The Wife

Glenn Close en Jonathan Pryce as hul karakters Joan en haar man, Joe Castleman. Foto: Embankment Films/Filmfinity.

Drama.

Met Glenn Close, Jonathan Pryce en Christian Slater.

Regisseur: Björn Runge. 16 DSG. Begin op 24 Augustus.

4 uit 5

Waaroor gaan dit?

Die befaamde skrywer Joe Castleman (Pryce) word na Swede genooi om met ’n Nobelprys vir letterkunde vereer te word. Sy vrou, Joan (Close), is op die oog af net so verheug oor haar man se prestasie en besef skynbaar dit sal vir hulle albei die kroon span op ’n leeftyd se harde werk.

Christian Slater se karakter, Nathaniel Bone, teister die paartjie gereeld aangesien hy ’n ­biografie oor Joe se lewe wil voltooi. Foto: Embankment Films/Filmfinity.

As toegewyde vrou het sy ’n sleutelrol in haar man se lewe as suksesvolle skrywer gespeel. Sy’t immers 40 jaar lank haar eie drome en ambisies opgeoffer om haar charismatiese man by te staan – en dit terwyl sy oog bly dwaal het.

Maar agter die skerms is Joan naby aan breekpunt.

Is dit goed?

Die rolprent, wat op die Amerikaanse skrywer Meg Wolitzer se gelyknamige boek gegrond is, bied ’n kykie in die rol wat ’n vrou in ’n man se lewe kan speel.

Joan vertolk ’n ondersteunende rol vir haar man, maar in werklikheid draai die fliek om haar. Close se toneelspel is puik, in so ’n mate dat daar gegis word sy kan eindelik haar eerste Oscar wen, en kykers sal beslis aanklank by haar karakter vind.

Dit is die wisselwerking tussen die karakters wat die storie interessant hou.

Harry Lloyd en Annie Starke, Glenn se dogter, speel hul jonger weergawes. Foto: Embankment Films/Filmfinity.

In terugflitse sien kykers hoe Joan en Joe mekaar ontmoet het en word dit gou duidelik sy het ook ’n blink toekoms as skrywer gehad.

“Daar is niks ergers as ’n skrywer wie se gevoelens seergemaak is nie,” merk ’n karakter op. Dié stelling weergalm deur die fliek en kykers moet uitpluis watter een van die skrywers se gevoelens in watter deel van hul lewe gekwets is.

En natuurlik hoeveel skade werklik berokken is.

Wat wys nog?

A-X-L

Becky G, Alex Neustaedter en A-X-L, die robot­hond, poseer vir ’n kiekie. Foto: Global Road Entertainment.

Aksie.

Met Alex Neustaedter, Becky G en Alex MacNicoll.

Regisseur: Oliver Daly. 10TG. Begin op 24 Augustus.

2½ uit 5

Miles (Neustaedter) is ’n kranige motorfietsryer wat, soos die noodlot dit wil hê, ’n massiewe, robotagtige hond kry.

Die hond, A-X-L, is deur die Amerikaanse weermag as ’n geheimsinnige wapen geskep, maar kort voor lank is Miles en sy nuwe beste vriend onafskeidbaar.

Hoewel daar net een meganiese karakter op die skerm is, kom die meeste van die spel van die jong akteurs in die rolverdeling, wat die sangeres en aktrise Becky G insluit, baie blikkerig oor.

Die storielyn het ook nie veel vleis aan die been nie, maar as jy ’n aksiefliek soek wat die jongspan sal besig hou en boonop familievriendelik is, is dit die fliek vir jou.