling wat my aanstaan.

“Miskien omdat ek my vereenselwig met die ander. Die ander is dit wat teenoor die bekende staan. Mense praat van my karakters wat buitestanders is, en ek is ook al so beskryf, maar ek vermoed álmal is buitestanders as jy hulle van binne sien en dat dit net van buite af lyk asof mense in groepe pas.”

So verstaan mens nie eintlik of Siegfried ’n buitestander, swakkeling, held of verkeerd verstane man is nie. Hoe sou hy hom vir sy lesers verduidelik?

“Ek sou nie! Nie meer as wat daar reeds in die boeke staan nie. Hy is . . . een of ander held.”

Die bleek en treurende weduwee, Traudl ­Dehlinger, is ’n newekarakter wat my geïnteresseer het. Het hy haar dalk in ’n navorsingsbron raakgelees?

“Traudl is geïnspireer deur iemand wat ek goed geken het. ’n Mens borduur maar voort op dinge oor mense wat jou opval. Vir my is dit belangrik dat die karakters eg voel en dat ek hulle benader met soveel deernis as wat ek kan. As ’n leser nie omgee vir die karakters nie, as die karakters se lotgevalle nie saak maak nie, raak ’n boek maar flou.”

Vier dinge wat Zirk verstom
  • Mense wat seker is van dinge wat hulle nie regtig  kan weet nie.
  • Die pryse wat Ek wens, ek wens verlede jaar gewen het.
  • Dat ons aan ’n klont grond kleef wat deur die ruimte tuimel.
  • Dat Andra nie ’n wêreldberoemde rockster is nie. Komaan, mense, sy is reg daar by julle.

’n Uittreksel uit ‘Een of ander held’

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Terwyl Traudl se aandag op haar hande gevestig bly, benut Berghammer die kans om haar deeglik te bekyk. Sy het ’n onwêreldse skoonheid. Haar vel lyk byna deurskynend, haar hare is ’n goue gloed, haar oë troebel. ’n Groot hartseer hang om haar, en Berghammer raak op die plek oortuig dat dit sy plig as man is om haar te beskerm.

Dat daar reeds ’n man in haar lewe is, steek hom dwars in die krop, maar hy kry dit reg om te vra: “Is jou verloofde een van ons soldate? Ek kan probeer reël dat hy verlof kry.”

Traudl maak haar oë toe en pers haar lippe saam.

“Daar is nie verlof waar hy is nie,” antwoord Dehlinger. “Hy het gesneuwel deur sy lewe te gee om sy kamerade te red. Manfred Eberhardt was ’n ware held.”

Traudl knyp haar oë toe asof dit ’n swaar slag is om eens net die naam te hoor.

“Manfred Eberhardt?” eggo Berghammer. “Ek het hom geken,” sê hy.

Nou kry Traudl se oë lewe. Sy kyk na hom, en Berghammer wens sy hele lewe kan só wees.

“Hy was in my peloton.”

“Dan hoef ek jou seker nie te vertel nie!” dawer Dehlinger. “Jy weet alles van sy heldedaad.”

Berghammer vat ’n slukkie wyn terwyl hy meer oor Eberhardt probeer opdiep. Eberhardt het goed gelyk op die paradegrond, ’n netjiese kêrel, maar in die veld het hy gewoonlik aangebied om ondersteuningstakies te verrig, soos om na die perde te kyk, eerder as om in die voorste linie te veg.

Berghammer kan nie onthou dat hy ooit verslae oor die man se dapperheid ontvang het nie. Die omstandighede van sy dood was allermins glorieryk.

“Wat presies het julle daarvan gehoor?” vra hy.

“Ons het ’n amptelike brief ontvang wat die hele storie vertel. Traudl, wys vir die man.”

Traudl se vingers glip tussen haar bloes se knope in en kom met ’n stuk papier te voorskyn, in ’n vierkant gevou.
Toe Berghammer dit by haar vat, is hy intens bewus daarvan dat die stukkie papier teen haar bors gedruk het. Hy dink hy ruik ’n sweempie lyfpoeier, en miskien sweet.

“Wanneer het julle dit gekry?”

“In Julie, dink ek. Laat Julie. Net ’n paar dae nadat ons in Windhoek aangekom het.”

“Dis vreemd, so lank ná die gebeurde,” kan Berghammer nie help om te sê nie.

“O, jy weet mos hoe die weermag is.”

Dis juis die ding: Berghammer ken die weermag, en dit is wat hom pla. Daar is ’n stelsel om hierdie soort briewe te stuur. Dit sou hoogstens ’n paar dae of weke ná die voorval gestuur gewees het. Hy bring die vel papier nader aan sy gesig, hou die gebosseerde seël teen die lig. Dit lyk eg.

Dit is namens oberst Adendorff geteken. Hy sal bietjie navraag doen. Hy maak asof hy dit van nog nader­by bekyk, maar konsentreer nou op die reuk wat van die papier af opslaan. Dan vou hy dit weer toe, gee dit terug aan Traudl en loer afgunstig hoe dit onder haar klere verdwyn.

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAF KENNISGEWING.