Die aktrise Méla Swanepoel.
Die aktrise Méla Swanepoel. Foto: Mack Kruger.

Méla Swanepoel (13)

TV-ster

Méla is ’n gr.7-leerder aan die Laerskool Lynnwood in Pretoria.

Sy speel die hoofkarakter, Tanya, in Monster in my kas. Tanya word getreiter deur ’n groot monster, maar niemand glo haar nie, sê Méla. Tanya is nes baie ander tieners wat nie gehoor en geglo word nie.

Toe Méla klein was, was sy bang vir “narre en donderweer”. Vandag, grap sy, "maak my sussie Grete-Lee, wat vir my ekstra wiskundeklasse gee, my heelwat banger”.

Méla en Dior Botha, wat haar suster in die fliek speel, het goeie pelle geword. Hulle is nou soos susters. “Dit was ’n fees om saam met haar en die ander akteurs te werk.”

Méla en die akteur Francois Jacobs, die regisseur
Méla en die akteur Francois Jacobs, die regisseur van die fliek. Foto: Verskaf.

Blink geleenthede

Méla is die tweede jongste van ses kinders.

Op 13 was sy al in drie kortflieks te sien – en in twee het sy hoofrolle gehad. Haar groot droom is om ’n rol in ’n Hollywood-fliek los te slaan. “Of een in ’n Netflix-fliek. En ’n rol in ’n sepie soos Binnelanders sal glad nie sleg wees nie.”

Méla tydens verfilming.
Méla tydens verfilming. Foto: Verskaf.
Agter die skerms
Agter die skerms. Foto: Verskaf.

Toekomsdrome

Sy wil eendag ’n pediater word. “Ek's mal oor kinders, maar wil beslis die vermaakbedryf ’n kans gee,” vertel sy.

Dís my ‘monstertjies’

Benewens ons vyf honde en een budgie, het ek ook drie boeties, Jovann, Thommi en Lehan. Dis nou my drie monsters . . . ek bedoel boeties. Ek terg net. Ek is mal oor hulle!

Ek sal graag ’n verkleurmannetjie ook wil hê of ’n klein apie, but then again, ek het vir Lehan.

Méla se gunstelinge
  • Superheld Spider-Man, dalk omdat Tom Holland die rol vertolk.
  • Disney-prinses Rapunzel, want ek hou van haar attitude.
  • Somer of winter? Winter. Daar is niks soos hot chocolate, ’n kombers en ’n fliek as dit koud is nie.
  • Instagram of TikTok? My sussie Danièlle noem my die TikTokqueen!
  • Ontspan in die buitelewe of tuis TV kyk? Die buitelewe. Ek's mal oor die see en die plaas!
  • Bel of WhatsApp? WhatsApp, want ek gebruik emoji’s heeltemal oordadig!
Die aktrise Dior Botha.
Die aktrise Dior Botha. Foto: Bronwyn Katzke.

Dior Botha (15)

Haar vrese

Dior maak haar fliekdebuut in die kortfilm as Méla se TV-suster, Marelize.

Dié jong aktrise met die cool naam is in gr. 10 by die skool Curro Bankenveld in Emalahleni in Mpumalanga.

Sy het goeie pelle met Méla op stel geraak. “Omdat ek ’n enigste kind in die werklike lewe is, sê ek dat Méla my sussie van die stel is.”

As kleuter was sy nie bekommerd oor monsters in haar kas nie. Sy het eerder ’n “groot vrees” gehad vir . . . ’n denkbeeldige kat!

“Die Kwaai Wilde Kat, ’n denkbeeldige kat wat in die nag deur vensters klim. Ek het altyd my vensters toegemaak, selfs in die somerhitte,” vertel die aktrise, wat in Middelburg woon.

Gelukkig is sy deesdae net bang vir hoogtes.

Haar pad na die kassie

Dior het begin toneelspeel toe haar gr. 4-dramaonnie gesê het sy moet deelneem aan ’n oudisie vir ’n skoolproduksie. Sy het sommer die hoofrol losgeslaan en so haar liefde vir toneelspeel ontdek.

Méla en Dior.
Méla (links) en Dior. Foto: Verskaf.

Toekomsdrome

Dior is mal oor die natuur en wil eendag in ’n fliek speel wat fokus op natuurbewaring. “Ek wil eendag ekologie studeer en veldwerk doen met wilde diere en bewaring.”

Dís my ‘monstertjies’

Ek het twee Jack Russells en ’n Skotse terriër. Hulle name is Ami, Tara en Mackenzie.

Ek wil graag ’n nagapie hê. Hulle is wesens van die nag. Hulle is ook baie interessante diere uit ’n biologiese perspektief uit.

Dior se gunstelinge
  • Superheld Dit sal Spider-Man wees. Toe ek jonger was, het ek altyd in ’n Spider-Man-kostuum rondgeloop.
  • Disney-prinses Prinses Merida van die fliek Brave omdat sy ’n kragtige, feministiese prinses is.
  • Skoolvak Biologie. Ek hou daarvan om te leer oor die wetenskap van die lewe en hoe die komponente van die lewe werk.
  • Somer of winter? Somer, want ek geniet dit om te swem en buite te wees.
  • Instagram of TikTok? TikTok, want dis ’n baie kreatiewe app.
  • Monster in my kas is Sondag 25 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe