Toe sy karakter in 2015 dood is, het Zane Meas hom toegespits op teaterwerk en sy liefdadigheidsorganisasie, Fatherhood Foundation, wat pa’s meer by hul kinders se lewe betrokke maak.

Neville het in 2015 in 7de Laan gesterf nadat sy vrou (Vinette Ebrahim) se tweelingsuster hom geskiet het. Sy seun Vince (Jacques Blignaut) het by hom gewaak. Foto: Facebook.

“Ek was twee jaar lank nie op televisie nie, want ek moes Neville behoorlik begrawe,” sê Zane. 

“Mense herken my nog as Neville; hulle sal hom nooit vergeet nie.”

Neville se begrafnisbrief. Foto: Facebook.

Al was dit tyd vir asem skep en nuwe projekte, sal hy altyd sy 7de Laan-familie mis. “Ek mis die mense, my vriende wat my seuns gespeel het (Theodore Jantjies en Jacques Blignaut) en Vinette Ebrahim, wat my vrou was.”

Hy was onlangs weer op die kassie as Adam Arendse in die kykNET-reeks Spoorloos, en van 14 Februarie is hy as Tom in die fliek Liewe Lisa te sien.

Tom is ’n visserman wie se lewenswyshede Daniël (Hendrik Cronjé) inspireer. 

“Tom tree op as ’n mentor vir die jonger Daniël wat hy op ’n bank langs die hawe aan die slaap vind. Tom het self ’n paar geheime wat vir die jong seun kan help, maar hy wil ook dit van hom af wegsteek.”

Zane as Tom in die fliek Liewe Lisa, en Elani Dekker speel Lisa. Van die tonele is aan die Weskus verfilm. Foto: Verskaf.

Zane het dit geniet om ná 7de Laan weer saam met Hendrik, wat die fliek se regie doen, te werk. 

“Dit is lekker om saam met vriende te werk, want ek kon ook insette lewer. Hendrik het vir my gevra vir insette met die storielyn en die karakter, wat gehelp om Tom as ’n voller karakter te ontwikkel.”