Hoewel die bekende karakters nou deur ander akteurs vertolk word en ’n bietjie anders lyk, is dit steeds dieselfde storie wat lesers en kykers van die 1988-fliekweergawe betower het.

“Dié fliek is uniek omdat dit die storie uit ’n ander perspektief vertel. Dit is baie meer gefokus op Fiela se karakter en die seer wat daarmee gepaardgaan as jy iemand naby aan jou verloor,” vertel die aktrise Melissa Willering, wat nou die rol van Nina van Rooyen vertolk. 

“Dis ’n moderner weergawe; die manier hoe die fliek geskiet is, is ongelooflik mooi.”

Die 21-jarige aktrise sê dat sy en Nina albei ’n groot liefde deel vir die Knysnabos waar die fliek afspeel. “Ek sal vir dae aaneen daar kan gaan stap; die bos bring rustigheid oor my en dis vir my ’n baie spesiale plek.”

Melissa voel wel dat sy en haar karakter meer verskille as ooreenkomste het omdat sy nie so reguit soos Nina is nie. “Ek sal myself van ’n situasie verwyder pleks van konflik aanvuur,” sê sy.

Melissa se vertolking van Nina gaan ook ietwat verskil van dit waaraan aanhangers van die 1980-fliek gewoond is, maar sy het die regisseur Brett Michael Innes, ook die skrywer en regisseur van die boek en gelyknamige fliek Sink, genoeg vertrou om haar te help om die karakter haar eie te maak. 

Melissa Willering
"Dit is ’n ongelooflike eer en voorreg om vir Nina van Rooyen, wat bekend is as die ikoniese boskind, nuwe lewe te gee," vertel Melissa.

Melissa het Fiela Se Kind seker al drie keer gelees. Dit was ook een van haar voorgeskrewe boeke op skool, onthou sy. “Ek het die vorige fliek ook seker al twee keer gekyk. Dis ’n besonderse storie en ek sal dit oor en oor kan kyk.”

Kykers van die gewilde kykNET-sepie Getroud met Rugby het Melissa as Chrissie Bekker leer ken toe sy net ná haar matriekjaar by dié rolverdeling aangesluit het. Fiela Se Kind is haar eerste rol in ’n fliek, en Melissa voel baie bevoorreg om nou vir die ikoniese boskind Nina lewe op die silwerskerm te gee.

Melissa Willering
Melissa sê sy is mal oor die bos. Foto: Verskaf.

“Die produksiespan het my baie gemaklik laat voel en ek het nie een oomblik senuweeagtig geraak nie,” vertel Melissa van die ses weke wat hulle aan die fliek verfilm het. “Akteurs soos Drikus Volschenk (Elias van Rooyen) en Cindy Swanepoel (Barta van Rooyen) is akteurs waarna ek al so lank opsien; dus kon ek baie by hulle leer. Ons het baie lekker as die Van Rooyen-gesin saamgewerk,” sê Melissa.

Maar dit was nie net maanskyn en rose nie; Melissa het baie geleer oor die tegniese aspekte van hoe ’n fliek gemaak word. “Om drie jaar lank in ’n sepie te speel en dan na ’n fliek oor te skakel is ’n groot aanpassing. Die spel is kleiner en natuurliker,” vertel sy.

  • Fiela Se Kind begin op 13 September in teaters landwyd wys.