Hy is ’n plaasseun, tuis op die oop vlaktes met ’n jaggeweer in die hand of op die rug van sy ysterperd. Maar Alex van Dyk is ewe gemaklik voor die rolprentkameras waar hy die rol gaan vertolk van ’n ander plaasseun uit ’n oënskynlik doodgewone Afrikaanse gesin – tot hy op ’n dag sy pa, ma en kleinsus doodgeskiet het in ’n gesinstragedie wat die land geskok het.

Daar is raakpunte tussen Don Steenkamp en die akteur wat die tienermoordenaar in die nuwe rolprent Griekwastad gaan uitbeeld.

“Mense sê ons trek nogal na mekaar,” sê Alex (16) oor Don, wat nou 20 jaar gevangenisstraf uitdien vir die moorde op sy ouers, Deon (44) en Christel (43), en suster, Marthella (14), wat hy sewe jaar gelede met Paasnaweek gepleeg het toe hy 15 jaar oud was.

Hy het Marthella ook verkrag, het die hof bevind.

Don Steenkamp. Foto: Gallo Images/Foto24/Mary-Ann Palmer

“Dis erg wat daar gebeur het,” sê die jong akteur met ’n ernstige frons tussen sy oë oor die ware verhaal waarop die rolprent gegrond is.

Daarin sal hy teenoor Arnold Vosloo speel wat ná dekades in Hollywood die eerste keer weer in ’n Afrikaanse fliek sal verskyn. Hy vertolk die rol van kol. Dick de Waal, wat die Griekwastadmoorde ondersoek.

Arnold Vosloo. Foto: Argief

“Ek sal op die stel in sy skoene klim, maar wanneer ek terug is hier by die huis, is ek maar net weer ek, Alex,” sê hy filosofies oor die rol van Don.

Ons gesels in die huis op die plaas Rondebossieberg naby Durbanville, noord van Kaapstad. Hier woon hy saam met sy ouers, Alex (46) en Blance (43), en suster, Lana (13).

Alex kyk oor die dor stoppellande van die plaas uit wat oor ’n paar maande ná die winterreën geilgroen met koring gaan staan. Die 2016-fliek Sonskyn Beperk, oor ’n vrou (gespeel deur Anelle Ludik) wat na haar familieplaas in die Swartland terugkeer, is hier op die plaas verfilm wat aan Alex se oupa aan moederskant, Sakkie Hugo (79), behoort.

Hy woon nou op die buurplaas. “Ons het darem ook met die rolprentbedryf te doen gehad met Alex se vorige fliek,” gesels pa Alex oor sy naamgenoot se debuutrol in Die Stropers, ’n fliek met ’n ewe donker tema.

Alex jr. was net 14 toe hy die rol van Pieter, ’n gefolterde, jong dwelmslaaf, vertolk het wat sy lyf aan ouer mans verkoop. Die hele Van Dyk-gesin is verlede jaar na die Cannes-rolprentfees in Frankryk, waar dit in twee kategorieë vir pryse benoem is, onder meer vir beste rolprent.

Net soos destyds met dié moeilike rol, gaan pa en seun nou weer saam deur die draaiboek werk en alles bespreek, in die motor op pad skool toe of wanneer die jong akteur ook al ’n behoefte daaraan het.

Alex sr., ’n oudonderwyser en deesdae ’n verkoopsman van chirurgiese toerusting, en Blance, ’n laerskoolonderwyseres, is nie bekommerd oor die uitwerking wat dit op hul seun se gemoed kan hê om in ’n jong gesinsmoordenaar se vel te moet klim om ’n rol te vertolk nie.

Alex saam met sy schnauzer, Max; sy suster, Lana, en haar haas, Rambo; en sy ouers, Alex sr. en Blance. Foto: Verskaf

“Sy kop is reg aangeskroef,” sê pa Alex trots. “Hy is sielkundig stabiel.”

En die jong Alex beaam: “As ek niks van Pieter (in Die Stropers) oorgehou het nie, sal ek mos ook niks van Don oorhou nie.’’  

Al gesels hy soos ’n gesoute akteur oor die gekwelde karakters wat hy op die silwerdoek uitbeeld, lyk Alex nog pure plaasseun in sy kortbroek en met kaal voete.

“Hy en sy maters op die plaas bou boomhuise en speel soos kinders,” vertel sy pa.

In die kamer van dié gr. 10-leerder aan die Hoërskool Durbanville hang sy skoolbaadjie oor die stoel by die lessenaar waar hy netnou nog algebra sit en doen het.

“Ek is nie een vir syfers nie,” gesels hy. Hy oorweeg dit om ná matriek argitektuur te gaan studeer eerder as drama. Of dalk gaan hy ’n vlieënier word.

Teen sy kamermuur is blou plakkertjies om hom te herinner aan al die skoolwerk wat hy vooruit moet doen voor die verfilming in Mei begin. Binne die volgende week sal hy moontlik die draaiboek kry om deur te werk.

“Huiswerk vir skool is baie moeiliker,” erken hy. Op die vloer voor sy klerekas lê ’n takbokvelletjie van die eerste bok wat hy geskiet het. Hy was sewe jaar oud.

In Die Stropers het Alex (links) die straatkind Pieter gespeel teenoor Brent Vermeulen, wat die rol van ’n plaasseun vertolk het. Foto: Pyramide International

“Ek hou van jag en op my endurance bike ry, oom,” vertel hy. “Die geld vir my flieks belê ek om ’n nuwe bike te koop.”

Sy twee helderkleurige valhelms sien jy met die intrapslag in sy kamer. Daar is ook ’n foto van hom op die rugbyveld. Was dit nie vir die beserings wat hy daar opgedoen het nie, het hy dalk nooit op die silwerdoek verskyn nie.

Nadat hy in drie agtereenvolgende seisoene harsingskudding opgedoen het, het hy sy tokse weggepak. Vir Alex was dit so ’n groot slag dat hy terneergedruk geword het.

“Hy het gevoel hy was nie meer deel van sy maats saam met wie hy rugby gespeel het nie,” vertel Alex sr. Sy ouers het hom toe aangemoedig om geleenthede aan te gryp wat oor sy pad kom.

En dit is presies wat hy gedoen het toe ’n drama-onderwyser, Jan Burger, in die skoolsaal aankondig oudisies word vir rolle in ’n nuwe fliek, Die Stropers, gehou.

“Ek en ’n vriend het besluit om dit ’n go te gee. Dalk raak ons famous. Maar hy het uitge-chicken,” vertel hy.

Nadat Alex ’n hoofrol daarin losgeslaan het, het hy dramalesse by die veteraanaktrise Aletta Bezuidenhout geneem. Hy en die regisseur, Etienne Kallos, het ook na video’s van jong dwelmgebruikers en straatkinders gekyk en Alex het hul manier van praat en hul maniertjies aangeleer.

“Veral hoe hulle sit en hul hande hou,” sê hy. Alex berei hom nou op dieselfde manier voor vir sy rol as Don.

“Ek probeer soveel moontlik die karakter word deur navorsing te doen. Ek kyk na TV-materiaal en foto’s van toe hy in die hof was.

“Ek dink nie ons sal hom in die tronk gaan besoek nie. Daai plek is mos erg. Ek hoop hy het ten goede verander,” sê hy.

Die Stropers het hom op die sielkundige uitwerking van sy rol as Don voorberei, meen hy.

“Die rol van Pieter het my heeltemal uit my gemaksone laat kom. Ek word in ’n normale, Afrikaanse huis groot wat ver verwyder was van die karakter wat ek gespeel het.”

Hy het destyds van die Griekwastad-moorde gehoor, maar as negejarige het hy nie veel aandag daaraan gegee nie. Waarna Alex die meeste uitsien op die stel van Griekwastad, is om Arnold Vosloo te ontmoet.

“Ek weet nie wat ek vir hom sal vra of sê nie. Seker maar hoe dit was om te skiet aan flieks saam met Dwayne ‘The Rock’ Johnson en Leonardo DiCaprio.”

Hy onthou hoe hy as klein seuntjie by die TV verbygestap het terwyl sy ouers The Mummy gekyk het – net toe Arnold in ’n mummie verander.

“Ek het groot geskrik,” vertel Alex.

“Ek het nooit in my wildste drome gedink ek sal eendag saam met hom werk nie.” By die skool weet sy maats watter rol hy gaan vertolk.

“Maar hulle ken my en weet dit gaan my nie in ’n moordenaar verander nie.”

Kleinsus Lana steun hom ook. Sy is ’n kranige netbalspeler wat tydens ons besoek aan die Westelike Provinsie-uitdunne deelneem, en hul ma is saam met haar daarheen.

Alex se ouers sal gereeld ’n draai op die stel op Hopefield, sowat 40 km hiervandaan, gaan maak, waar die meeste tonele verfilm word. Net enkeles word op Griekwastad in die Noord-Kaap geskiet.

Die akteur staal hom nou al vir die reaksie op die rolprent, dié keer geen fiktiewe verhaal nie, maar ’n steeds raaiselagtige werklikheid.

Soos Alex sê: “Dis gegrond op regte mense en gebeure. Daar is soveel menings en vrae.”

  • Die première sal na verwagting later vanjaar op die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad wees.