Waaroor handel dit?

Dié fliek is gegrond op Madeleine L’Engle se boek van 1962. Die 13-jarige Meg Murry (Reid) en haar broer, Charles Wallace (Deric McCabe), se wetenskaplike-pa, dr. Alex Murry (Chris Pine), is al vyf jaar soek sedert hy na ’n nuwe planeet gereis het wat hy ontdek het. Die sibbes pak dan saam met Meg se vriend Calvin (Levi Miller) ’n gevaarlike reis aan om hul pa met die hulp van drie hemelwesens te red.

Die nuweling

Storm Reid (14) het klein TV-rolle vertolk voor sy in 2013 haar eerste groot rol as ’n slaafmeisie in die Oscar-bekroonde 12 Years a Slave losgeslaan het. Nou is haar naam op baie mense se lippe nadat sy haar eerste hoofrol gekry het in A Wrinkle in Time. Sy was “baie senuagtig” om die rol van Meg te vertolk, bieg Storm. “Maar om Meg te speel en te ervaar wat sy deurgaan, het my meer selfvertroue gegee,” vertel die jong aktrise. Meg word onder meer afgeknou, iets waarmee Storm haar kan vereenselwig.

Die drie ‘beskermengele’

Die drie Mrs-karakters is van links Mindy Kaling as Mrs Who, Winfrey as Mrs Which en Reese Witherspoon as Mrs Whatsit. Foto: Walt Disney Studios Motion Pictures.

Mrs Which

Die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey, wat al in flieks soos Selma (2014) te sien was, speel die leier van die drie hemelwesens wat die kinders op hul avontuur bystaan. Sy is die slimste van die drie en gee die meeste raad en leidrade om hulle te help om hul pa te vind.

Mrs Whatsit

Die Big Little Lies-ster Reese Witherspoon se karakter is die jongste van die drie hemelwesens en ietwat naïef.

Mrs Who

Mindy Kaling is die enigmatiesste wese van die drie Mrs-karakters. Byna alles wat sy sê, is ’n aanhaling van iemand anders. Sy het heelwat kennis van al die kulture op aarde.

Die skrywer van die boek

L’Engle het amper op haar 40ste verjaardag ophou skryf. Sy het toe op ’n 10 weke lange kampeertog gegaan, wat haar geïnspireer het om A Wrinkle in Time te skryf.

Meer as twee dosyn uitgewers het die boek verwerp voor dit in 1962 uitgereik is.

Tog is dié bekroonde werk die een wat die meeste verbied is, volgens die Amerikaanse biblioteekvereniging. Konserwatiewe Christene het geglo dit bevorder okkultisme en heksery.

L’Engle is in 2007 in die ouderdom van 88 jaar oorlede.

Springmieliefeite

  • Die rolprentmaker Ava DuVernay (45) , van Selma-faam, is die eerste swart vrou wat die regie van ’n aksiefliek behartig met ’n begroting van meer as $100 miljoen (R1,2 miljard).
  • Nie alle resensente is gaande daaroor nie. Dit het nie juis waffers gevaar by die loket tydens sy openingsnaweek in Amerika nie.
  • Die rolprent is binne ses maande verfilm. Die buitetonele is in Nieu-Seelandse berge en die sequoiawoud in Noord-Kalifornië geskiet.
  • Die vervaardiger, Catherine Hand, het ’n 13-jarige rooikopakteur met Google gesoek en op die Australiese akteur Levi Miller (15) vir die rol van Calvin afgekom.
BRONNE: STUFF.CO.NZ, CHRON.COM, MENTALFLOSS.COM, COLLIDER.COMWALT DISNEY STUDIOS MOTION PICTURES, BLEECKER STREET, WORLDVIEW ENTERTAINMENT