Waaroor gaan dit?

Dit is eerste ontwikkeling uit die Fast & Furious-fliekreeks. Sedert die agent Luke Hobbs (Dwayne “The Rock” Johnson) en Deckard Shaw (Jason Statham), ’n gewese sluipmoordenaar, se kennismaking in die sewende aflewering van Fast & Furious het hulle mekaar met spitsvondige rusies en vuiste probeer onderkry.

Maar toe die kuber-gemanipuleerde booswig Brixton ’n virus skep wat die helfte van die mensdom kan uitwis, word die twee aartsvyande gedwing om saam teen hom te veg.

Dié nuwe skobbejak word gespeel deur die Britse akteur Idris Elba (46), wat Madiba in die biografiese film Mandela: Long Walk to Freedom gespeel het.

Jason Statham, Idris Elba en Dwayne vertolk hoofrolle in die nuutste Fast & Furious-fliek.

Om ’n booswig te speel is niks vreemds vir Idris nie: In Star Trek Beyond was hy die superskurk Krall, in The Wire die hartelose Stringer Bell en in The Office was hy Charles Minor.

Fast-familie brei uit

Hattie Shaw, Deckard se suster, is ’n briljante MI6-agent wat Brixton woedend maak toe sy die dodelike virus steel. Haar broer en Hobbs help haar om te verhoed dat Brixton algehele verwoesting saai.

Op die stel – Jason Statham gesels met die regisseur, David Leitch, terwyl hulle langs ’n paar sportmotors staan.

Hattie word gespeel deur Vanessa Kirby (31), wat ook gesien is as die White Widow in Mission: Impossible Fallout en as prinses Margaret, koningin Elizabeth II se suster, in die Netflix-trefferreeks The Crown.

Vanessa Kirby vertolk die rol van Hattie Shaw, ’n MI6-agent.

Helen Mirren (in Fast 8 was sy Magdalene, die ma van Deckard) en Owen (die skurk in die sesde rolprent) keer ook terug.

Die fliek ontwikkel Hobbs se agtergrondstorie deur sy broers bekend te stel. Hulle woon in Samoa, waar hulle Hobbs Customs bedryf: ’n winkel wat voorheen gesteelde motors verkoop het, maar nou wettiglik veteraanmotors restoureer.

Hobbs se broers staan hom in gevegte by met ouskoolse wapens soos byle, pangas en hamers. “As jy met een van ons mors, dan mors jy met almal van ons,” het Dwayne (47) op Instagram by ’n foto van hom en sy silwerdoekbroers laat hoor.

Een van Hobbs se broers, Mateo, word gespeel deur Dwayne se regte neef, die WWE-rofstoeier Roman Reigns (34). Roman het gedurende die fliek se verfilming ’n stryd teen leukemie gevoer, wat nou in remissie is.

Dwayne en Roman in Hobbs & Shaw.

Die sexy aktrise van Baby Driver-faam Eiza González (29) sal gesien word in die rol van Madam M.

Eiza González, in die rol van Madam M, en Dwayne Johnson op die stel.

Hobbs & Shaw se regisseur, David Leitch, hoop om die rolprent as ’n nuwe reeks uit te brei. Hobbs & Shaw verskuif die klem van die reeks na die wêreld van spioene en agente.

R70,5 miljard
Soveel geld het die rolprente in die Fast & Furious-reeks al wêreldwyd laat inrol. 

Kwaaivriendskap tussen Vin en The Rock

Die negende fliek van die Fast & Furious-reeks se 2019-uitreikdatum is na 2020 uitgeskuif om Hobbs & Shaw kans in die kollig te gee. Dié rolprent is beplan te midde van gerugte dat Dwayne en Vin Diesel (Fast & Furious se bekende spoedvraat Dominic Torentto) koppe gestamp het gedurende die skietwerk aan Fast 8.

Dwayne en Vin in ’n Fast & Furious-toneel.

Dwayne het die drama verder aangevuur toe hy in 2016 op Instagram ’n inskrywing gemaak het waarin hy na ’n naamlose medespeler “onprofessioneel” genoem het. Hy het later erken dat hy na Vin verwys het.

“Ek en Vin het ’n paar gesprekke gehad. Ek het besef dat daar fundamentele verskille is in hoe ons die rolprentvervaardiging en samewerking benader.”

Hy het laat val dat hy en Jason nie in Fast 9 — waarvan die verfilming pas begin het – te sien sal wees nie.

“Maar dalk in Fast 10. ’n Mens weet nooit. Aan die einde van die dag is daar onafgehandelde sake tussen Hobbs en Dom (Vin).”

Springmieliefeite

Hobbs & Shaw is onder meer in Hawaii en Glasgow, Skotland, verfilm. Glasgow is vir die doel van die rolprent “vermom” as Londen.

Dwayne se hond, ’n Franse bulhond, is sy medespeler as sy karakter, Hobbs, se hond wat hom oral volg. In die fliek heet die hond ook Hobbs en sal beslis fliekgangers se harte steel.

Dwayne is trots op sy Samoaanse herkoms. In een toneel dans hy en sy silwerdoekbroers die Siva Tau – bekend as Samoa se Haka.

Vin en verskeie bekende spoedvrate uit die Fast-reeks, soos Michelle Rodriguez (Letty), werk tans aan Fast 9. Charlize Theron (43) sal ook as die booswig Cipher in Fast 9 amok maak.

BRONNE: VANITYFAIR.COM, MENSJOURNAL.COM, INSTAGRAM.COM, THESCOTTISHSUN.CO.UK, ROLLINGSTONE.COM IMDB.COM, CBR.COM; Foto’s: Universal Pictures, Instagram/@TheRock