Dark Waters

2019. 127 MIN. 13GT. 
BESKIKBAAR OP SHOWMAX

 Bill Camp (links) en Mark Ruffalo beïndruk met hu
Bill Camp (links) en Mark Ruffalo beïndruk met hul spel in dié ware lewensdrama. Foto: Focus Features

Waaroor gaan dit?

Die altyd betroubare Mark Ruffalo (Hulk in Marvel se MCU) anker dié somber maar boeiende ware lewensdrama met sy beheersde vertolking van die prokureur Rob Bilott.

Dit is 1998, en danksy jare van harde werk is Rob op die punt om ’n vennoot te word in ’n prestigeryke regsfirma in Cincinnati wat daarin ­spesialiseer om chemiese maatskappye te verdedig. Maar dan nader ’n boer van sy ouma se tuisdorp in die Amerikaanse staat Wes-Virginië hom . . . 

Wilbur Tennant (’n onvergeetlike vertolking deur Bill Camp) is oortuig die reuse-chemiese firma DuPont se stortingsterrein langs sy plaas vergiftig die rivier en lei tot ­die dood van die meeste van sy vee.

Rob is eers huiwerig om die saak aan te roer, maar word mettertyd vasbeslote om die skokkende waarheid te ontbloot.  

Is dit die kyk werd?

Nes die soortgelyke 2019-fliek The Report vermy hierdie ­stadige drama uitspattige of vertonerige tonele, en dit fokus eerder op ’n doodgewone maar bewonderenswaardige fluitjieblaser se onwrikbare najaging van die waarheid terwyl hy stilweg deur morele woede aangedryf word. 

Die fliek voel lank, maar dit is gepas, want die onderwerp is ’n saak wat oor 20 jaar strek.

Die droewe beelde en natuurlike spel skep ’n outentieke gevoel, terwyl Tim Robbins en Bill Pullman die uitmuntende Ruffalo sterk ondersteun. 

Anne Hathaway speel Mark se vrou.
Anne Hathaway speel Mark se vrou. Foto: Focus Features

Die enigste bitter smakie is Rob se vrou, Sarah (Anne Hathaway), wat skril en onsimpatiek voorkom. Die Oscarwenner se talent kom nie tot sy reg in dié rol nie. 

– SANDRA VISSER

Stroom ook . . .

BIG TIME ADOLESCENCE 

Komediedrama.
2019. 87 MIN. 16TSD.
BESKIKBAAR OP SHOWMAX


Pete Davidson
Foto: Hulu

Die voorbeeldige tiener Mo (Griffin Gluck) aanbid sy ouer vriend Zeke (Pete Davidson), ’n dwelmsmous en sy suster (Emily Arlook) se eks­kêrel. 

Ondanks sy ouers se kommer oor Zeke se negatiewe invloed op hom bring Mo die meeste van sy tyd saam met hom deur.

Maar namate hy grootword en Zeke se afbrekende gedrag eerstehands ervaar, begin Mo die gevolge van sy dade verstaan en hy besef wat dit verg om ’n volwassene te wees. 

Dié onkonvensionele fliek is die skrywer en regisseur Jason Orley se debuut en het ’n goeie span akteurs. Gluck lewer geloofwaardige spel, terwyl Davidson vreemd innemend is, en die vriendskap en gesprekke tussen die karakters voel natuurlik.

Al is die rolprent nie ’n baanbreker in die grootwordverhaalgenre wat ­oorlopens toe vol is nie, is Big Time Adolescence ’n vermaaklike en hartroerende storie met ’n slim komedieaanslag wat die kyk werd is.

 En as jy Gluck en Davidson se loopbane dophou, is dit nog ’n rede om hierdie fliek op jou kyk­lys te sit. 

– CAMILLA THOROGOOD