Om Toorbos so outentiek moontlik te laat lyk, het
Om Toorbos so outentiek moontlik te laat lyk, het die produksiespan diep in die Knysnabos geskiet. Vervaardigers het ook gewag dat teaters open sodat kykers die storie ten volle beleef. Foto: Fathom Media.

Dis ’n wonderwêreld wat voor jou op die grootskerm oopvou.

Die bos druis, oral kwetter voëls, en doer bo raak die wind aan die takke van die boomreuse waar blare ritsel. Jy is ín die Knysnabos, verbeel jy jou, en dis 1933.

En dít is hoekom die vervaardigers van Toorbos, ’n nuwe Afrikaanse fliek wat pas in fliekteaters begin het, nie omgegee het om keer op keer die uitreiking daarvan uit te stel nie.

Toe die inperking teaters maande lank gesluit gehou het, het die span agter die fliek volgehou: Mense móét dit in die teater sien, die storie belééf – nie net aanlyn of op die televisie nie.

Dit gaan ook nie net oor wat jy sien nie, sê die regisseur, René van Rooyen. 

“Ek is seker daar was nog nie klank soos dié in ’n plaaslike rolprent nie, want TheWorkRoom, wat die postproduksie gedoen het, het nog net aan internasionale produksies gewerk. As jy in die teater sit met klank wat jou omring, is dit net ongelooflik.”

Dis hoekom sy bly is dit is eindelik in teaters te sien. “My droom is dat ek mense wegvat na ’n plek wat hulle so lewend moontlik kan ervaar,” sê sy.

In Toorbos, gegrond op Dalene Matthee se roman, speel ’n liefdesdriehoek oor talle jare af, met Karoliena Kapp, gespeel deur die aktrise Elani Dekker, aan die middelpunt. 

Sy’s vasgekeer tussen twee wêrelde én twee liefdes – dié van ’n sakeman, wat nes sy ’n woudbewoner was, en dié van die Knysnabos self, haar tuiste.

Huisgenoot gesels met van die rolspelers wat dié roerende verhaal in sy eerste fliekverwerking laat herleef.

Agter die skerms

“Ek het jare gelede Dalene Matthee se voetpaaie deurgestap op soek na die beste plek om Toorbos te verfilm,” vertel René. “Ek het dié dele gesoek wat die digste en onaangeraakste is.”

Toe sy ná ’n lang soektog eindelik die perfekte kalanderboom kry, was sy in die wolke: Dié boom gee die fliek sy hart in die bos.

“Ons het nie buite die bos geskiet nie. Ons was regtig daar, diep in die woud,” sê sy. Vir die bostonele het die hele span in die winter van 2018 vier weke lank daagliks vanuit Knysna diep die bos ingery.

En daar was nie sprake van ’n maklike uitweg soek nie – ongeag hoeveel maal die outydse motors in die modder vasgesit het, of hoe moeilik dit was om die toerusting keer op keer moeisaam in die bos in te karwei.

Die gebrekkige selfoonsein het dit soms vir die produksiespan laat voel asof hulle self in die 1930’s leef, lag sy.

“Ons moes briewe van een plek na ’n ander stuur wanneer ons ’n boodskap wou oordra of ’n briefie los as een deel van die span êrens moes gaan sonder dat die ander daarvan weet.

“Soggens wanneer ons deur die bos gestap het om te gaan verfilm, kon jy niks sien nie. So jy sien net hierdie groep mense wat met flitse of hul selfoonliggies deur die reënerige en mistige bos stap. Dit was magies,” sê René.

Die dorpstonele is onder meer op McGregor in die Wes-Kaap en Cullinan buite Pretoria verfilm.

Al is die rolle wat hulle vertolk uitdagend, het E
Elani en Stiaan het tydens verfilming in die regte lewe begin uitgaan. Foto: Fathom Media.

Al geniet die liefdesverhaal tussen Karoliena en Johannes Stander (Stiaan Smith) ’n bietjie meer aandag, kan aanhangers van die boek gerus wees dat die kernstorie en temas grootliks in die fliek dieselfde bly, sê sy.

“Die liefdesdriehoek was die belangrikste. Karoliena wroeg werklik tussen Johannes, wat ’n mens is, en die bos, wat hierdie spirituele entiteit is,” vertel René.

“Dít was die grootste ding: om die bos net soveel van ’n lewe en siel te gee as ’n karakter van vlees en bloed.”

Hoofkarakters

Die liefdesverhaal tussen Karoliena en Johannes is versterk deur die feit dat Elani en Stiaan, wat dié karakters speel, tydens die verfilming ’n werklike verhouding aangeknoop het – en die twee is steeds saam.

Die liefde het ook agter die skerms begin blom. El
Die liefde het ook agter die skerms begin blom. Elani (Karoliena Kapp) en Stiaan Smith (Johannes Stander) het tydens verfilming begin uitgaan. Foto: Fathom Media.

“Ek dink jy sien twee mense wat op die skerm verlief raak omdat hulle régtig verlief raak,” vertel René.

Om Karoliena op die grootskerm te speel was die grootste uitdaging nóg in haar akteursloopbaan, sê Elani. “Maar dit was ook die lonendste en lekkerste ervaring.”

Sy en die akteurs Ivan Abrahams (Bothatjie), Ira Blanckenberg (Meliena Kapp) en Gretchen Ramsden (Hestertjie) het veral hard gewerk om die aksent van die bosbewoners onder die knie te kry.

Ira Blanckenberg (links) en Gretchen Ramsden as Me
Ira Blanckenberg (links) en Gretchen Ramsden as Meliena en Hestertjie. Foto: Fathom Media.
Clare Marshall speel Miss Macmaster.
Clare Marshall speel Miss Macmaster. Foto: Fathom Media.
Ivan Abrahams vertolk die rol van Bothatjie.
Ivan Abrahams vertolk die rol van Bothatjie. Foto: Fathom Media.

Die produksiespan kon nie op oudioweergawes van die aksent afkom nie en moes ’n ander plan beraam.

Toe Elani ’n ou akademiese studie aan die Universiteit Stellenbosch oor die dialek opspoor, kon René die draaiboek vir die akteurs foneties oorskryf. Hulle het toe met behulp van prof. Marth Munro van die Universiteit van Pretoria aan hul aksente begin skaaf.

“Die aksent is baie anders. Wanneer mense dit aanvanklik hoor, kan dit hulle dalk ’n oomblik neem om daaraan gewoond te raak,” sê Elani (22).

‘Ek dink jy sien twee mense wat op die skerm verlief raak omdat hulle régtig verlief raak’

Stiaan (37) se uitdagings vir sy rol het ietwat anders gelyk. Vir die fiere sakeman hoef hy nie ’n dialek aan te geleer het nie; hy moes werk aan hoe hy loop.

“Johannes is baie rustiger en loop regop. Ek is baie meer hiperaktief en lomp, en ek het hangskouers,” spot die akteur.

“So dit was vir my moeilik om Johannes hierdie statige mens te maak, want ek is net hierdie lummel wat om die hoek van die Spar bly!”

Klankbaan en kinematografie

Terwyl die akteurs op die skerm lewe in Karoliena-hulle geblaas het, moes die klankbaan, klankversorging en kinematografie die Knysnabos vir die kykers lewend maak.

“Ons wou hê mense moet die wind en modder en die tekstuur van die omgewing voel,” vertel die kinematograaf Brendan Barnes.

“Ons het dit wat die woud ons gegee het, omarm. Ons het nie ons idee van hoe dinge moet lyk op die bos afgedwing nie; ons het eerder die bos toegelaat om sy essensie met ons te deel,” sê hy.

Die fliek se regisseur, René van Rooyen (regs), en
Die fliek se regisseur, René van Rooyen (regs), en die aktrise Elani Dekker tussen tonele. Foto: Fathom Media.

TheWorkRoom het al die klank in postproduksie versorg om seker te maak dat dit so outentiek moontlik klink en om die kyker in die karakters se leefwêreld te plaas.

Onder die rits pryse wat dié Kaapse klankproduksiemaatskappy al ontvang het, tel twee Emmys vir uitmuntende klank in ’n televisiereeks.

Daarmee saam moet die oorspronklike musiek deur die komponis Andries Smit die hartsnare roer.

“Ons het met René gesels oor haar visie vir die rolprent en die musiek,” vertel Andries. “Die hele tema was organies, rou, grof en spesifiek dat die bos moes ‘asemhaal.’ ”

  • Lees ook Huisgenoot se resensie van Toorbos hier.
Interessante feite
  • Die Knysnabos is in ’n nasionale park geleë en daar is streng reëls oor waar ’n mens mag verfilm. Belangrike dele van die fliek is daarom in presies dieselfde omgewing verfilm as waar dele van die oorspronklike fliekweergawe van Fiela se kind (1988) verfilm is.
  • René het ses jaar lank aan die draaiboek gewerk.
  • Die klankbaantoesighouer, James Matthes, het eendag grappig op ’n bottel begin blaas terwyl Andries besig was om te komponeer.
  • “Uit nuuskierigheid het ons dit opgeneem en daardie opname het ’n groot deel van die bostema op die klankbaan geword. James kry as ‘bottelblaser’ krediet aan die einde van die fliek,” vertel Andries.
  • Behalwe ’n paar tonele waar ’n montering gebruik is om ’n bietjie meer stabiliteit te verleen, is die meeste van die fliek met die kamera in die hand verfilm. Brendan verduidelik dat hulle op dié manier die storie uit Karoliena se oogpunt wou vertel.
  • Dit is die tweede vollengtefliek waarvoor René in die regisseurstoel sit. Sy was ook in 2015 die regisseur van die rolprent Mooirivier.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.