Eendag lank, lank gelede was daar ’n beeldskone, delikate jong meisie, lief en goed, maar om eerlik te wees ’n bietjie hulpeloos. Sy het ’n prins nodig gehad om haar te red van allerlei nare dinge soos bose stiefma’s, jaloerse koninginne, vuurspuwende drake – noem maar op, die meisie moes geréd word.

Gelukkig galop die prins op sy wit perd die prentjie in, ruk sy swaard uit en maak korte mette van die bose in al sy verskynsels.

Dan pluk hy die dankbare meisie met een sterk arm saam met hom op sy ros, plant ’n hartstogtelike kus op haar lieflike rooi lippe, en daar jaag hulle in die pienk strale van die sonsondergang weg om vir altyd gelukkig saam te lewe.

Maar daardie dae is nou verby, want vandag se Disneyheldinne is van ’n heel ander stoffasie aanmekaargesit. Trouens, die prins sal sy slap kuif uit sy oë moet vee en vir hom ander werk moet gaan soek, want die prinses red haarself nou, baie dankie.

Die nuutste dapper vrou is die formidabelste een onder die superhelde: Sy’s Captain Marvel, ook bekend as die Aarde se Magtigste Held. Marvel, wat gespeel word deur die Oscarbekroonde aktrise Brie Larson, sal die eerste vroulike held wees wat die hoofrol kry in die Marvel Cinematic Universe (MCU), ’n franchise wat superheldflieks maak en wat deel is van die Disneystal.

Captain Marvel – haar regte naam is Carol Danvers – is slimmer en sterker as enigiemand wat ons al ooit in die MCU gesien het, en dit sluit superhelde soos Iron Man, Thor, Hulk, Captain America en Spider-Man in.

Die MCU-vervaardiger Kevin Feige sê Marvel se magte en kragte ken geen perke nie. Kykers sal moet vasgord vir dié onverskrokke held(in) se dapper dade. Maar fliekvlooie sal eers moet wag, want dié rolprent word eers in Maart volgende jaar uitgereik.

Hier’s intussen ’n kykie na hoe Disney se pieperige prinses tot ’n almagtige amasone ontwikkel het.

AAN DIE BEGIN: RED ONS, ASSEBLIEF...

Sneeuwitjie Foto: Verskaf (Disney)

Sneeuwitjie was die eerste Disneyprinses en sy het reeds in 1937 haar buiging op die grootskerm gemaak. Sy verlang na ’n prins – enige prins, solank hy ’n prins is, wat haar kan kom red – en vir die grootste deel van die fliek is sy sewe klein mannetjies se huishoudster.

Sy kruip hier weg vir ’n stiefma wat so groen van jaloesie op Sneeuwitjie se skoonheid is dat sy dit ernstig oorweeg om haar lewensvlam te blus.

Dié meisie met ’n vel so wit soos sneeu, lippe so rooi soos die rooiste roos en hare soos ’n nagswart waterval vat ’n happie van ’n giftige appel, verval in ’n koma en word in ’n glasdoodskis gesit sodat almal bo-oor haar kan kom ween.

Dan kom ’n prins op stywe galop daar aan, druk ’n soen op daardie lippies – en nou ja, almal ken die uiteinde van hierdie spesifieke sprokie. In 1950 daag Aspoestertjie op en jy kry sowaar nie ’n karakter wat so dringend deur ’n prins van haar nare stiefsusters gered moet word nie.

Aspoestertjie, Foto: Verskaf (Disney)

Eintlik enigiemand, solank sy net geréd word. Toe help daardie glasskoentjie haar darem. Die Slapende Skone beland in 1959 op die skerm en ook sy word so ampertjies deur bose mense na haar graf gedryf.

Maar toe verskyn ’n prins op die toneel wat die toegegroeide kasteel begin oopkap met sy swaard paraat omhoog.

DIE MIDDEL: ONS WIL GRAAG ONAFHANKLIK WEES!

Ariel Foto: Verskaf (Disney)

Ariel, The Little Mermaid maak in 1989 haar opwagting tot die groot verligting van ’n nuwe generasie ouers. Sy wil so graag die wye wêreld buite haar onderwaterkoninkryk verken dat sy haar pragtige stem prysgee vir ’n paar bene.

(Ongelukkig blyk dit ook sy moet deur ’n prins gered word.) Disney se eerste prinses wat nie so wit soos sneeu is nie, is prinses Jasmine in 1992 se Aladdin.

Sy verklaar ook trots: “Ek is nie ’n prys wat gewen kan word nie.” Van toe af het dinge vir onafhanklike meisies begin verbeter – weliswaar stadig maar seker.

Pocahontas (1995) word uitgebeeld as iemand wat groot respek het vir haar mense, inheemse Amerikaners, terwyl sy hoop dat vrede met die Britse kolonialiste moontlik sal wees.

Pocahontas Foto: Verskaf (Disney)

Sy verwerp haar pa se planne vir ’n gereëlde stamtroue sowel as John Smith se aanbod dat sy saamgaan wanneer hy na Engeland terugkeer.

EINDELIK: ONS IS BAIE DINGE TEGELYK

Mulan Foto: Verskaf (Disney)

Disney se Mulan breek in 1998 los van allerhande beperkings waarmee vroulike hoofkarakters van destyds aan bande gelê is.

Sy is nie ’n prinsessie nie, maar ’n kragtige soldaat wat die Chinese vors sowel as haar stad red, en sy vat vir haar ’n kêrel op die koop toe.

Van toe af begin dinge stukke beter gaan: Tiana van The Princess and the Frog (2010) is die eerste swart prinses en boonop die eerste een met ’n regte werk;

Raponsie in Tangled (2010) neem die voortou om haar ontsnapping te bewerkstellig en Brave se Merida (2012) is ’n tiener wat nie wil trou nie, baie dankie – haar stryd is om haar familie bymekaar te hou.

Toe word Frozen in 2013 uitgereik en vir koningin Elsa en prinses Anna is enige romantiese gedoentes ver op die agtergrond – vir hulle gaan dit oor die liefde en mag van vroue wat saamstaan. In 2014 is prinses Aurora herskep in die rolprent Maleficent met Angelina Jolie.

Dié storie word vertel uit die oogpunt van die misverstane skurk.

Don Hahn, ’n vervaardiger van die fliek, sê dit sou “totaal onvanpas” wees om ’n moderne Slapende Skone deur ’n prins te laat red.

“Ons kan nie ’n fliek maak waar die protagonis die helfte van die fliek deur slaap en net wakker word wanneer ’n man vir haar sê: ‘Oukei, jy mag nou jou lewe begin’ nie. Ek wil nie vir my dogter so ’n storie vertel nie.”

En in 2016 speel Moana klaar met enige praatjies van moontlike verliefdheid en sulke meisierige goeters.

Dié Polinesiese tienerprinses is op ’n sending om haar mense te red en Maui is bloot haar assistent. Want watter vrou wil bloot ’n prinses wees as sy kan wees net wat sy wil? 

DIE TAWWE TIENIES

Daar was al Supergirl (1984), Tank Girl (1995), Barb Wire (1996), Catwoman (2004) en Marvel se Elektra (2005). Maar die flieks was nie juis goed gemaak nie en superheldrolprente met vroue in die hoofrol het nie goed gevaar nie – tot DC Comics se Wonder Woman, met Gal Gadot in die hoofrol, verlede jaar gewys het hoe dit gedoen behoort te word.

Halle Berry in die fliek van 2004 Catwoman. Foto: Magazine Features

G’n wonder dit het soveel geld gemaak nie.

Die karakters wat die ruimtebaanbrekers was, was ’n meisie met ’n sending, ’n ruimteprinses en ’n ruimtevlieënier: Foxy Brown (Pam Grier), Star Wars se prinses Leia (Carrie Fisher) en die Alien-reeks se Ellen Ripley (Sigourney Weaver).

Carrie Fisher as prinses Leia in Star Wars. Foto: Gallo Images/Getty Images

Foxy was die ster van haar eie fliek, terwyl Leia en Ellen deel was van ’n groter rolverdeling, maar al drie het van die tradisionele uitbeelding van vroue in aksieflieks afstand gedoen.

Hulle was in beheer van hul eie sendings en lewe en het nie een op ’n prins op ’n perd gewag nie. Marvel beslis ook nie.

Bronne: Ew.com, Bustle.com, Time.com, Theguardian.co.uk, SYFI.com, Hellogiggles.com, AP.com