Justice League
Aksie. Met Henry Cavill en Ben Affleck. Regisseur: Zack Snyder. Begin op 17 November.

Waaroor handel die fliek?

In dié opvolg van Batman v Superman: Dawn of Justice (2016) word Bruce Wayne, oftewel Batman, se geloof in die mensdom herstel. Superman se onbaatsugtige dade inspireer hom. Hy begin saamwerk met Diana Prince, oftewel Wonder Woman, en stel ’n span superhelde saam om ’n groot vyand aan te vat.

Die leiers

Wonder Woman

Gal Gadot (32) hervat haar rol as Wonder Woman. “Diana dien as die gom van die span,” vertel die Israelse aktrise. “Sy ruim ’n oomblik in om elkeen in die span te ondersteun, en laat hulle sterker voel of in hulself glo.”

Batman

Ben Affleck (45) keer terug as Batman. Dié keer kan hy nie op sy eie werk nie en moet hy ’n groep jonger helde lei. Boonop is hy die enigste een sonder superkragte.

Die booswig

Steppenwolf

Ciarán Hinds (64) van Game of Thrones-faam speel die vreeslose generaal Steppenwolf van die planeet Apokolips.

Pretfeite
  • Amber Heard (31) speel Mera, die koningin van Atlantis.
  • Aquaman, Cyborg en The Flash kry al drie hul eie solofliek. Aquaman word in 2018 uitgereik, en Cyborg en Flashpoint in 2020.
  • Zack Snyder (51) het in Mei uitgetree as regisseur ná sy dogter, Autumn (20), se selfdood sodat hy dit kon verwerk. Die Avengers-regisseur Joss Whedon, (53), het toe die leisels by hom oorgeneem.

Die nuwelinge

Jason Momoa
Aquaman
Die Game of Thrones-ster Jason Momoa (38) speel dié superheld, wat blitsvinnig swem en telepaties met die seelewe kan kommunikeer. Die aanvanklike regisseur, Zack Snyder, wou hê Aquaman moet ’n buitestander wees, vertel Jason. “Ek is in Hawaii gebore en het in Iowa eintlik as buitestander grootgeword; daarom kon ek beslis daarmee identifiseer. Aquaman se mitologie stem ook ooreen met my mense s’n.
Ray Fisher (middel)
Cyborg
Ray Fisher (30) speel Victor Stone, oftewel die bioniese superheld Cyborg. Ná ’n ongeluk red sy pa sy lewe deur die eksvoetbalster in iets tussen ’n mens en ’n masjien te laat verander.
Ezra Miller
The Flash
Dié superheld was ook in Suicide Squad te sien. Ezra Miller (25), wat ook in Trainwreck gesig gewys het, vertolk die rol.

BRONNE: SCREENRANT.COM, COMICBOOK.COM, HINDUSTANTIMES.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM

Only the Brave
Ware lewensdrama. Met Josh Brolin, Miles Teller en Jeff Bridges. Regisseur: Joseph Kosinski. 10-12OT. Het op 3 November begin.
Miles

Waaroor handel dit?

Vir enigeen wat al beeldmateriaal van woeste brande gesien of dit eerstehands beleef het, sal hierdie fliek onderstreep hoe wreed die natuur kan wees en hoe dapper mense hul lewe op die spel plaas om brande te bestry en lewens en eiendom te beskerm.

Hierdie aangrypende fliek vertel die verhale van Brendan “Donut” McDonough (Teller), wat besluit om sy lewe reg te ruk toe hy uitvind hy gaan pa word, en Eric Marsh (Brolin), die man wat hom ’n geleentheid gee om dit te doen.

Donut sluit aan by Marsh se span, Granite Mountain Hotshots, ’n brandbestrydingsgroep van die Amerikaanse deelstaat Arizona.

Die intrige volg hul pad van ondersteuningseenheid tot elitespan.

Ons mening - punt uit 5:4

Die ensemble akteurs, onder wie Taylor Kitsch en ’n uitstekende Jennifer Connelly as Marsh se vrou, maak hierdie warelewensdramadebuut oor familie, toewyding en tweede kanse deur die wetenskapsfiksieregisseur Joseph Kosinski (Tron: Legacy, Oblivion) ongetwyfeld die kyk werd. – LYNN ELY

Wat kom nog?




Coco

Animasie. Met Benjamin Bratt, Gael García Bernal en Renée Victor. Regisseurs: Lee Unkrich en Adrian Molina. Begin op 22 November.

Miguel se familie belet hom al jare lank musiek. Tog droom hy daarvan om ’n musikant te word nes sy held, Ernesto de la Cruz. Miguel is desperaat om homself te bewys en beland in die kleurryke Land van die Dooies, waar hy die ware verhaal van sy gesin se verlede ontdek.



Olaf's Frozen Adventure

Animasie. Met Kristen Bell en Josh Gad. Regisseurs: Kevin Deters en Stevie Wermers. Begin op 22 November.

Vir jong aanhangers van die trefferanimasiefliek Frozen is dié kortfliek van net 21 minute onontbeerlik. Dit word voor die fliek Coco vertoon. Elsa en Anna ontdek hulle het geen Kerstradisies in hul familie nie en hul pel Olaf onderneem dan ’n avontuur om een te kry.

DVD’s

Alexander Skarsgård (links) en Michael Peña in War on Everyone





War on everyone - Punt uit 5:4

Aksiekomedie. Die speurders Terry Monroe (Alexander Skarsgård) en Bob Bolaño (Michael Peña, foto) steel, gebruik dwelms en aanvaar omkoopgeld sonder om te blik of te bloos. Tog is hulle aangename ouens wat rassiste verpes en mal is oor kinders. ’n Chaos ontstaan toe hulle ’n kleinskaalse misdadiger wat hulle dink ’n groot rooftog beplan, probeer afpers. Skarsgård en Peña is uitstekend en die dialoog is met humor gelaai. – WILLEM MöLLER 2016. 98 MIN. 16TG.

Kristen Stewart in die drame Certain women





Certain women - Punt uit 5:2

Drama. Dié fliek, wat in die kleindorpse Amerika afspeel, bied ’n blik op drie vroue (Kristen Stewart, Laura Dern en Michelle Williams) wie se lewe kortstondig oorvleuel. Van die kyker word verwag om elkeen se gemoed uit te pluis deur te kyk hoe sy oor oop vlaktes of ’n ysige landskap tuur. Min gebeur, en die sterkste kinkel in die verhaal word eerste vertel. Dit laat jou vergeefs in die laaste twee derdes van die fliek hoop op verbetering. – LIZ DE VILLIERS 2016. 107 MIN. 13T.

DVD’S VERSKAF DEUR VIDEORITE, VISHOEK. VIND HULLE OP FACEBOOK.