Dodie Smith het haar trefferboek The Hundred and O
Dodie Smith het haar trefferboek The Hundred and One Dalmatians in net sewe weke geskryf. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy is ’n vrou so boos dat sy 99 hondjies wou ontvoer om hul pels vir die volmaakte jas te gebruik. Toe die skrywer Dodie Smith die karakter Cruella de Vil geskep het, wou sy nie gehad het die lesers moes die heks jammer kry nie; eerder dat haar narsisme en wreedheid hulle moes skok.

Maar Cruella, Disney se nuwe weergawe van die verhaal met Emma Stone in die hoofrol, bekyk haar agtergrond en doen presies die teenoorgestelde. Ná al die traumatiese gebeure in die arme vrou se kinderjare sou jy ’n hart van klip moes hê om nie effens simpatieker teenoor haar te wees nie.

Tog dink ek Dodie sou die nuwe Cruella-rolprent geniet het. Sy sou in haar noppies gewees het dat dit haar eie roem as Cruella se skepper laat herleef. En sy sou dol gewees het oor die inkarnasie van Cruella de Vil as ’n modekoningin. Dodie was immers self eens ’n ontwerper van uitheemse klere.

Sy het so ’n passie vir hoë bolhoede met vere, kartelkrae, hoë hakke en kleurvolle sjaals gehad dat die mense in die woonstel oorkant hare altyd gekyk het wat sy aantrek en hande geklap het wanneer sy werk toe gaan.

Sy het kaartjies laat druk met die woorde: “DODIE SMITH, Quaint Clothes for Queer Customers”.

Maar wat sy veral van die rolprent sou verwelkom het, is die geld – “die Disney-lollie”, soos dit in haar huishouding bekend geword het.

Toe Walt Disney die regte van The Hundred and One Dalmatians gekoop het – teen $25 000 in 1957 – het hy Engeland toe gegaan en verstom voor Dodie se grasdakkothuis in Essex gestaan.

“Sjoe!” het hy gesê.

Die aantreklike Walt het Dodie bekoor. Dit het 300 kunstenaars drie jaar geneem om sy animasiefliek te teken wat op Kersdag in 1961 uitgereik is.

Dit het $4 miljoen gekos om te maak en gloeiende resensies gekry. Die sukses daarvan het haar so betower dat sy haar volgende dalmasiër Disney genoem het.

Haar enigste klagte was dat haar naam in die erkenningslys te klein was. Al is dit in die jongste verwerking nou groter, sou een aspek daarvan haar bitterlik teleurgestel het: Die dalmasiër, ’n skepsel wat sy aanbid het, is net ’n randfiguur in die jongste van die drie Disney-rolprente met lewende akteurs wat sedert haar dood uitgereik is.

Dodie was mal oor dalmasiërs en het in haar lewe ’
Dodie was mal oor dalmasiërs en het in haar lewe ’n hele paar van dié honde gehad. Foto: Gallo Images/Getty Images.

In die nuwe fliek behoort die honde nie eens aan Cruella nie, en daar is geen hondepelsjas nie. Die storie gaan nie meer oor die atletiese, aantreklike hondesoort met die sierlike kolle nie.

Pleks daarvan fokus dit op die titelkarakter en haar tragiese oorsprongverhaal.

Maar hoe het Cruella in die eerste plek ontstaan?

In 1934 was Dodie op die kruin van ’n suksesgolf net voor haar derde West End-verhoogstuk sou open. Haar eerste, Autumn Crocus, het drie jaar tevore aan haar oornag roem en rykdom gebring. “Winkelmeisie skryf toneelstuk!” het die reklameborde dit uitbasuin.

Eintlik was sy meer as ’n winkelassistent. As mislukte aktrise en aspirantskrywer het sy ’n kunsgalery by die meubelemporium Heal’s bestuur – en deur slinksheid en gewetenloosheid die minnares van die stigter en voorsitter, Ambrose Heal, geword.

Sy eerste geskenk aan Dodie was ’n tikmasjien, waarop sy Autumn Crocus geskryf het.

Met die eerste teken van kommersiële sukses het Dodie ’n vloerlengte-wit pelsjas gekoop. Haar nuwe woonstel in Dorset Square is met modieuse monochrome dekor, swart mure, kerse en gordyne, en ’n wit plafon en mat versier.

Sy het altyd gesê: “Al wat ek nou nodig het, is ’n dalmasiërhond.”

Sy het ’n grap gemaak; daarom was sy onthuts toe haar kêrel op haar 38ste verjaardag vir haar ’n hoedeboks gee en ’n groot, slap dalmasiërhondjie spring daaruit.

Sy het hom Pongo genoem en was dol oor sy sagte pels, maar het hom na ’n diereherberg gestuur tot haar nuwe verhoogstuk geopen het.

Tog het die eerste Cruella-agtige sêding nie uit Dodie se mond gekom nie, maar uit dié van haar vriendin Joyce Kennedy, ’n aktrise. Sy het Pongo een kyk gegee en opgemerk: “Hy sal ’n mooi pelsjas maak.”

Eers twee dekades later het Dodie die fiktiewe hondemoordenaar opgetower wat haar blywendste bydrae tot ons moderne skat van sprokiesverhale sou word.

In 1954 het Dodie ná jare as draaiboekskrywer in Hollywood en die sukses van haar eerste roman, I Capture the Castle (wat ook later verfilm is), na haar huis in Essex teruggekeer. Saam met haar was haar man, Alec, en die drie dalmasiërs wat hulle in Kalifornië gekry het.

Sy was so betower, sy het haar volgende dalmasiërhondjie Disney genoem.

Terug uit ballingskap was sy ongelukkig toe sy uitvind haar verhoogstukke is nie meer in die mode nie. Sy kon nie verstaan waarom haar ligte salonstukke sukkel om ’n gehoor te lok nie.

Maar toe lees sy toevallig ’n Enid Blyton-boek wat sy vir een van die bure se kinders gekoop het en wonder of sy nie ook ’n kinderboek kon skryf nie. Oor dalmasiërs, natuurlik.

Dit is toe dat Joyce Kennedy se woorde van 20 jaar tevore aan die pelsbehepte booswig Cruella de Vil – ’n briljante naam – toegedig word. Dodie het verwoed geskryf en The Hundred and One Dalmatians binne sewe weke voltooi.

Die uitgewer Heinemann het haar ’n voorskot van £100 betaal vir wat teen Kersfees 1956 ’n onverwagte blitsverkoper sou wees.

Cruella verskyn die eerste keer vroeg in Dodie se boek toe mnr. en mev. Dearly se vrede op ’n soel laatsomeraand deur die skril getoet van ’n swart-en-wit sportmotor versteur word.

Daaruit klim ’n lang skepsel in “ ’n noupassende smaraggroen satynrok, met verskeie stringe robyne en ’n eenvoudige wit pelsmantel wat tot by die hoë hakke van haar robynrooi skoene strek”.

Haar hare is met ’n strak middelpaadjie verdeel: die een helfte swart en die ander wit.

Glenn Close het die rol van Cruella in 101 Dalmati
Glenn Close het die rol van Cruella in 101 Dalmatians en die opvolg daarvan, 102 Dalmations, vertolk. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Aarde, dis Cruella de Vil,” sê mev. Dearly. “Ons was saam op skool. Sy is geskors omdat sy ink gedrink het.”

Mev. Dearly onthou Cruella het selfs as kind een wit vlegsel en een swarte gehad. Cruella nooi die Dearlys na haar huis met swart marmermure en lig hulle in: “Ek aanbid pelse; ek leef vir pelse.”

Cruella maak dan haar voorstel oor die Dearlys se dalmasiërs aan haar pelsmakerman: “Sou hulle nie bekoorlike pelsjasse uitmaak nie? . . . Ons het nog nooit daaraan gedink om van hondevelle pelsjasse te maak nie.”

Toe sy hoor van hul babahondjies wat op pad is, bedink sy haar dodelike plan om die honde te ontvoer.

Deesdae word Cruella-aanhangers (van wie daar ’n menigte is, meestal jong meisies wat boodskappe plaas soos: “Sy is my gunsteling-Disney-skurk! Ek is mal oor haar!”) verkeerdelik op die internet ingelig dat die oorspronklike Cruella op die Amerikaanse aktrise Tallulah Bankhead gegrond is, sy met haar “bose lag en skor rokerstem”.

Maar dit was Janet en Anne Grahame-Johnstone, ’n tweeling wat die boek geïllustreer het, wat die blywende visuele beeld van die elegante Cruella geskep het.

Daarmee het hulle die ontwerper Erté se Symphony in Black-voorkoms nageboots – ’n lang, lenige vrou in ’n klewende swart rok met ’n waaiervormige hoed en swart-en-wit pels oor haar linkerarm gedrapeer wat ’n swart windhond aan ’n ketting lei.

Dié beeld het Disney-kunstenaars vir die rolprent oordryf.

In die nuwe fliek wil Cruella wraak neem op ’n mod
In die nuwe fliek wil Cruella wraak neem op ’n modeontwerper wat haar lewe verwoes het. Foto: Disney Enterprises Inc.

Buiten dat sy ink in haar skooldae gedrink het, het Dodie geen verdere verduideliking oor Cruella se moeilike kinderjare gegee nie.

Toe sy in 1990 in die ouderdom van 94 sterf, is sy deur haar laaste dalmasiër, die oorgroot Charlie, oorleef, maar hy is kort daarna aan ’n gebroke hart dood.

Sy het nie toe geweet dat daar gou ’n menslike inkarnasie van Cruella sou verskyn nie.

In 1996 was Glenn Close op die voorblad van glanstydskrifte wêreldwyd te midde van ’n ontploffing van modeartikels met honde vol kolle en pelshoede. Glenn was wonderlik in fabelagtige pels en vere en het die rol in 2000 in die opvolgfliek hervat.

Die draaiboekskrywers van die nuwe Cruella-voorvolg, met die talentvolle Emma Stone in die titelrol, het die idee gebruik dat Cruella in haar skooljare as ’n twissoekerige rebel gevorm is. En sy is diep daardeur geraak dat sy wees gelaat is toe haar ma deur ’n trop wrede dalmasiërs tot haar dood gedryf is.

Cruella wil graag ’n modeontwerper word, en dit lei daartoe dat sy vloere skrop (en op getrap word) by die Libertywinkel.

Sy word die vakleerling van ’n modeontwerper bekend as The Baroness (Emma Thompson).

Cruella word op haar skouspelagtigste gesien in ’n verleidelike skarlakenrooi rok wat eers ontbloot word toe haar symantel aan die brand gesteek word.

Die fliek Cruella, met Emma Stone, kyk na die trau
Die fliek Cruella, met Emma Stone, kyk na die trauma wat die karakter se persoonlikheid gevorm het. Foto: Disney Enterprises Inc.

Van die ander wilde extravaganzas is ’n jas wat van faux dalmasiërvel gemaak is.

Stories oor die agtergrond van die skurke van popkultuur – die opdiep van sielkundige skade in hul jeug – het ’n Hollywood-cliché geword.

Carrie, Darth Vader, Cersei in Game of Thrones, Raven Darkholme en Mickey en Mallory Knox (Natural Born Killers) het almal in hul kinderjare trauma en geweld beleef.

Disney se ander sadistiese feeks, Maleficent, is as ’n jong fee beroof en vermink; Hannibal Lecter se ouers is deur die Nazi’s vermoor en ’n bredie is van sy suster gekook, wat Hannibal onwetend geëet het.

Dodie sou beslis die idee goedgekeur het dat Estella, die skoolmeisie en toekomstige Cruella, danksy ’n ongewone sterk besef van haar eie waarde en vermoëns van die vergetelheid gered word.

Die skrywer is self op 18 wees gelaat nadat sy as die enigste kind in ’n Edwardiaanse gesin van amateurdramageesdriftiges grootgeword het. “Little Dodie” het altyd vir haar bewonderende tannies en ooms toneelgespeel en geweet hoe om ’n indruk te maak.

Sy sou daarvan gehou het dat die rolprent op plekke in die middestad van Londen fokus. Haar nostalgiese obsessie in haar lywige outobiografie was met haar gunstelingplek, Regent’s Park – tuiste van die Dearlys, die buurt waar sy altyd gewens het sy ’n huis gekoop het pleks daarvan om platteland toe te trek.

As dramaturg sou Dodie dalk die bestaan van die twee Emmas in hierdie rolprent verwarrend gevind het: Thompson en Stone, die een ’n gevestigde Cruella-soort en die ander wat daarna streef.

Cruella maak soos gewoonlik ’n klomp wilde modeste
Cruella maak soos gewoonlik ’n klomp wilde modestellings, insluitend dié rooi rok. Foto: Disney Enterprises Inc.

Sy sou ure lank met haar dramaturgvriende oor “die goed gekonstrueerde toneelstuk” gepraat het.

Van die twee mededingende heldinne meen ek sou Thompson haar die meeste geboei het.

Ek vermoed Dodie, wat die moderne vroue wat met haar onderhoude gevoer het, dikwels kil beskou het, sou dalk snedig gewees het oor Stone se porseleinpopskoonheid.

En sy sou verwonderd gewees het dat dit in verband gebring word met die hekserige kenmerke van die Cruella wat ons ken.

Aan die ander kant, byna 70 jaar het al verloop sedert sy haar die oorspronklike Cruella voorgestel het. Ek twyfel of Dodie in haar later lewe ooit weer aan die skepsel gedink het wat sy op die wêreld losgelaat het.

Begin by die begin: Nog ses oorsprongstories

The Godfather Part II (1974)

Robert De Niro.
Robert De Niro. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Robert De Niro beeld don Vito Corleone as jong man vroeg in die 20ste eeu uit – die rol wat Marlon Brando in die eerste rolprent vertolk het.

Die regisseur, Francis Ford Coppola, wissel daardie tonele briljant af met dié van die 1950-tydlyn waarin Al Pacino as Vito se seun, Michael, verskyn.

Twee akteurs op die hoogtepunt van hul loopbaan speel pa en seun wat op byna dieselfde ouderdom hul menslikheid vir mag opoffer.

Indiana Jones and the Last Crusade (1989)

Harrison Ford as Indiana Jones.
Harrison Ford as Indiana Jones. Foto: Gallo Images/Getty Images.

In die derde aflewering in dié rolprentreeks verskyn drie generasies Hollywood-hartebrekers: Harrison Ford as Indiana Jones, Sean Connery as sy pa, en in die proloog ook ’n onbeskryflik mooi River Phoenix as ’n jong Indy.

In 10 meesterlike minute gee Steven Spielberg ’n verklaring vir sy vrees vir slange, die gebruik van ’n sweep, sy keuse van hoede en die oortuiging – effens omstrede aan hedendaagse standaarde gemeet – dat argeologiese artefakte in museums hoort.

Star Wars-voorvolgtrilogie (1999-2005)

Die Star Wars-karakter Chewbacca.
Die Star Wars-karakter Chewbacca. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Star Wars het Han Solo se jeug in Solo: A Star Wars Story (2018) aangepak en Obi-Wan Kenobi s’n in die komende TV-reeks. Maar die sage oor hoe Anakin Skywalker Darth Vader geword het, troon bo al die ander uit.

Ongelukkig bederf swak toneelspel en vrot dialoog die storie van Anakin se vordering van bekkige blondekopseuntjie tot moorddadige halfmens-halfmasjien.

Maleficent (2014)

Angelina Jolie.
Angelina Jolie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Angelina Jolie speel die bose feekoningin uit Sleeping Beauty in ’n uitloperrolprent wat ook haar moeilike tienerjare uitbeeld.

’n Sestienjarige Maleficent, gespeel deur Isobelle Molloy, se vlerke word afgesny – en dit deur Stefan, die boerseun op wie sy verlief is.

Eerstens wys dit puberteit is aaklig en tweedens verklaar dit waarom Maleficent ’n duistere skrikbewind begin voer en ook Stefan se dogter, Aurora, vervloek.

Joker (2019)

Joaquin Phoenix
Joaquin Phoenix. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hoe het Batman se aartsvyand ontstaan?

Volgens Todd Phillips se distopiese herverwerking was dit omdat die gekwelde jong Arthur Fleck (Joaquin Phoenix) deur ’n dronk sakeman aangeval is, ongelukkig in die liefde was, deur die stelsel in die steek gelaat is en omdat niemand vir sy grappe gelag het nie.

Wonka (word nog vervaardig)

Gene Wilder.
Gene Wilder. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Timothée Chalamet sal ’n jong Willy Wonka speel in ’n voorvolg onder regie van Paul King waarin verskeie musieknommers gehoor sal word.

Timothée lyk na ’n goeie keuse om Gene Wilder en Johnny Depp op te volg as Roald Dahl se ondeunde sjokolademaker.

– Ed Potton

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe