Moederskap help met rol

Om self 'n ma te wees het volgens Eva Longoria (44) gehelp om beter in haar jongste rol as silwerdoekma te klim. Dié aktrise se seuntjie, Santiago Enrique, is nou een jaar oud.

Sy sê sy het nie voor sy geboorte besef hoe 'n groot invloed moederskap op haar as aktrise sou hê nie. 

“Dit het my instinkte verander,” erken sy.

Die donkerkop-aktrise sê sy was erg beskermend teenoor die die jong aktrise Isabela Moner, wat haar dogter in die rolprent Dora and the Lost City of Gold speel. 

“Ek sou goed sê soos: ‘Moet ons toelaat dat Dora daardie slang vashou?’ Die regisseur moes my help en sê: ‘Eva, dit is nie Santiago dié nie,’ ” vertel sy.

Die rolprent handel oor Dora, wat in die oerwoud grootgeword het. 

Toe haar ouers op 'n geheime ontdekkingsreis gaan en vermis raak, moet sy haar oorlewings­kennis inspan om hulle op te spoor.

Harde werk beloon

Eva het haar groot deurbraak in 2001 gemaak toe sy die rol van Isabella Braña in die Amerikaanse sepie The Young and the Restless losgeslaan het.

Maar sy is meer bekend vir haar Desperate Housewives-­dae toe sy van 2004 tot 2013 die prettige Gabrielle Solis gespeel het – die karakter wat agter haar man se rug met die ­tuinier gevry het.

Haar ouers, Enrique en Ella Eva, is Mexikaans-Amerikaans, en sy is die jongste van vier dogters. Haar oudste suster, Liza, is intellektueel gestrem.

Dis danksy Liza dat sy so 'n groot passie vir liefdadigheid het, sê Eva.

“Ek voel altyd nederig wanneer ek kyk na wat sy my wys en leer, veral noudat ek my eie kind het.” 

Eva het op skool deeltyds as ­kelnerin gewerk om geld vir haar ­quinceañera in te samel – die viering van haar 15de verjaardag, wat tradisioneel 'n belangrike verjaardag in Mexiko is. Dis waar sy haar sterk werketiek ontwikkel het, reken sy.

In 2013 het sy haar meestersgraad behaal – terwyl sy steeds as aktrise gewerk het.

Haar tesis het gegaan oor sukses wat uit diversiteit spruit en watter bydraes Latyns-Amerikaanse vroue in die loopbaanrigtings weten­skap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde maak.

Eindelik gelukkig met nr. 3

Eva poseer saam met haar eenjarige seun, Santiago,
Eva poseer saam met haar eenjarige seun, Santiago, en man, José “Pepe” Bastón, in New York. Foto: Instagram/@evalongoria

Eva is in 2016 met die Mexikaanse sakeman José “Pepe” Bastón (50) getroud. Sy het al erken sy het alle hoop op blywende geluk laat vaar voor sy hom ontmoet het.

Maar Pepe, tot onlangs president van Televisa, die grootste mediamaatskappy in Latyns-­Amerika, het alles verander. 

Sy het beslis al hartseer beleef: Haar eerste huwelik, met die General Hospital-akteur ­Tyler Chris­topher, het in 2004 ná net twee jaar geëindig, terwyl haar tweede – met die basketbalster Tony Parker – rampspoedig geëindig het ná sy affair.

Beeldskone besties

Eva en die modeontwerper Victoria Beck­ham is al amper 'n dekade boesemvriendinne. Afgesien van hul gedeelde liefde vir mode, deel hulle blykbaar dieselfde humorsin. 

Eva het op haar troue met Pepe een van Victoria se skeppings gedra. Victoria en haar man, die voormalige sokkerspeler David Beckham, het Eva boonop gekies as peetma van hul dogter, Harper. 

Die grootste kompliment aan Eva was dalk dat Victoria een van haar ontwerperskoene – die Eva Pump – na die aktrise genoem het. 

Bronne: dailymail.com, people.com, msn, imdb.com, variety.com

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.