Dumbo

Fantasieavontuur.
Met Colin Farrell, Eva Green en Danny DeVito.
Regie: Tim Burton.
Begin op 29 Maart.

Die fliek is losweg gegrond op die oorspronklike Dumbo-fliek van 78 jaar gelede. Maar dié keer is die storie heelwat donkerder.

Die sirkuseienaar Max Medici (DeVito) vra ’n voormalige sirkusster en oorlogsveteraan, Holt Far­rier (Farrell), en sy kinders, Milly (Nico Parker) en Joe (Finley Hobbins), om ’n pasgebore olifant met oorgroot ore te versorg waarvoor almal in die sukkelende sirkus lag.

Maar toe hulle ontdek Dumbo kan vlieg, bewimpel Max ’n plan om die dollars te laat inrol.

Die fliek wemel van sterre, soos die Oscarbenoemde Michael Keaton (67), wat die rol vertolk van die entrepreneur en booswig V.A. Vandevere. Dié wil munt slaan uit Dumbo en eindelik Max se sirkus in Dreamland omskep.

Tim Burton (60), wat in die regisseurstoel sit, is bekend vir die wonderwêrelde wat hy op die grootskerm skep.

Dumbo is sy eerste fliek sedert 2016 se Miss Peregrine’s Home of Peculiar Children. Hy was ook verantwoordelik vir ander fantasieprente soos Charlie and the Chocolate Factory (2005), Alice in Wonderland (2010) en Alice Through the Looking Glass (2016).

Colin Farrell (42) speel ’n voormalige sirkusster, bekend vir sy perde­ruitervertoning, wat ná vyf jaar in die oorlog terugkeer huis toe en ontdek sy vrou is oorlede en hy is nou die enkelpa van twee kinders.

Dit was nog altyd sy droom om saam met Tim te werk, sê Colin.

“Edward Scissorhands (1990) was een van die eerste flieks wat ek van hom gesien het, en dis steeds een van my gunstelingflieks ooit,” vertel hy.

Die Ier moes saam met ’n vangriem- en perdryinstrukteur werk om vir sy rol voor te berei.

In die geliefde 1941-prent praat Dumbo nie, maar wel baie van die ander sirkusdiere. In Tim se weergawe praat nie een van die diere nie.

Die jong Milly word gespeel deur Nico Parker, die 14-jarige dogter van die aktrise Thandie Newton van Westworld-faam. Die dekordepartement het Milly met boeke deur die fisikus Marie Curie toegerus om haar passie vir die wetenskap te wys.

Nico het die boeke studeer om haar karakter beter te verstaan, maar deel nie Milly se liefde vir die wetenskap nie.

Die Franse aktrise en model Eva Green (38), wat die titelrol in Tim se 2016-fliek, Miss Peregrine’s Home for ­Peculiar Children, vertolk het, speel dié keer die sweefkunstenaar Colette Marchant.

Eva het aan kwaai hoogtevrees gely toe sy by die produksie aansluit. ’n Beroepssweefkunstenaar is gehuur om vir haar in te staan, indien nodig, maar sy het haar vrees oorkom en baie van die choreografie self behartig. Sy’t ook ballet beoefen om eleganter tydens haar toertjies te lyk.

Die Indies gebore Britse akteur Roshan Seth (76), wat die slangbesweerder Pramesh Singh speel, het in die meeste van die tonele ’n regte luislang om sy nek gedra.

Miss Atlantis is deel van Holt se sirkusfamilie. Haar kostuum het meer as 100 skubbe wat met die hand gestik is.

Die Skotse aktrise Sharon Rooney (30), wat dié karakter speel, moes die ikoniese liedjie Baby Mine van die oorspronklike fliek sing – dieselfde liedjie wat haar ouma vir haar as kind gesing het. Sy’t ook binne ’n week die ukulele leer bespeel.

Regte sirkusartieste – van towenaars tot mesgooiers en lyfvlegters – is in die fliek te sien.

Ivan the Wonderful en Catherine the Greater is ’n kulkunstenaar-egpaar wat Milly en Joe versorg nadat hul ma gesterf het. Die akteurs wat hulle speel, Miguel Muñoz en Zenaida Alcalde, is in die regte lewe ’n paartjie en spesialiseer in trapesium en toorkuns.


BRONNE: WALT DISNEY STUDIOS, EXTRATV.COM, SLASHFILM.COM
Seemeeu

Drama.
Met Sandra Prinsloo en Albert Pretorius.
Regie: Christiaan Olwagen.
16DTSG.
Begin op 5 April.

Christiaan Olwagen van Johnny Is Nie Dood Nie- en Kanarie-faam pas die klassieke toneelstuk Die Seemeeu van die Russiese dramaturg Anton Tsjechof aan vir dié plaaslike Afrikaanse drama­prent.

Die fliek speel af in die 1990’s hier in Suid-Afrika, byna ’n eeu nadat dit geskryf is, en draai om verskeie karakters wat elkeen met hul eie vrese en frustrasies wroeg.

Sandra Prinsloo vertolk die rol van die teaterdiva Irene wat dit net nie kan kleinkry dat kunstefeeste nou haar voorland is nie.

Nina (Rolanda Marais) en Konstant (Albert Pretoriu
Nina (Rolanda Marais) en Konstant (Albert Pretorius). Foto verskaf


Die karakters
  • Daar is ook haar sieklike ouer broer, Piet (Marius Weyers), wat spyt is dat hy nie meer kanse in die lewe gewaag het nie.
  • Konstant (Pretorius), die onseker, afgeskeepte seun en dramaturg wat deur die liefde verlaat is en net na die aanvaarding van sy ma smag.
  • Die alkoholis en dagga­roker Masha (Cintaine Schutte). 
  • Die astrante plaasbestuurder Elias (Deon Lotz) en sy langlydende vrou, Paulina (Martelize Kolver).
  • Die naïewe aspirantaktrise Nina (Rolanda Marais) wat wil ontsnap van haar ouers en die klein dorpie waarop sy woon.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.