Waaroor gaan dit?

Die aksieheld Tom Cruise (56) keer na die silwerdoek terug as Ethan Hunt, ’n agent van die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA), in die sesde aflewering van die gewilde Mission: Impossible-flieks.

In die jongste fliek loop ’n sending van die Impossible Missions Force (IMF) skeef. Solomon Lane (Sean Harris), die gewese MI6-agent en leier van die terreurnetwerk die Syndicate (wat Ethan in die vorige fliek, Mission: Impossible – Rogue Nation van 2015, vas­getrek het) ontsnap en dit beteken net een ding: chaos vir die res van die wêreld.

Ethan, sy IMF-span en ’n paar bekende gesigte span dan kragte saam om Solomon en die res van die Syndicate te stuit voor hulle algehele verwoesting saai.

In dié aflewering word Ethan se lojaliteit en motiewe ook deur die CIA bevraagteken.

Húlle is terug

Van links is Simon Pegg, Rebecca Ferguson, Tom Cruise en Ving Rhames. Foto: Paramount Pictures.

Simon Pegg as Benji Dunn. Die Britse akteur (48) keer terug as Benji, ’n lid van Ethan se IMF-groep.

Ving Rhames as Luther Stickell. Die Amerikaner (59) speel weer Ethan se regterhand, Luther. Luther is die enigste karakter wat in al ses Mission: Impossible-flieks aan Ethan se sy was.

Michelle Monaghan as Julia Meade-­Hunt. Dié aktrise (42), wat onder meer in TV-reekse soos The Path en True Detective te sien was, hervat haar rol as Ethan se vrou, Julia.

Ons het haar laas in ­Mission: Impos­sible III (2006) ­gesien.

Rebecca Ferguson as Ilsa Faust. Die ster van The White Queen (34) is terug in haar rol as Ilsa, nog ’n lid van Ethan se span.

Alec Baldwin as Alan Hunley. Baldwin (60) maak sy tweede ver­skyning in dié fliekreeks as die voormalige ­direkteur van die CIA.

Die booswigte

Henry Cavill en Angela Bassett. Foto: Paramount Pictures.

Solomon Lane, die skurk van die vorige Rogue Nation-fliek, keer terug as die hoof-antagonis. Sean Harris (52) vertolk dié rol.

Die ander booswig in die fliek is August Walker, wat deur die Britse akteur Henry Cavill (35), oftewel Superman, gespeel word. Vir sy rol spog Cavill met ’n snorbaard wat hy die cookie duster gedoop het.

Angela Bassett (59) speel die nuwe CIA-hoof, Erica Sloan, wat Ethan help om skurke vas te trek.

Die Britse bloubloed-verwantskap

Vanessa Kirby en Tom Cruise. Foto: Paramount Pictures.

Aanhangers van die Netflix-trefferreeks The Crown, wat om die lewe van koningin Elizabeth II draai, hoef nie hartseer te wees dat Vanessa Kirby (30) nie in die derde seisoen te sien gaan wees as die koningin se jonger suster, prinses Margaret, nie. 

Sy maak haar eerste verskyning in dié aksierolprent­reeks as die skatryk filantroop White Widow. “Sy is die ­totale teenoorgestelde van al die mense wat Ethan tot dusver in sy lewe ontmoet het,” sê Kirby oor haar rol.

“Sy verteenwoordig die ander lewe wat hy moontlik saam met iemand soos haar kan hê. Hulle ontmoet mekaar en daar is ’n onmiddellike vonk en begrip.”

R35 miljard
Soveel het die fliekreeks al wêreldwyd laat inrol.

Waaghals

Foto: Paramount Pictures.

Cruise se karakter is bekend vir sy asemrowende waagtoertjies en veg­tonele in die Mission: Impossible-flieks. In Rogue Nation het hy aan die kant van ’n vragvliegtuig gehang en in Ghost Protocol 100 verdiepings bo ’n wolkekrabber in Doebai. 

Maar dié keer het die akteur hom ­lelik misgis. In Augustus verlede jaar, tydens verfilming in Londen, moes Cruise van een gebou na die ander spring terwyl hy aan ’n harnas vasgegespe was.

Hy het gespring, misgetrap en sy regter­enkel gebreek. Ver­filming moes toe vir amper drie maande gestaak word.

En dit was nie die enigste waagtoertjie wat die oë laat rek het nie. Hy het ook ’n halo­sprong gedoen – waar jy van ’n hoogte van 7 620 m spring, maar jou valskerm maak eers oop wanneer jy 610 m bo die grond is. Die perfekte skoot het hy eers ná sowat 100 spronge gekry . . .

Springmieliefeite

Foto: Paramount Pictures.
  • Rebecca Ferguson was swanger met haar tweede kind toe die fliek verfilm is. Haar dogter, Arabella, is verlede maand gebore. 
  • Alec Baldwin het ’n vegtoneel met Cavill en was baie geïntimideer deur die akteur se grootte en spiere. “Henry, soos almal weet, vertolk die rol van Superman. Wel, hy is regtig Superman. Sy liggaam is van marmer gemaak,” sê Baldwin. Maar Cavill sê sy rol as Superman het hom glad nie vir Mission: Impossible se waagtoertjies voorberei nie. “Vir die Superman-flieks gaan dit daaroor om jou lyf ’n sekere manier te laat lyk. Maar vir dié fliek het dit oor die voorbereiding vir die waagtoertjies gegaan en om te verseker dat alles seepglad verloop.”
  • Die fliek is in 161 dae geskiet. Die rolprentmakers het ook met 4DX-tegnici gewerk om tonele te kodeer sodat kykers die aksie ook in 4DX-multisensoriese teaters kan beleef.
  • Sekere tonele is in Noorweë verfilm. Die munisipaliteit van Forsand het ’n besienswaardigheid bekend as die Preikestolen – ’n steil krans – vir toeriste gesluit toe die span daar verfilm. Net lede van die filmspan en die akteurs is nege dae lank toegelaat. 
  • Die Britse akteur Simon Pegg het so hard geoefen vir sy rol as Benji dat hy die eerste keer in 25 jaar ’n agtpak-blokkiesmaag gekry het – iets wat hy glad nie vir die rol nodig gehad het nie. Hy sê Cruise en Cavill het hom vreeslik oor sy spiere gespot. Tom het hom “Agtpak-Peggels” op die stel genoem. “My vrou waardeer dit,” spot Pegg. 

Bronne: Social News XYZ, Missionimpossible.wikia.com, IMDB.com, Deadline.com, Hollywoodreporter.com