Waaroor gaan dit?

Denzel Washington trek al by 63, maar daar is nog geen keer aan dié aksieheld nie.

Vier jaar ná The Equalizer keer dié Hollywood-ster terug na die silwerdoek as Robert McCall, ’n afgetrede spesiale agent van die Amerikaanse Intelligensiediens wat deesdae sy lyf vigilante hou.

In die jongste fliek sweer McCall wraak toe sy beste vriendin en oudkollega, Susan Plummer (Melissa Leo), vermoor word. Hy moet dan hoogs opgeleide en wrede sluipmoordenaars die hoof bied.

Die opvolg

Dit is die eerste keer dat Washington in ’n opvolgfliek van een van sy rolprente speel. Verfilming aan The Equalizer 2 het in September verlede jaar in Boston en ander dele van Massachusetts begin.

Die eerste fliek, wat losweg op die TV-reeks uit die 1980’s gegrond is, volg Washington se karakter, McCall, ’n eenvoudige man wat by ’n meubelwinkel werk en ’n stil lewe lei.

Die Narcos-­ster Pedro ­Pascal is ook in The Equalizer se opvolgfliek te sien.

Sy geheime verlede as agent kom op die lappe toe hy ’n Russiese sindikaat aanvat om ’n tienermeisie (Chloë Grace Moretz) te beskerm wat gedwing word om ’n prostituut te word.

Dié keer neem McCall iemand anders onder sy vlerk – sy buurman Miles, gespeel deur Ashton Sanders, wat naam gemaak het met sy spel in die Oscar-bekroonde Moonlight. McCall mentor Miles nadat dié ’n verkeerde pad wou volg ná sy broer se dood.

“Die belangrikste ding vir my was dat die grondliggende wese van Robert McCall se karakter dieselfde is: Hy glo in geregtigheid, het sekere eienskappe van kompulsiewe gedrag en gee die slegte ouens altyd eers ’n geleentheid om die regte ding te doen,” sê die regisseur, Antoine Fuqua.

Nuwe gesig

Die Chileense akteur Pedro Pascal, wat onder meer as Javier Peña in die Netflix-trefferreeks Narcos en Oberyn Martell in Game of Thrones te sien was, maak sy buiging in die Equalizer-fliekreeks. Hy speel Dave York, ’n ou pel van McCall wat verras is toe hy hoor sy vriend leef nog.

Washington en Ashton Sanders in ’n toneel uit die fliek. “Ek speel ’n jong man, Miles, sonder ’n pa en Denzel word vir hom’n mentor,” vertel Sanders oor sy rol.

Hy help McCall om sy oudkollega se dood te ondersoek. Oor sy eerste dag op die stel sê Pedro: “Ek was so senuagtig, ek het nie die aand tevore geslaap nie.” Sesuur was daar ’n klop aan sy woonwa.

“Ek het verwag dis ’n assistent wat my vir hare en grimering moet neem, maar dit was Denzel Washington wat hom kom voorstel het,” sê hy. “Dit was ongelooflik.”

Springmieliefeite

  • Dis die vierde keer dat Washington en Fuqua saamwerk. Hulle het ook gewerk aan Training Day (2001), waarvoor Washington ’n Oscar vir beste akteur gewen het, en The Magnificent Seven (2016).
  • Washington het onlangs laat val hy is nog nooit ’n rol in ’n Marvel- of DC-superheldfliek aangebied nie.
BRONNE: METRO.US, NBCNEWS.COM, INDIEWIRE.COM

Wat wys nog?

CRAZY RICH ASIANS

Komedie. Met Constance Wu, Henry Golding en Michelle Yeoh. Regisseur: Jon M. Chu. 13DTV.

Dié romantiese komediedrama is gegrond op Kevin Kwan se satiriese roman van 2013. Die New Yorker Rachel Chu (Wu) vergesel haar jaar lange kêrel, Nick Young (Golding), na sy beste pel se troue in Singapoer.

Rachel is heel opgewonde oor haar eerste besoek aan Asië, maar is senuagtig om haar kêrel se familie te ontmoet. Tot haar skok ontdek sy hy is deel van een van die land se rykste families en boonop gewild onder die vroue.

Sy raak ook die teiken van jaloerse sosiale vlinders, en sy ma, Eleanor (Yeoh), het nie juis ooghare vir haar seun se meisie nie.

HOTEL TRANSYLVANIA 3: A MONSTER VACATION

Animasie. Stemme van Adam Sandler, Andy Samberg en Selena Gomez. Regisseur: Genndy Tartakovsky. OG. Begin op 31 Augustus.

Die monstergesin gaan met vakansie op ’n luukse monsterskip sodat Dracula (Sandler) ’n somervakansie kan geniet weg van die hotel waar hy ander gedurig van vakansies voorsien.

Dracula en sy kliek geniet dit gate uit op die vaart.

Maar hul droomvakansie ontaard in ’n nagmerrie toe Mavis (Gomez) ontdek Dracula maak ogies vir die geheimsinnige skeepskaptein, Ericka (Kathryn Hahn).

Dié het boonop ’n gevaarlike geheim wat die monsters kan vernietig.

dvd’s

THE COMMUTER

Aksie. 2018. 107 MIN. 13TG.

Die verkoopsman Michael MacCauley (Liam Neeson) het ’n slegte dag: Sy seun begin met kollege en sy huislening raak ál moeiliker om by te bring, en dan word hy afgedank.

Op sy daaglikse pendel loop hy ’n vrou (Vera Farmiga) raak wat aan hom ’n aanloklike aanbod maak. Neeson is uitsonderlik as ’n rasende pa wat desperaat is om sy naastes te red – wat hy al in minstens vyf ander flieks gedoen het.

Die sweepslagaksie in die derde bedryf is ’n redding, maar enigiemand wat al ooit ’n rolprent gekyk het, kan ná 15 minute die storie se kinkel sien kom. – Buhle-Bethu Qatyana 

MAZE RUNNER: THE DEATH CURE 

Wetenskapsfiksie. 2018. 143 MIN. 16GrTG.

In die laaste aflewering van dié trilogie red Thomas (Dylan O’Brien) en sy rebellepelle ’n medestryder van ’n groep koelbloedige wetenskaplikes wat ’n geneesmiddel vir ’n virus soek deur op mense te eksperimenteer wat daarteen immuun is.

Dié fliek, wat op die roman deur James Dashner gegrond is, is vervelig van begin tot einde. Dit bevat nie ’n enkele oorspronklike idee nie en ’n saai hooffiguur (jammer, Dylan) help ook nie.

Game of Thrones se Aidan Gillen – as hoof van die wetenskaplikes se sekuriteitsafdeling – staan uit, maar hy kom hopeloos te min voor. Die “helde” is so selfsugtig vernietigend, jy wil amper die skurke aanmoedig.

Spaar jou die frustrasie en kyk eerder iets anders. – Biana Lambrechts 

DVD’S VERSKAF DEUR VIDEORITE, VISHOEK. VIND HULLE OP FACEBOOK