Waaroor gaan dit? Hakuna matata! Wie kan Simba, Nala, die wyse Rafiki en beterweterige Zazu vergeet? En die vlakvark Pumbaa en die meerkat Timon? Ná 25 jaar keer die gewilde animasiefliek uit 1994 terug na die silwerdoek.

Dié keer word die geliefde karakters in ’n realistiese 3D weergawe gesien. Dié Disneyfliek, wat met rekenaaranimasie geskep is, vat ons terug na Afrika se grasvlaktes.

Die leeuwelpie Simba moet ná die dood van sy pa, Mufasa, verraad en tragedie oorkom om sy plek as heerser van Pride Rock in te neem. Maar nie almal in dié koninkryk meen hy moet regeer nie . . .

DIE NUWE SIMBA

Die akteur Donald Glover (35), wat te sien was in Solo: A Star Wars Story (2018), is die stem van die volwasse Simba.

Donald het ’n rits pryse agter sy naam, waaronder ’n Emmy vir hoofakteur in die komediereeks Atlanta. As musikant is hy veral bekend vir sy treffers soos This Is America, wat vroeër vanjaar die Grammy vir liedjie van die jaar gewen het.

Die jong Simba se stem word deur die 11-jarige sanger JD McCrary verskaf. Dié jong akteur erken hy het nie geweet hoe ikonies die eerste rolprent eintlik is nie. Terwyl sy stem opgeneem is, het die ateljee virtuelerealiteitstegnologie ingespan om JD visueel na plekke in die rolprent te neem, soos Pride Rock en die olifante se begraafplaas.

BRUL, BEYONCÉ!

Disney het weer van die grootste sterre gekry om lewe te gee aan die stemme agter die fliek se ikoniese karakters. So verskaf Beyoncé (37) die stem van die volwasse Nala, Simba se beste vriendin op wie hy verlief raak.

Dié ma van drie kan nie wag dat haar drie kinders, Blue Ivy (7) en die tweejarige tweeling, Rumi en Sir, die fliek kyk nie. “Ek is baie opgewonde vir my kinders om dit te sien, en ook om dit met my ma (die 65-jarige Tina Knowles) en my familie te deel,” sê Beyoncé.

Die ster van One Tree Hill, Moira Kelly (51), was voorheen die stem van Nala. Die jong Nala word vertolk deur Shahadi Wright Joseph (14), wat saam met onder andere Lupita Nyong’o in die onlangse rillerfliek Us te sien was.

DIE ANDER STERRE

TROTS SUID-AFRIKAANS

Daar is ’n Suid-Afrikaner tussen al die Hollywoodsterre. John Kani (75), wat die rol van T’Chaka, die superheld Black Panther se pa, in die lokettreffer Black Panther (2018) gespeel het, is die stem agter een van die gewildste Lion King-karakters, Rafiki, die wyse ou mandril. Dié blouneusape word ook bosduiwels in Afrikaans genoem.

KYK WIE’S TERUG

Nes in 1994 is die legendariese James Earl Jones (88) die stem van Simba se pa, Mufasa, die koning. Volgens die regisseur Jon Favreau (52) is dié akteur se dialoog byna dieselfde as dié wat hy in die 1994- fliek met sy diep fluweelstem gelewer het.

James was ook die stem van Darth Vader in Star Wars.

DIE SKURK

Die ster van 12 Years a Slave Chiwetel Ejiofor (41) verskaf die stem van Scar, Mufasa se broer en die doring in Simba se vlees. Simba se oom doen alles in sy vermoë om te keer dat Simba die troon erf. In 1994 was Chiwetel se mede-Brit Jeremy Irons (70) die stem agter dié skurk wat Simba uit Pride Lands wil hê.

John Oliver (42), die aanbieder van die satiriese nuusprogram Last Week Tonight, is die stemkunstenaar agter die neushoringvoël Zazu. Zazu, wat Mufasa se koninklike raadgewer is, is in 1994 deur Rowan Atkinson vertolk.

Die Kanadese akteur Seth Rogen (37) is die stem agter die skreeusnaakse vlakvark Pumbaa. Pumbaa en die meerkat Timon (Billy Eichner) neem Simba onder hul vlerk nadat die welpie van die huis af weghardloop.

Die leeuwelpie Simba saam met die meerkat Timon en die vlakvark Pumbaa.

Die Empire en Luke Cage-aktrise Alfre Woodard (66) speel Simba se ma, Sarabi, die koningin van Pride Lands.

R3,4 miljard
Dis hoeveel die eerste Lion King-fliek in 1994 wêreldwyd by die loket laat inrol het.

SIMBA HELP LEEUS

Daar word reeds voorspel dat die fliek miljoene by die loket gaan laat inrol.

Om die bekendstelling van die fliek te vier, het Disney die Protect the Pride-bewaringsveldtog van stapel gestuur om mense wêreldwyd bewus te maak van die dalende leeubevolking in Afrika. Disney het reeds R45 miljoen hiervoor bewillig.

KAN JY DIE MUSIEK VOEL?

Hans Zimmer (61) behartig weer die fliek se klankbaan en Elton John (72) het sy snitte Circle of Life en Can You Feel the Love Tonight hiervoor aangepas – hoewel hy dit nie self sing nie.

Beyoncé, wat Nala se stem verskaf, sing saam met Donald Glover, Simba se stem, die nuwe weergawe van Can You Feel the Love Tonight.

Springmieliefeite
  • Jeremy Irons, Scar se stem in die 1994-weergawe, het glo aangedui hy wil graag dié stemrol hervat.
  • Die 1994-fliek het ’n Oscar vir beste oorspronklike klankbaan gewen.
  • Die eerste lokprent vir die nuwe fliek het geskiedenis gemaak. Dit is 225 miljoen keer gekyk in die eerste 24 uur nadat dit aanlyn gedeel is. Dit is die tweede grootste kykertal vir ’n aanlyn lokprent.

BRONNE:WALT DISNEY STUDIOS, OPRAHMAG.COM, HARPERSBAZAAR.COM, IMDB.COM, TEENVOGUE.COM, THEGRAPEVINE.THEROOT.COM