KLEIN-KLEIN AKTEUR

“In gr. 5 het my ouma vir my ouers gesê om my na ’n dramavrou, Louise van Niekerk, te stuur om my te help om ’n bietjie meer uit my kas te klim.

"Die groepklasse het ’n skaam kind gehelp om ’n stem te ontwikkel sodat ander mense hom kan verstaan.”

Christopher, wat roem verwerf het as Emile in 7de
Christopher, wat roem verwerf het as Emile in 7de Laan, gaan binnekort op die silwerdoek verskyn. Foto: Antoinettereinecke.com

Christopher het so uit sy dop gekruip dat hy op 12 sy eerste fliekrol losgeslaan het – en dit in die rolprent Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.

“Om teenoor Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers te speel . . . ’n mens kan nie anders as om verlief te raak op die medium nie.”

GROOT GESIN

Hy is een van agt kinders. “Ek is die tweede jongste. Ek het ’n ouer halfboetie en twee ouer halfsussies, dan het ek drie aangenome sussies en een jonger aangenome boetie.

"Maar ek het eintlik net grootgeword saam met my ouer sussie, Karabo (28), en jonger boetie, Johnny (18),” sê dié oudmatrikulant van die Hoërskool Randburg.

In sy vrye tyd is hy doenig op YouTube om sy kennis uit te brei en kyk hy graag dokkies. Hy het einde verlede jaar ook ’n ses maande lange kursus in webontwikkeling deur Unisa voltooi. 

DANKIE, 7DE LAAN!

Hy het Afrikaans leer praat deur die sepie 7de Laan te kyk, sê Christopher.

“Ek is Engels grootgemaak. My ma is Engels en my nefies was almal Afrikaans.

"So wanneer ek by hulle gaan kuier, dan kyk hulle 7de Laan en dit het my toe geleer Afrikaans praat, in so ’n mate dat ek na ’n Afrikaanse skool toe is.”

Deesdae verdien hy ook sy brood en botter in Afrikaans en is hy in dié einste sepie op die kassie te sien as die karakter Emile.

BEKENDE GESIG OP DIE KASSIE

Hy het al ’n draai in die hospitaalreeks Binnelanders gemaak en het verlede jaar ook gesig gewys in die kykNET-reeks Siende blind.

“In Binnelanders het ek die voorreg gehad om ’n joernalis te speel wat ingekom het om ’n dwelmhandelprojek by ’n skool uit te snuffel,” vertel hy.

In Siende blind het hy weer in die skoene van ’n tienerseun geklim.

“Dit is ’n wonderlike drama, en om saam met die geselskap en Morné du Toit te kon werk was ’n groot voorreg.”

HY LEEF VOLUIT

Hy het onlangs aan twee Afrikaanse flieks gewerk – Die speelkamer saam met sy 7de Laan-medester Mila Guy en die Hotel-ster Bennie Fourie, en die fliek ’n Duisend woorde saam met onder andere Philip Moolman.

Hy sit duidelik nie stil nie. Een van sy groot doelwitte is om die regte besluite te neem, veral terwyl hy nog jonk is sodat hy nie later spyt is oor besluite wat hy in sy jeug geneem het nie.

“Ek voel as jy in elke oomblik jou beste gee om die regte besluit te neem, dan sal jy grootword sonder regrets.

"As jy dan terugkyk, weet jy dat jy in daardie oomblik oortuig was dat dit die regte ding was om te doen.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.