François Bloemhof het die roman geskryf wat deur Mardaleen en Hugo se ware liefdesverhaal geïnspireer is.

Ons het hom hieroor uitgevra.

Hoeveel keer moes jy al ’n roman skryf uit iemand anders se gegewe wat vir jou gegee word?

Vergeet my nie is my vierde “fliekboek”. Benewens die twee Ivan-en-Donnalee-romans (Pad na jou hart en Vir altyd), was dit heerlik om by Vir die voëls betrokke te wees – veral om met Irma de Klerk koppe bymekaar te sit oor hoe gebeure in die roman van dié in die draaiboek kon verskil. Ek het ook Lerina Erasmus se roman Sondes van die vaders voltooi nadat sy oorlede is.

Mag jy totale vryheid gebruik om jou eie storie te weef, en wat gebruik jy as ruggraat uit die oorspronklike?

Ek het baie beweegruimte gehad, maar ek het nie vir totale vryheid gemik nie. Ek het telkens voor die tyd seker gemaak ek hou van die basiese storielyn, maar dit sou ook laf wees om ’n fliek toneel vir toneel oor te vertel – dan kan mense net sowel die draaiboek lees! Wat my die meeste interesseer, is wat presies in ’n karakter se kop aangaan. Dis iets wat ’n akteur net kan suggereer tensy die dialoog dit uitstippel.

Het Mardaleen jou storie aanvaar? Het julle die proses/storie bespreek?

Sy kon nie van my ontslae raak nie! Al het sy verstaan dat ek karakters skep wat moet kan oortuig, en dat dit dodelik vervelig sal wees as die meisie en ou net mooi, suiwer gedagtes het, moes die eindproduk iets wees waarmee die Derkse kan saamleef. In die draaiboek is die destydse gebeure verander; ek het die roman plek-plek nader aan die waarheid getrek, maar ander kere nog verder weggeswaai.

Wil jy ook soos Mardaleen in die boek ’n “engel agter die skerms” wees wat skrywers se werk poets, maar anoniem bly?

Mardaleen is in die fliek en roman ’n boekeredakteur. Ek het ’n soortgelyke rol gespeel toe ek die verhaleredakteur by Sarie was, maar het Mardaleen só laat redeneer ter ere van redakteurs met wie ek al saamgewerk het. Mense dink maklik alles in ’n boek kom net so van die skrywer af, maar ons moet gereeld teen onsself beskerm word. Ek doen baie redigeerwerk vir uitgewerye en die idee is beslis nie dat jou eie stem moet deurslaan nie. Tog is jy self ook ’n skrywer; dus is dit seker onvermydelik dat jy jou eie stempel op die teks sal afdruk.

Ek kon die storie op my eie manier vertel – ek kon dinge byvoeg en weglaat, besluit waarop om te fokus en vanuit watter hoek. En as daar iets in die intrige was waarmee ek nie saamgestem het nie en wat ek nie kon uitlaat nie, moes ek my ’n ruk lank oortuig dat ek dit glo. “Hulle is net gewone mense: skrywers. Hoe meer sy met hulle saamgewerk het, hoe meer het sy besef die meeste se dieper gedagtes word vir hul stories gespaar.

In die alledaagse lewe het hulle dieselfde tekortkominge en onsekerhede,” besef Mardaleen. Spaar jy ook jou diep gedagtes eerder vir jou stories?

Die kere wat ek diep gedagtes het, ja. Dis lekker om met mense oor gewone dinge te gesels. Selfs met ander skrywers praat ek nie dikwels oor Die Beroep nie, hoewel ons nogal kan aangaan en aangaan as ons eers begin. Dit het al gebeur dat mense nie juis oor hulself wil gesels nie omdat hulle dink dit sal my nie interesseer nie – maar as ek nie in mense belanggestel het nie, sou ek nie kon skryf nie.

Een van die karakters het ’n tragiese lot. Was dit nou regtig nodig?

Ek het nou hardop gelag! Ja, dit was. ’n Paar los drade in ’n boek hinder my nie – dit pla my eerder as dit oormatig netjies afgerond is met ’n pienk strikkie bo-op, soos die ware lewe nooit sal wees nie.

Vergeet My Nie-omslag. Foto; Verskaf
Vergeet My Nie-omslag. Foto: Verskaf
  • Vergeet my nie is van Sondag 5 Julie op DStv se BoxOffice beskikbaar en kan dan afgelaai en tuis gekyk word.

Vyf dinge wat François in 2019 verstom het
  • Dat bekende figure nie uit ander se foute leer nie, maar voortgaan om dinge wat hulle in die sop laat beland op Twitter of Instagram kwyt te raak.
  • Dat ons met sport so uitstekend kan presteer terwyl ons op soveel ander terreine agteruit boer.
  • Dat daar ál minder goeie flieks uitkom en ál beter TV-reekse.
  • Dat die Kardashians steeds vir soveel mense styl beliggaam.
  • Dat ek dit al so lank regkry om minder tjoklits te eet en daar steeds geen standbeeld van my in Durbanville opgerig is nie.