The Spy Who Dumped Me

Aksiekomedie.

Met Mila Kunis, Kate McKinnon en Justin Theroux.

Regisseur: Susanna Fogel. 16TNG. Begin 17 Augustus.

Waaroor gaan dit?

Audrey (Kunis) en Morgan (McKinnon) is twee 30-jarige beste vriendinne wat in Los Angeles woon.

Die pelle word by ’n internasionale komplot betrek toe Audrey uitvind haar kêrel, Drew (Theroux), wat haar afgesê het, is eintlik ’n spioen.

Die twee vriendinne moet dan na Europa reis om ’n sending te voltooi. Hul paaie kruis met dié van ander spioene en hulle moet probeer uitpluis wie hulle kan vertrou.

Mila saam met Sam Heughan, wat ’n Britse MI6-agent speel. Foto: Lionsgate

Ware vriendskap

Kunis en McKinnon het albei roem verwerf met rolle in TV-reekse: Kunis (35) in That ’70s Show, waar sy en haar man, Ashton Kutcher (40), mekaar ontmoet het, en McKinnon (34) in Saturday Night Live (SNL).

Kunis, ’n ma van twee, erken sy het amper nie die rol in The Spy Who Dumped Me aanvaar nie omdat sy meer tyd saam met haar gesin wou deurbring. Kutcher het haar oortuig om die rol te aanvaar.

Die twee aktrises het mekaar eers op die stel ontmoet en was gou goeie vriendinne, vertel die regisseur, Susanna Fogel. 

Kunis sê sy móés net deel van die fliek wees.

“Dit gaan oor vriendskap. Dié soort flieks oor twee vroue in ’n ware vriendskap is skaars. En dit was pret; goed het om ons opgeblaas en ons was saam op ’n absurde, fantastiese avontuur. Wie sou dit nie wou doen nie?”

Van Skotse rokkies tot spioen

Die Skotse hartebreker Sam Heughan (38) speel die Britse MI6-agent Sebastian wat op die vroue se spoor is nadat Audrey se kêrel, wat ’n agent is van die Amerikaanse Intelli­gensiediens, haar afgesê het; en dit nogal deur middel van ’n teksboodskap.

Heughan is bekend vir sy rol as Jamie Fraser in die fantasiedramareeks Outlander, wat in toeka se dae afspeel. Dit was lekker om ’n spioen te speel, sê hy. 

“Geen pruik, Skotse rokkie of perd nie. Dit was ’n fantastiese ervaring,” sê Heughan. “Dit was ’n goeie geleentheid om iets heeltemal anders te doen. En Mila en Kate is so goed en snaaks saam,” vertel hy.

“Kate is histeries. SNL is ongelooflik; ek is ’n groot aanhanger. Ek kyk al jare Mila se flieks en was nog altyd ’n bewonderaar. Hulle is wonderlik saam. Dit voel asof hulle al ewig vriende is.”

Die ‘Beyoncé’ van die regering

Gillian Anderson (50), oftewel die Amerikaanse speurdiens­agent Dana Scully van The X Files-­faam, speel ’n baas in die Amerikaanse Intelligensiediens in Europa.

Kate McKinnon se karakter doop haar die “Beyoncé van die regering”.

McKinnon is ’n groot aanhanger van Anderson. “Op 12 het ek vir Halloween soos Dana Scully aangetrek. Ek het onlangs saam met my ma haar motorhuis skoongemaak en ’n boks met 30 X-Files-VHS-bande, plakkate en ruilkaarte gekry. En al die tydskrifte wat daardie jaar uitgekom het.”

En op die stel? “Ek is professioneel. Geen selfies nie.”

Foto: Lionsgate

Die superspioen

Die Leftovers-akteur Justin Theroux (47) is as Audrey se ekskêrel, die spioen Drew Thayer, te sien. “Hy weet hoe om alles te doen, om ’n nek te breek en vuurwapens af te vuur,” sê Theroux.

Foto: Lionsgate

“Ek is versot op hoe hulle alles oor­gelaat het aan die vroue wat nie geweet het hoe om enig­iets te doen nie en toe in die volgende uur en ’n half ontsettend goed raak in wat hulle doen.” Hy het nes ’n wafferse James Bond van sy waagtoertjies self gedoen.“

My gunstelingtoertjie was een in die openingstoneel van die fliek waar ek plofstof in ’n mikrogolf­oond sit en die hele plek opblaas.”

Bronne: Hellogiggles.com, Elle.com, Screenrant.com, Brit.co, NYTimes.com