Haar pad na die grootskerm 

Ashleigh (27) is in Kaapstad gebore.

Sy was agt van haar 12 skooljare in ’n kosskool in Grahamstad. Sy het twee derdes van die jaar daar en die res in haar ouerhuis in Kaapstad deurgebring.

“Ek neem aan jy kan sê ek is van Kaapstad én Grahamstad,” sê sy. Ashleigh het op agt haar eerste dramaklas bygewoon.

“Dis toe ek geweet het wat ek eendag wou doen, maar my loopbaan het eintlik eers begin toe ek Grahamstad verlaat het.”

Foto: Verskaf

Ná hoërskool is sy vir ’n jaar Los Angeles toe om aan die Stella Adler Acting Academy te studeer.

Met haar terugkeer na Kaapstad het sy ’n graad in finansies en ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.

Toneelspeel is in dié tydperk op die agtergrond geskuif. 

Sy’t in 2015 haar rolprentdebuut in die fliek Shark Killer gemaak teenoor die Amerikaanse hartebreker Derek Theler.

Sy het ook verlede jaar saam met die Sara Se Geheim-­aktrise Nicola Hanekom aan die teaterstuk Girls Just Wanna Have Fun gewerk en is nou te sien in die fliek Cut-Out Girls.

Nicola het die regie van die fliek behartig en ook die storie saam met haar man, Grant Swanby, geskryf.

Ashleigh woon sedert begin vanjaar weer in Los Angeles.

Familievas 

Sy is die laatlam in die gesin, die jongste van vier kinders. “Ek het besonder geseënde kinderjare ­gehad,” vertel Ashleigh.

“My ouers, Nico en Kim, is baie avontuurlustig, so my herinnerings as kind wissel van viertrekritte tot ski.”

Haar ma was nog altyd haar beskermengel en haar pa haar grootste ondersteuner, vertel sy.

“Hulle albei het my geleer om dankbaar en barmhartig te wees.” 

Rolmodel 

Ashleigh sê om saam met Nicola te kon werk het haar die meeste geleer oor aktrise wees.

“Sy is ’n fenomenale vrou wat regie behartig, skryf en toneelspeel. Ons het baie trane gestort toe ons saamgewerk het.”

Nicola het haar geleer om uitsonderlike diepte en waarde in toneelspel te vind en dit dan aan die wêreld oor te dra. 

Groot drome 

Hoewel Ashleigh tans op haar werkvisum in Los Angeles wag, keer dit haar nie om besig te bly nie.

Sy neem toneelspelklasse by die Amerikaanse akteur en rolprentvervaardiger Anthony Meindl se ateljee in Los Angeles en is besig met skrywers­klasse by die UCB-teater.

View this post on Instagram

Dreams, Dream, Dreams. ??

A post shared by ASHLEIGH VAN DER HOVEN (@ashleighvdh) on

Sy skryf ook tans haar eie webreeks.

“Ek wil dit graag verfilm en op feeste speel.”

Sy wil baie graag in Amerika bly en ’n rol losslaan in ’n komediereeks of ’n fliek wat die Amerikaner Judd Apatow, die man agter komedieflieks soos Trainwreck, vervaardig.

Haar ander liefde 

Ashleigh is nie net ’n aktrise nie, maar ook ’n kranige bokser.

Sy het vier jaar gelede begin boks, maar nog nie in die kryt meegeding nie.

“Ek het omtrent agt weke sonder toneelspeel nodig ingeval ek kneusplekke aan my gesig kry.” 

Pretfeite

  • Gunsteling-middernaghappie? Kaas op roosterbrood.
  • Jou luitoon op die oomblik? Michael Jackson se You Rock My World.
  • Laaste fliek wat jy gekyk het? Ocean’s 8.
  • Romantiese fliek of komedie? Romantiese fliek.
  • Teater of fliek? ’n Goeie teaterstuk. 
  • Enige geheime talente? Ek kan my ore vorentoe en agtertoe beweeg.