1. Dans!

Cozi Zuehlsdorff vertolk die rol van die tiener Ellie Blake wat liggame ruil met haar ma, Katherine (Heidi Blickenstaff). Cozi (20) het die choreografie in dié musiekspel omtrent geniet.

“Die danspassies is net so maklik soos dié van High School Musical. Ek kan nie wag dat die mense by die huis saamdans nie.”

2. Skrywer

Cozi het die fliek se openingslied, What It’s Like to Be Me, geskryf.

“Ek is dol daaroor om liedjies te skryf en het gevra of ek een vir die fliek kan skryf.”


3. Uurglas

’n Magiese uurglas laat Ellie en Katherine liggame omruil. In die fliek lyk die uurglas fantasties.

“Op die stel was dit eintlik pienk gloeilampe in ’n uurglas met ’n groot elektriese kabel daarby. Ek moes dié kabel tydens verfilming agter my arm en been wegsteek,” vertel Cozi.

4. Oefenkamp

Voor hulle aan Freaky Friday begin skiet het, was die akteurs twee weke op ’n oefenkamp om die danspassies te leer en te oefen.

“Ons het baie gerepeteer, maar dit was pret,” sê Cozi.

5. Kanada

Hoewel die storie eintlik in Amerika afspeel, is die fliek in Kanada verfilm.

“Ons het drie maande lank in Vancouver, Kanada, geskiet. Dit was betowerend,” vertel Cozi.

6. Slaap

Cozi het tydens elke pouse ’n vinnige middagslapie gevang.

“Ek het baie op die stel geslaap,” lag sy. Die aktrise vertel sy het sommer op die stel se vloer lê en slaap.

7. Park

Die pretpark waarin baie to­nele in die fliek verfilm is, is spesiaal vir die fliek gebou.

Maar pleks daarvan om die ritte ná verfilming te benut, het die akteurs en fliekspan hulle eerder na hul slaapplekke gehaas, want daardie tonele is saans in die reën verfilm.

8. Gekskeer

Die akteurs het ’n poets gebak op een van die akteurs, Isaiah Lehtinen, wat die rol van Karl vertolk. Hulle het vir hom gesê Ricky He, wat Adam speel, word vermis.

“Ons kon nie ophou lag nie,” sê Cozi.

9. Skool

Hoewel die span ’n hele pretpark vir die fliek gebou het, is die skooltonele by ’n regte skool verfilm.

10. Musiek

Heidi (46) het die musiek van die fliek terdeë geniet.

“Dit was ’n groot plesier om in die fliek te sing. Mense by die huis sal beslis saamsing!”

Freaky Friday
Die fliek word op 2 November om 18:00 op die Disneykanaal (DStv-kanaal 303) uitgesaai.