Waaroor gaan The Old Man & the Gun?

Ware misdaadkomedie.

Met Robert Redford, Sissy Spacek, Casey Affleck en Danny Glover.

Regie: David Lowery. 10-12OT.

Die fliek is ’n selfverklaarde “meestal waar” verhaal oor die gentlemanrower Forrest Tucker (Redford), ’n 70-jarige beroepsmisdadiger wat ses dekades lank in en uit die tronk was.

Ná sy 15de merkwaardige ontsnapping uit die tronk, dié keer uit die San Quentin-maksimumsekuriteitstaatsgevangenis, ontmoet Forrest vir Jewell Centers (Sissy Spacek) en raak verlief.

Maar die nuwe vrou in sy lewe doen nie veel om sy misdadige neigings te beteuel nie en ’n rooftog saam met sy twee bejaarde handlangers (Glover en Tom Waits) trek kort voor lank die besadigde speurder John Hunt (Affleck) se aandag.

John is geïnteresseerd in Forrest se jare lange toewyding aan sy werk en sy vermoë om die publiek en slagoffers met sjarme te oorwin.

Hy begin ’n soektog om die driestuks, met die gepaste naam Over the Hill Gang, vas te trek.

Is dit die kyk werd?

Die verhaal ontvou teen ’n rustige pas en word versterk deur stadige en aangrypende agtergrondmusiek.

Lowery se besluit om Super-16 mm-film eerder as digitaal te gebruik, versterk die rolprentkuns en verleen ’n grinterige realisme en eerlikheid aan elke toneel. Die fliek hou by die hoofstorielyn en word nie gekniehalter deur ingewikkelde ander storielyne nie.

Al die karakters aan albei kante van die gereg is aangenaam en elke akteur lewer uitstekende spel. Die fliek, met sy volmaakte balans van drama en komedie, is ’n moet. – Buhle Bethy Qatyana 

DVD’S

TULLY

Drama. 2018. 91 MIN. 16TNS.

Charlize Theron
Foto: Focus Features

Young Adult se regisseur en draaiboekskrywer span in dié fliek weer saam met die ster Charlize Theron (foto), maar sonder die impak van hul vorige poging.

Charlize is die middelklasma Marlo wat swanger is met haar en haar man, Drew (Ron Livingston), se derde kind. Die daaglikse geswoeg kry haar reeds onder, en toe hul baba gebore word, bereik sy breekpunt.

Haar broer bied aan om vir ’n kinderoppasser, Tully (Mackenzie Davis), te betaal en dié weet altyd presies wat Marlo nodig het.

Charlize dra die fliek met haar vertolking van iemand met wie talle kykers hulle kan vereenselwig, maar die fliek voldoen nie aan die verwagtings van ’n moontlike skokkende kinkel oor die onverklaarbaar volmaakte Tully nie. – Sandra Visser 

GEMINI

Misdaaddrama. 2017. 89 MIN. 16DTG.

Zoe Kravitz
Foto: Stage 6 Flims

Toe Jill (Lola Kirke) haar vermoorde baas, ’n Hollywoodster (Zoë Kravitz, foto), se lyk in haar huis aantref, word sy die hoofverdagte.

Sy moet alles moontlik doen om die raaisel te ontrafel en haar onskuld te bewys.

Daar is op die oog af niks fout met die fliek nie, wat by tye atmosferies en spanningsvol is. Die toneelspel en nostalgiese film noir-agtergrondmusiek is goed.

Tog is die fliek onbevredigend en vervreem dit die kyker. Hoewel Lola goeie spel lewer, voel haar karakter nie ten volle ontwikkel nie.

Dit geld ook vir die ander karakters – almal behalwe haar manipulerende baas – en lei tot ’n koue en onbevredigende kyk-ervaring. Dis nie ’n swak fliek nie, net een wat onontwikkeld en doelloos voel. – Bianca Lambrechts