Waaroor gaan dit?

Iemand wat ’n buitestander en ­buitengewone kunstenaar is, word in Rusland ’n “Wit Kraai” genoem – ­iemand soos die balletdanser ­Rudolf Nureyev.

Dis 1961 en daar is ’n Koue Oorlog tussen die Sowjetunie en die Weste. “Rudy”, soos hy deur die balletgeselskap genoem word, wil die Nijinskyprys in Parys wen, maar dis landsverraad om kontak te hê met mense buitekant die Ystergordyn.

Hy steur hom egter nie veel aan reëls nie. Ook in sy liefdeslewe is geen konvensies nie: Hy slaap saam met sy afrigter se vrou én saam met sy beste danservriend.

Die fliek vertel wel net ’n deel van die storie, naamlik sy dramatiese oorloop op die Paryse lughawe na die Weste. Soos een van sy lewensleuses lei: “As jy nie ’n storie het om te vertel nie, het jy nie rede om te dans nie.”

Wie sal hiervan hou?

Dis ’n gestileerde kunsfliek wat iets vir die oog en kop wil bied. Die klere, die stelle, die dans­passies, die aksie en die spel is goed deurdink.

Daar word meestal Russies en Frans gepraat in dié leesfliek, en dis moeilik om ’n emosionele band met die karakters te bou, ­veral met Nureyev.

Maar dis omdat die balletdanser wat die rol vertolk, Oleg Ivenko, Rudy se verwaandheid en afgestomptheid so goed vertolk dat ’n mens niks van hom hou nie.

Die draaiboekskrywer is David Hare, wat twee keer benoem is vir ’n Oscar vir sy werk aan The Reader (2008) en The Hours (2002).

Ralph Fiennes is indrukwekkend as regisseur én in die rol van Alex­ander Pushkin, wat Rudy opgelei het en tot sy ware self laat kom.

Hierdie goed afgeronde fliek is nie net vir dansliefhebbers nie; dis ook vir diegene wat van politieke dramas hou.

Solank jy nie fyngevoelig is vir naaktheid nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.